DEUR SIMONE GAUCHE; FOTO’S: EMILY BUNTING
“En nou doen ek ’n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen” (Rom 12:1).
Hoe verstaan ons dit?
LEES OOK: In die donker van ’n kruisiging vind ons verlossing
Dit is ’n ou, ou vraag.
Die Bybel begin met die storie van hoe sonde ons van God vervreem. Hoe sonde uit die staanspoor die verhouding tussen God en mens verwoes het. En reeds aan die begin ontstaan die vraag: Hoe word ons weer met die heilige God versoen?
Hoe lyk offers vandag?
In Lydenstyd het ek uit Levitikus gelees. En ek het weer eens daaraan gedink wat dit destyds alles behels het om God se guns te soek in die eeue voordat Jesus aarde toe gekom het. Dié nadenke het ’n besonderse diepte aan my ervaring van Lydenstyd gegee.
Ek het onder meer gelees: “Ek is die Here julle God. Wy julle aan my diens en wees heilig, want Ek is heilig (Lev 11:44).
En ek het gewonder: Hoe word die sondige mens heilig?
Die Ou Testament is duidelik hieroor. Die gelowiges moes offers bring, en daarmee moes die priesters hulle help. Daar was allerhande soorte offers: dié om dankie te sê, om jammer te sê, om fees te vier. En daar was offers om versoening tussen die gelowiges en God te bring. Brandoffers, graanoffers, maaltydoffers, sondeoffers en skuldoffers – dit was die manier waarop die verhouding met God gebou en in stand gehou is.
Levitikus leer ons van die reëls en voorskrifte en rituele. Van die diere wat moes sterf om ons te herinner aan hoe ernstig sonde is. Dit moes op ’n manier tot die mens deurdring dat die dood die uiteinde van die sonde is.
Maar dit was ’n tydelike reëling. God wou die skeiding tussen Hom en sy kinders volkome uit die weg ruim. En die enigste moontlikheid was Jesus Christus. Hy was die Heilige Offer. Hy het alle ander offers vervang, eens en vir altyd. Hy, die Lam sonder gebrek, het met sy lewe betaal om ons met God te versoen.
Toe Hy op Golgota sterf, het die voorhangsel in die tempel middeldeur geskeur. Die skeiding is opgehef. En ons het nou toegang tot die Allerheiligste. Ons kan dus met vrymoedigheid tot God nader. Ons het nie meer priesters nodig wat dit namens ons doen nie; Jesus is ons ewige Hoëpriester.
Lees wat sê dié Bybelskrywer: “Broers, ons het dus nou deur die bloed van Jesus vrye toegang tot die heiligdom, en dit op ’n weg wat nuut is en na die lewe lei. Hierdie weg het Hy vir ons gebaan deur die voorhangsel heen, dit is deur sy liggaam” (Heb 10:19-20).
Wat beteken dit in die tyd ná Jesus se opstanding dat ek my as ’n lewende en heilige offer moet gee wat vir God aanneemlik is?
Die waarheid is dat ons ook nou priesters is, omdat ons toegang tot God het deur Jesus ons ewige Hoëpriester. Ons huis is nou ’n tempel en elke ete is ’n offermaal, ’n feesmaal saam met God. Ons tafel is die altaar waarop ons brood breek en God daarvoor dank. Dit wat ons dink en sê en doen, is die wierook wat brand.
En só versprei die geur van God waar ons ook al gaan. Die heilige grond is nie meer in die Allerheiligste nie, maar oral waar ons ons bevind.
En hierin lê die wonderwerk van die opstanding: dat ons deur Jesus Christus, ten spyte van wie ons is en wat ons gedoen het, onsself as lewende en heilige offers kan gee wat vir Hom aanneemlik is.
- Simone Gauche is ’n mamma en ’n mediese dokter wat in die staatshospitaal op Mosselbaai werk.