Sy is die dogter van ’n legendariese sakereus. Maar deur die jare het sy haar eie paadjie as sakevrou en suksesvolle TV-aanbieder oop getrap. Sy het ’n lekker humorsin, sy is eerlik. Sy weet dat skoonheid dieper lê as dit wat ’n mens kan sien. En toe doen haar pa Covid-19 op …
DEUR FRANCINE PRINS; FOTO’S: SALOMIEN SMAL; STILERING: CARISSA BOSMAN
Dit het gevoel asof my hele lewe tot stilstand kom.” Clare Wiese-Wentzel maak haar oë toe, sy sluk aan die knop in haar keel. ’n Ruk lank hou die stroom woorde op wat gewoonlik so maklik en so spontaan uit dié 37-jarige vrou se mond borrel. “Ek onthou so goed toe my pa gebel het om te sê dat hy Covid-19-positief is,” vertel sy. “Hy het siek gevoel, en sy toestand het later só versleg dat my man Marco hom hospitaal toe moes neem. My ma Caro het toe ook Covid-19 gehad!”
Panic Mechanic
Christo Wiese is einde Junie vanjaar byna drie weke lank gehospitaliseer. In daardie tyd het Clare ’n WhatsApp-groepie met haar vyf beste vriendinne gevorm. “Ons het elke dag vir my pa gebid,” vertel sy. “Saans was die ergste, want ’n mens weet nooit wat die dokter die volgende oggend gaan sê nie. Maar ons het soveel wonderlike getuienisse uit hierdie tyd ontvang! “Ek glo daaraan om die Here spesifieke dinge te vra. Daarom, sodra die dokters gesê het wat alles nog in my pa se liggaam moet herstel, het ons spesifiek daarvoor gebid. “En elke keer is ons gebede beantwoord. Eintlik méér as beantwoord, met die goeie herstel wat plaasgevind het. Toe my pa weer by die huis kom, het hy ’n stemnota op die WhatsApp-groepie gelaat om dankie te sê vir die gebede. Dit was spesiaal. “Ek glo ook dat daar krag in ’n mens se woorde lê. Ek het besef dat ’n mens nie die Here vir genesing kan vra en dan steeds bang is dié persoon gaan sterf nie. As jy op God vertrou, moet dit in jou woorde weerspieël word.”
Clare vertel dat sy die een in die familie is wat altyd oor alles stres. “Ek is die panic mechanic!” lag sy. “Ek neem daardie rol ten volle op my.” “Ek het hom elke dag gevra of ek vir hom kan bid, en dan bid ons saam. “Ek dink ek het hom soms geïrriteer met die klomp kere wat ek gebel het om te vra of hy oukei is. Hy was natuurlik altyd kalm, hy het net gesê die Here ‘het’ hom.” Clare het vir hom ’n speellys met gospelmusiek opgestel. “My pa het gesê dat die liedjie ‘How great thou art’ van Carrie Underwood veral baie vir hom beteken het.” Sy het ook handgeskrewe briefies hospitaal toe gestuur, en ’n klomp boeke wat hy kon lees. “Positiewe boeke wat sy gees sou lig,” vertel sy. “En ek het die woorde ‘Be still and know that I am God’ op papier laat druk sodat hy dit teen sy hospitaalvenster kon plak.”
Die werklikheid
Clare het haar skoolloopbaan aan die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad voltooi. “My ouers het ons doelbewus nie na ’n elite-privaat skool gestuur nie, sodat ons in voeling met die werklikheid sou bly. En sodat ons toegang tot invloede uit die res van ons land kon hê.” Ná skool het sy haar as joernalis aan die Universiteit van Westminster in Londen bekwaam. Sy het ’n internskap by Marie Claire gedoen, en toe as junior kopieskrywer by House and Leisure gewerk. Daarna het sy ’n LLB-graad aan die Universiteit van Kaapstad verwerf. “Ek wou self ’n firma soek om my klerkskap te doen; my pa het nie daarvoor toutjies getrek nie. Ek was ’n bietjie laat met my aansoek, maar het uiteindelik drie jaar lank by die firma Bowman Gilfillan gewerk.”
LEES OOK: Gouemedaljewenner Anruné: ‘Ek eer God vir wat Hy in my en my pa se lewe gedoen het’
Nee, sê sy, sy is nie ’n entrepreneur nie, want so ’n persoon bou ’n onderneming van die grond af op. Sy het immers haar pa se loopbaan van baie naby af aanskou. “Ek sal wel graag een wil wees,” gee sy toe. “Daar is nog baie wat ek moet leer. Maar ek hét darem reeds baie dinge geleer.”
Mooimaak
Sy is inderdaad goed daarmee om dinge te begin. En as jy die storie agter Mooimaak hoor, weet jy dat sy ook volop deursettingsvermoë het. “Dit het ’n jaar geduur om die program reg en op die lug te kry, maar dit was regtig bevredigend.” Clare moes self gaan borge soek, self uitpluis hoe die vervaardiging van ’n TV-program werk en hoe al die elemente bymekaar kom. Toe eers kon sy en die span die deelnemers kies vir dié program wat poog om “’n holistiese benadering tot mooi maak te volg”. Sy vertel oor die deelnemers, oor hul swaarkry en hul versugting om ’n nuwe begin te maak. “Ons kies natuurlik mense wat reeds ’n pad gestap het om innerlike genesing te probeer vind. “Dan is dit asof Mooimaak hulle net daardie laaste hupstootjie gee om uiterlik te wys wat reeds in hulle gebeur het. “Ons fokus op meer as bloot voorkoms. Ons het byvoorbeeld ’n vrou wat lank op straat gewoon het se hele huurwoonstel laat meubileer én haar kombuisie uitgerus met onder andere ’n yskas. En ons kon ’n ander deelnemer help om die garage waarin sy woon in ’n tuiste te omskep.” Clare se oë blink wanneer sy die stories vertel oor hoe Mooimaak mense se lewe ten goede verander. “Daar is baie hartseer in hierdie lewe, en ek besef telkens weer hoe gelukkig ek is om só beskermd te kon grootword. “Ek het baie empatie met mense wat swaarkry. Dis dus baie bevredigend om te sien hoe sulke mense weer kan blom omdat ons hulle deur Mooimaak kon help.”
Doelbewus dankbaar
Clare het soms haar vriendinne se hulp ingeroep om hul moue op te rol en met Mooimaak te kom hand bysit. “My vriendin Lara van Dyk, met wie ek al vriende van Sub A af is, het dikwels kom help.” Hoe hou Clare haar voete op die grond? Hoe kry sy dit reg om nie in ’n afgesonderde borrel van rykdom en glans te leef nie? Die antwoord kom vinnig en is eenvoudig: “My vriende en familie.” Sy vertel dat die meeste van haar vriende al sedert haar laerskooldae saam met haar kom. “Hierdie vriende, vir wie ek baie lief is, speel ‘n groot rol in my lewe. Dis mense met goeie waardes, dis mense wat nie omgee of jy met ’n Opel of ’n Porsche by hulle aankom nie.” Die Wiese-familie is baie geheg aan mekaar. Christo en Caro se kinders – Jacob, Christina en Clare – bly almal net ’n klipgooi van mekaar. Daar is ook die kleinkinders: Jacob en Ty se dogters, Bardot en Storm. En klein Christo van Christina en haar lewensmaat Dylan Fell. Clare weet ook wat die waarde daarvan is om doelbewus dankbaar te wees. “Elke aand voor ek gaan slaap, dink ek aan al die dinge waarvoor ek dankbaar is.” Eensklaps bars sy uit van die lag. “My man spot my en sê: ‘Clare, dis nou soos daardie komplimente-game van jou!’” Sy verduidelik hoe dié speletjie werk. “Wanneer iemand verjaar, noem ons almal drie dinge van daardie persoon wat ons waardeer. Dit laat die persoon spesiaal voel. Sulke lysies help ons om anders oor die lewe te dink. Daarom maak ek elke dag my dankbaarheidslysie. “Dis ook iets wat ek by my pa geleer het – om dankbaar te wees. “’n Mens kan so vinnig kwaad word vir ander. En dan is jy bloot ’n gevangene van jou gevoelens. Jy is nie vry nie.”