Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

‘Jy moet dapper wees in die laaste seisoen van jou lewe,’ vertel skrywer met terminale kanker


DEUR CONETTE LE ROUX; HOOFFOTO: ZOE SALZWEDEL

Madelein Rust sê dankie dat sy terminale kanker gekry het. Want, vertel sy, toe sy moes begin leer om haar sterflikheid in die oë te kyk, het minstens drie kosbare lesse vir haar ’n werklikheid geword:

* Die lewe is ontsaglik kort.

* Jy weet dalk nie wanneer nie, maar jy gaan vir seker sterf.

* As jy elke dag leef asof dit jou laaste dag is, sal jy dieper liefhê. Sal jy besef die probleme wat jy gister as onoorkomelik beskou het, eintlik niks is nie. Sal jy gouer vergewe en die mooi in die lewe meer waardeer.

Kortom: Die lewe sal ’n beter plek wees.

‘Daarom sê ek dankie’

Op 20 Januarie 2020 moes Madelein hoor sy het fase vier-borskanker, met metastase na die skelet. Dié soort kanker is nie jou speelmaat nie. In die laaste fase versprei dit vanaf die skelet na die organe, insluitend die brein. En indien daar te veel kalsium in jou bloed vrygestel word, kan ook dít jou doodmaak.

BESTEL DIE BOEK VAN VREES NA VREDE HIER.

Daarom, sê Madelein, sal die lens waardeur sy kyk nooit weer dieselfde wees nie. “Die liefde wat ek voel, is nou dieper en soeter; die waardering wat ek het vir alles wat goed is in my medemens, is veel sterker; die empatie wat ek het met die verkeerde dinge wat mense doen, is oneindig.

“Ek wens almal kan só voel! Dink net watter soort wêreld ons kon gehad het … Ek glo die Here het gesorg dat ek alles so anders beleef. En daarom sê ek dankie dat ek hierdie ongeneeslike soort kanker kon kry.”

Maar dis nie aldag pret en plesier nie, vertel dié 55-jarige veelsydige skrywer. Sy beleef elke dag erge pyn, en sy word bitter moeg. Haar heupe, bekken en rugwerwels is reeds deur die kanker aangetas. En daar word aanvaar dat dit intussen verder in haar skelet versprei het.

Sy moes ook ’n nege uur lange operasie ondergaan om haar regterheup te vervang omdat daar gevrees is dat haar femur deur die dungevrete wand van haar heupsok tot in haar bekken kon steek.

En daar is geen manier, sê sy, waarop bepaal kan word presies hoe lank sy nog gaan leef nie. “Ek is in die bevoorregte posisie dat my sterfdag dalk nog baie ver in die toekoms mag wees. My onkoloog is briljant. En my Here is immers die Groot Geneesheer.”

Van tragedie na triomf

Madelein vertel haar missie is om altyd tragedie in triomf te omskep. Daarom het sy die dapper besluit geneem om die tyd tot haar beskikking te gebruik om iets te skryf vir diegene wat aan ’n ongeneeslike of terminale siekte ly.

Madelein Rust sê dankie dat sy terminale kanker gekry het. Want, vertel sy, toe sy moes begin leer om haar sterflikheid in die oë te kyk, het sy leer leef asof elke dag haar laaste is.
“Al waarop ek hoop, is dat ek hierdie moeilike pad met waardigheid sal stap. Tot aan die einde, wanneer dit ook al mag wees. Ek het die Here aan my kant, en daarom weet ek dat dit so sal wees. Sonder Hom is ek niks,” vertel Madelein. Foto: Annemarie Wichmann

Dis nie die eerste keer dat sy hieroor skryf nie. Sy het ook in 2019 haar reis met fase drie-borskanker op ’n humoristiese wyse in die boek Kanker schmanker (LAPA) met lesers gedeel.

Destyds was die kanker in remissie – maar dié keer moes sy hoor dis haar laaste seisoen wat voorlê. Nou het Van vrees na vrede (Lux Verbi) die lig gesien. “Ek hoop dat dié boek praktiese idees en raad aan die lesers sal gee.”

Sy vertel verder: “Ek reken ’n mens moet voorbereid wees op jou sterfte en, of jy nou siek is of nie, jy moet dapper omgaan met die dinge wat in die laaste seisoen van jou lewe moet gebeur.

“Jy moet op die uitkyk bly vir maniere waarop jy monumente kan bou vir jou geliefdes, dit wil sê daardie dinge wat sal verseker dat hulle met trots en respek aan jou terugdink.”

‘Wanneer Ma met vakansie gaan …’

Madelein sê die titel van haar nuwe boek vang haar reis tot dusver perfek vas. “Ek was nog nooit bang vir die dood nie, maar ek was wel bang dat my man en kinders verskeur en verlore sou voel ná my afsterwe. En dat my eksekuteur sou agterbly met ’n boedel wat ’n nagmerrie is.

“Nou, nadat ek die dinge geïmplementeer het waaroor ek in Van vrees na vrede skryf, voel ek gerus dat die administratiewe reëlings wat met my afsterwe sal gepaard gaan in orde is.

“Daarby het ek vrede in my hart dat my mense sal weet ek is daarop voorbereid om na die plek te gaan waar daar geen pyn en geen trane is nie. Ek het seker gemaak daar is tallose maniere waarop hulle my lewe kan vier.”

Madelein vertel sy het die afgelope ruk moeite gedoen om “skeppies liefde” by elk van haar gesinslede te los. “My kinders het byvoorbeeld elkeen ’n tatoeëermerk op die arm, in my handskrif, wat dui op my liefde vir hulle.

“Nico (30) s\’n is in kode – want hy is ’n programmeerder – en dit beteken: ‘Ek is lief vir jou.’

“Tanya (32) s’n is ’n hartjie en ’n paar soentjies onder ’n vlinder, my gunsteling-insek. Elkeen het ook ’n sonneblom van metaal wat aan hul rekenaar hang. Die blommetjie kan oopvou, en binne-in staan: ‘Ek is lief vir jou.’

“Ek het ook vir elkeen ’n bedsprei gebrei waaronder hulle kan slaap. Vir my man Jaun het ek muurbehangsels gemaak waaraan hy my kan onthou.

“’n Skeppie liefde in hulle almal. Dit voel my ek sal daar wees vir hulle, al is ek nie meer daar nie …”

Madelein sê sy het hard gewerk om seker te maak hulle weet dat dit veel meer gepas is om ’n lewe te vier as om oor die verlies te rou. “Ek dink my gesin het nou berusting gevind. Ons praat deesdae van ‘wanneer Ma met vakansie gaan’ in plaas van ‘wanneer Ma sterf’.”

Haar raad aan diegene wat aan ’n terminale of ongeneeslike siekte ly?

Begin by die klein dingetjies. “Soos om absoluut eerlik met jou mense te wees oor jou situasie, en oor hoe jy voel. Al voel jy ook nie daarna om daaroor te praat nie.”

Sy het ook na daardie Bybelverse gaan soek wat ’n gesin sal herinner aan wat hul geliefde inwag “wanneer sy of hy die aardse dop agterlaat”.

Haar gesin moet tog nie rou wanneer sy sterf nie. “Dit was ’n vol lewe, wat in totale oorgawe na die volgende avontuur oorgaan.

“Al waarop ek hoop, is dat ek hierdie moeilike pad met waardigheid sal stap. Tot aan die einde, wanneer dit ook al mag wees. Ek het die Here aan my kant, en daarom weet ek dat dit so sal wees.

“Sonder Hom is ek niks.”

  • Madelein Rust se boek Van vrees na vrede word op Saterdag 3 Junie by die NG gemeente Oosterlig in Pretoria bekend gestel. Stuur \’n e-pos na rsvp@nb.co.za vir navrae.
Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF