DEUR MILANIE VOSLOO
Die mooiste mense wat ek ken, is mense wat stukkend is. Of stukkend was. Dit is mense wat flenters geslaan is deur die lewe, bittere pyn en hartseer beleef het en vele uitdagings moes oorkom – en steeds op ’n manier opgestaan het. Dit is mense wat iets kosbaars in hulle het. Hulle dra ’n andersheid in hulle, wat lig, vrede en ’n diepe vreugde oor die lewe self uitstraal.
LEES OOK: Ek dink vandag aan jou
Wanneer stukkende mense in hul broosheid treur en met naakte eerlikheid die skerwe van hul lewe in totale afhanklikheid in God se hande plaas, ervaar hulle dat hulle, ongeag die nie-verstaan daarvan, in dié tyd vasgehou word deur die Een wat saam met hulle huil. Hulle sien iets van ’n liefdevolle God, wat in elkeen se unieke Getsemane saam met hulle kniel.
En daar, in hul stukkend wees, doen God iets wonderliks: Hy maak hulle mense wat anders geword het.
Mense wat vanuit hul wonde en skerwe-wees-lewe deur sy genadeseën aangeraak word. En wat dan, op ’n manier, met nuwe oë en ’n ander hart na hulleself, na ander en na die wêreld kyk.
Nou het hulle nie bloot deernis vir hulleself nie; hulle kyk ook met groter begrip en meer empatie na ander.
Die wonder van mense wat hul reis vol pyn en trauma saam met God afgelê het, is dat hulle, ongeag die feit dat hulle steeds soms bloei en soms weer vol twyfel ronddobber, tog met groter aanvaarding leef. Dat hulle met groter vertroue en dankbaarheid na die lewe kyk. Dat hulle pyn en vreugde vanuit God se perspektief kan sien.
Dis asof die Vader in sy alwetendheid hul flenters, op sy tyd en sy manier, aan mekaar heg. Maar Hy smeer nie die krake toe nie; Hy laat die gapings oop bly.
Nou skyn sy lig daardeur. En dít maak hierdie mense mooi. Dit maak hulle sterker. Dit maak hulle ook sagter en genaakbaarder. Dit maak hulle wyser, met groter begrip en meer deernis teenoor ander.
Hulle is nou dapperder, ja, maar op ’n manier tog ook weerloos in hul afhanklikheid van hul Vader. Dikwels het hulle steeds nie antwoorde op al die gebrokenheid nie. Maar hulle leef nou met die vrede dat God in beheer is. Daarom kyk hulle weg van wat hulle verloor het en sien dankbaar raak wat hulle oorhet. Hulle leef as ’t ware die lewe bewustelik “raak”.
Jy kan vandag dit weet: Jy hoef nie noodwendig altyd dankbaar te wees wanneer jy pyn ervaar nie. Maar jy kan, saam met die groot Heler, op so ’n manier heel word dat jy ná jou pyn met dieper dankbaarheid en groter vrede en vreugde kan leef.
Jy kan nou só leef dat ander mense sy lig in jou kan sien en dit deur jou krake kan beleef.
Gekraakte mens
Here, dis maklik om U te loof en te dank
wanneer die lewe my hart lig en goed laat voel.
Maar, Vader, dis bitter moeilik
om u hand vas te hou en dankbaar te wees
wanneer my hart se skerwe die wêreld vol lê.
Wanneer niks meer sin maak nie.
Wanneer die donker ongenaakbaar om my vou.
Dankie dat U my dan nie los nie,
maar op u wonderbaarlike manier weer
die stukke van my lewe aan mekaar plak.
Dat U my ’n ánder soort kleipot-mens maak.
’n Weerlose, wyser en sagter mens.
Vandag vra ek: Moenie die gapings
tussen die skerwe van my hart toesmeer nie.
Nee, hou die krake net so oop.
Want dan, Here, kan ek vanuit die stukkend
ánders wees.
Omdat u sagte liefde
nou helder deur my skyn.
Uit die Bybel
“Here, U het my beskerm en my gehelp. U het my sterk gemaak toe U my gebed beantwoord het. U maak die grond gelyk onder my, my voete sal nie swik nie” (2 Sam 22:36-37).