DEUR LENTE SWIFT
Tóé was ek arrogant. Daai soort arrogant wat jy slegs in volkome onkunde kan wees. Ek was die perfekte ma. Om die waarheid te sê, ek was nog nooit wéér so ’n goeie, bekwame, saggeaarde, in-beheer-ma met opvoedkundige speelgoed en antwoorde vir elke vraagstuk soos vóór ek kinders gehad het nie. My denkbeeldige kinders het immers nooit TV gekyk nie, hulle het nooit gemors nie, hulle het vir seker nie tantrums in Woolies gegooi nie en behoed hul siele as hulle dit ooit sou waag om van my af weg te hardloop. Ek het natuurlik ook nooit op hulle geskree nie. Boonop was ek oortuig ander ma’s is tog so deurmekaar, lui en onversorgd, hulle kan nie beplan nie en hulle kan gerus ’n klein bietjie harder probeer …
Daar is genadiglik niks wat jou so vinnig aarde toe bring soos ’n babatjie nie. Ek moes, soos elke ma voor my en elke ma wat ná my gaan kom, vinnig leer om al my vooropgestelde idees te laat gaan. Ek moes die prentjies wat ek geskets het van wat ek dínk moederskap is, opskeur en weggooi en ruimte maak vir die werklikheid daarvan. ’n Werklikheid wat baie swaarder en duisend keer soeter is as wat ek ooit kon droom. Ek moes die waarheid oor moederskap leer: dat die crafts en skoon klere, die lysies en die perfekte-gesin-speletjie die maklike deel is. Dat dit baie groei sou kos om die ma te word wat my kinders nodig het. En dat die moeilike deel sou wees om my hart, my gedagtes en my wese te laat oopbars om plek te maak vir meer liefde om deur my te kan vloei.
Ek moes leer oor krag wat ek nie geweet het ek het nie, en vrese wat ek nie geweet het bestaan nie. Ek moes leer dat hoe ek my kinders behandel ’n direkte impak het op wat hulle oor hulleself glo. Dat wat ek vir hulle sê hul interne dialoog sal word. Ek moes leer dat emosioneel veilige kinders belangriker is as my eie ego, en hul geluk belangriker as myne. Dat daar min dinge is wat karakter bou soos moederskap … en dat daar ook min dinge is wat jou laat lag en huil soos moederskap.
Ek het ontdek daar is vreugde en ’n spesiale soort betowering wat opgesluit lê in elke dag en in ’n oomblik in tyd saam met jou kinders. Dat ek genoeg is, verál op dae wat dit vir my voel of ek uitmekaarval, want dis gewoonlik dan wanneer my kinders na my kyk deur die sagste en liefste lense en die suiwerste deel in my raaksien en vertrou. Ek het ontdek dat perfeksie nie inspireer nie, en beslis nie ’n maatstaf moet wees van enigiemand se moederskap nie. Dat die dae lank is, o liewe genade, die dae is meestal bitter lánk. Maar ek kyk na my kleuters en mis reeds die gevoel van hul babalyfies wat ek deesdae sukkel om te onthou … Die jare is só kort.
Nóú dra ek ’n bolla op my kop, en ’n ekstra groot sonbril en ’n ekstra pak wet wipes met my saam. Nóú eet my kinders soms sweets voor aandete en hulle hardloop vir my weg in Checkers. Ná 5 jaar en 2 maande van ma-wees het ek steeds nie hul volumeknoppies gevind nie en dalk kyk ons party dae meer TV as wat ons tegnies moet. En ek skree. En dis oukei. Daar is genoeg genade en krag vir vandag. Ek moes ’n ma word, en moeg word, om uiteindelik tot die besef te kom dat ons nie moeg is van te veel doen nie, ons is moeg van te veel vóél.
Dít is die gewig van moederskap – die verantwoordelikheid wat ons tot in ons diepste wese vóél. Dít is wat jou die beste mamma vir jou kinders maak – jou hart en liefde en lewe, jou breinspasie en al jou krag. Soms is ons kapasiteit baie en soms is dit min, maar altyd is wie ons is genoeg. Meer as genoeg. En presies net wat jou kinders nodig het om te floreer: jou hart! Altyd net jou hart.
- Lente Swift is een van die kernlede van die Naguilklub – \’n digitale “inspirasie-stasie” vir ouers. Soek na die Naguilklub op Facebook of besoek www.naguilklub.com vir meer inligting.