Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

‘Jy ís mooi, slim en goed genoeg,’ skryf Esté Gross in brief aan haar 16-jarige self

Liewe Esté

Jy is nou sestien, ’n perfeksionis, presteerder en vreesbevange om ’n fout te maak. Toemaar, wees gerus, jy gaan nog baie foute maak, en weldra leer dat die afdraaipaaie soms die meeste sin maak, jou die gelukkigste maak.

Jy dink miskien nou jy is nie goed genoeg, mooi genoeg of slim genoeg nie, maar jy gaan nog leer dat jy sonder werkwoorde en byvoeglike naamwoorde, meer as genoeg is.

Hou moed, die selfopgelegde druk wat jy op jouself sit, is ’n juk wat jy sal afgooi namate jy leer om meer genade met jouself te hê. Selfkastyding bring niemand enigiets in die sak nie.

Iewers op jou pad wat jy so rusteloos oor duine en sandstorms sonder ophou hardloop, sal jy eindelik, soos almal, voor jou eie brandende bos in die woestyn te staan kom.

Soos Moses staan ’n mens voor die Here met ’n roeping, ’n brandende passie in jou hart wat jou nie los nie. Die Here verwelkom jou daar met ope arms. Vir Hom is jy mooi, witgewas soos wol.

Net soos Moses herinner die Here jou dat Hy ’n plan met jou lewe het, dat Hy jou drome vir ’n rede gegee het, maar jy raak ook stotterend en stamelend, vol verskonings waarom jy nie goed genoeg is om jou roeping uit te leef nie.

Onthou jy die kere wat jy tydens redenaars of ’n sangitem van die verhoog af gehardloop het? Jou vrese was toe al die tyd skimme, skadu’s teen die muur, soos Koos Doep sê.

Die Here sal jou voete van klei sterker maak, saam met jou weer op die verhoog stap, maar dit is ’n lang pad. Wees geduldig, jy is gans te haastig.

Die Here gaan helpers, Aärons op jou lewenspad stuur, mense wat jou sal help wanneer jy voor die faraoʼs in jou lewe te staan kom. Vriende, mentors en jou familie wat jou liefhet. Met die staf in jou hand en die Here aan jou kant, het jy niks meer nodig nie.

Daar gaan mense wees wat met kwetsende woorde jou gaan laat twyfel in jou drome. Moenie dat hulle woorde soos pyle in jou hart skiet nie: “Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorsprong van die lewe” (Spr 4:23).

Met God aan jou kant gaan jy nog in verwondering staan oor wat Jesus met die vyf broodjies en twee vissies in jou hande kan doen. Jy moet dit net vir Hom gaan gee.

Die Here Jesus sê: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Ek dink dit is die moeilikste opdrag – om jouself lief te hê, maar slegs dan sal jy ook ander volkome lief kan hê.

Liewe sestienjarige Esté, jy is geliefd en genoeg, en jy hoef niemand se guns te wen nie, jy het reeds alles, DIE EEN wat jy nodig het op jou lewensloop.

Die lewe se pad is vol klippe en afdraaipaadjies, maar die uitsig, vooruitsig en die ewigheid, maak als die moeite werd.

  • Esté Gross is ’n omroeper by Radio Pretoria, ’n rubriekskrywer en ’n sanger.
Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.