DEUR RITA LI
“Jy is goed genoeg.”
Dis woorde wat elkeen van ons iewers in ons lewe hoor. Of dan móét hoor. En beslis smag om te hoor.
As plaasmeisie van die klein dorpie Clocolan in die Oos-Vrystaat was die wêreld aan my voete. Die omgewing was mooi, die gemeenskap wonderlik, my ouers en gesin fantasties, my drome groot.
Ek het vroeg reeds kennis gemaak met die wete dat ’n mens goed genoeg kán wees, al het niemand anders dit van jou gedink of gesê nie.
In graad 5 neem ek (eintlik die hele skool) deel aan ’n kunswedstryd; ek sing ’n solo. Die juffrou waarsku vooraf dat dit ’n groot kompetisie is en dat my stem nou nie eintlik so fantasties is dat ek ’n goue toekenning of iets soortgelyks moet verwag nie. Ek onthou ek het ’n FAK-liedjie gesing: “Liefste tannie, ons bring rosies.” Iets gebeur tydens my optrede – en die volgende dag pryk ek langs die hoofbeoordelaar in die plaaslike koerant. Ek word uitgesonder as een van die sterre van die kunswedstryd, met ’n A+++-toekenning.
In graad 6 beleef ek ’n groot teleurstelling toe die hoofleiers aangewys word en ek nie onder hulle is nie. My hart is stukkend. Maar ek oorkom die teleurstelling en aan die einde van graad 7 stap ek met talle toekennings weg – nie omdat ek so begaafd was nie, maar omdat ek gewerk en gewerk en gewerk het. Ek wou aan myself bewys – en ek wou ander oortuig – dat ek goed genoeg is.
LEES OOK: ‘Jy ís mooi, slim en goed genoeg,’ skryf Esté Gross in brief aan haar 16-jarige self
Daar sou heelwat teleurstellings op hoërskool wag: al die kere toe ek te kort was vir die span of nie mooi genoeg vir die dans nie. Die keer toe ek net-net nie die akademiese toekenning ontvang het nie en my punte nie goed genoeg was om keuring vir mediese studies te verkry nie.
En so het dit voortgegaan …
Deesdae moet ek myself gereeld daaraan herinner dat ek ’n goeie vrou, ’n goeie mamma en ’n goeie vriendin is. Dat ek goed genoeg is vir hierdie “vreemde” industrie wat ek as loopbaan gekies het. Dat ek nie strykplank-maer hoef te wees nie. Ek moet elke dag onthou dat ek goed genoeg is, want my Skepper het my gemaak presies soos Hy my wou hê.
Die wêreld is gebroke, maar die standaarde is hoog. Daar is mense wat ons beoordeel asof ons aan ’n kunswedstryd deelneem. Ons vergelyk onsself met die Kate Middletons en Charlize Therons en die Mejuffroue Suid-Afrika – en vergeet dat iemand soos Nelson Mandela die Nobelprys vir Vrede ontvang het. Nie omdat hy noodwendig aantreklik of briljant was nie, maar omdat hy daarna gestreef het om soos Jesus te wees. En dít was goed genoeg. Hy was net homself. Vol liefde, diep innerlike vrede en ’n behoefte daaraan om goed te wees vir ander.
Wat laat jou goed genoeg voel?
Ons almal is op ’n eie reis, besig met eie worstelinge, ’n soeke na aanvaarding. Ons koester eie begeertes en eie drome. Myne is dalk anders as joune, maar dit beteken nie dis beter of slegter nie. My seer is nie minder of meer as joune nie. My drome en ideale is nie beter of groter as joune nie. Maar dis myne. En dit is goed.
Dis ook my getuienis én my oproep vandag: om elke dag op te staan, dankbaar te wees vir nog ’n dag se geleenthede om lief te wees vir jouself, vir jou gesin en jou naaste. En om God se liefde en hoop verder as jou eie binnekring te verkondig. Dit was sy opdrag.
Ek werk elke dag met oorgawe aan myself. En, nee, dis nie altyd maklik nie. Maar een ding weet ek: Omdat ek myself gee, net soos ek is, is dit goed genoeg. Ek sukkel wel soms om dit self te glo …
My hartsbegeerte is dat jy dit van jouself sal glo. Dat jy sal glo jy is goed genoeg net soos jy is. En hier is ’n wenk: As jy sukkel om dit te glo, vra iemand om saam met jou die pad te stap en jou daaraan te bly herinner. Op ’n dag word dit dalk makliker om dit te glo.
- Rita Li is ’n Suid-Afrikaanse musikant en liedjieskrywer. Sy is die aanbieder van ’n aanlyn program en sy is ’n fisioterapeut. Sy en haar man en twee seuntjies woon in Pretoria.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.