LiG Tydskrif

Jy sál val … maar jy sal ook opstaan. Dis hoe jy leer

DEUR SIMONE GAUCHE

Ek en my man weet die afgelope paar maande reeds dat ons seuntjie sonder die kantwieletjies sal kan fietsry. Maar hy is ons versigtige outjie, die diep denker. En ons moet hom gereeld daaraan herinner dat hy moeilike dinge kán baasraak, dat hy bloot moet oefen. Dit verg aanmoedig en aanhits – maar uiteindelik stem hy toe dat ons die kantwieletjies afhaal.

Ons kon die vrees in sy oë sien toe hy daarna op sy fiets klim. Ek het gewens ek kon toe vir hom sê dat hy vir seker nie gaan val nie – maar natuurlik kon ek nie. Ek kon dit nie waarborg nie; die lewe wys ons dat ons die een of ander tyd wel gaan val. En, gelukkig, dat as ons nie val nie, ons ook niks sal leer nie.

LEES OOK: Wie in die donker loop …

Maar ’n gevallery maak seer, ongeag of jy van ’n fiets val of oor ’n uitdaging struikel en of iets anders die nerwe laat waai.

Hy hét toe geval, ons seun. En dit het mooipraat gekos om hom weer te laat probeer. Daar is trane gestort, stof afgeskud en knieë beter gesoen. Alte dikwels was hy na aan opgee. Hy het ons herhaaldelik gevra om tog weer die kantwieletjies aan te sit. Maar tog, bietjie vir bietjie en met aanhou probeer, het die vordering begin wys.

Eers kon hy net ry nadat ons hom ’n hupstoot gegee het. Maar toe leer hy hoe om self die opklim en vorentoe beweeg te bemeester. Daarna moes hy leer om die remme baas te raak, en uiteindelik hoe om ’n skerp draai te benader. Met rukke en stote het hy al die nodige vaardighede aangeleer. Die vreugde en trots op daardie gesiggie was iets om te aanskou!

Ná twee weke se gereelde fietsry lyk dit deesdae asof my seuntjie dit al jare lank doen. Almal moet hoor en sien dat hy sonder die kantwieletjies regkom, “soos ’n groot seun”.

LEES OOK: Wanneer mense nie van jou hou nie

Ons grootmense vind dit ook moeilik om te waag. Dikwels is dit ons vrese en ander emosies wat ons verhinder. Op die een of ander manier moet ons leer om daardie emosies te bowe te kom. Ons leer immers die meeste en die beste  wanneer die wiele spreekwoordelik “afkom”. Die herhaaldelike val-en-opstaan maak ons dapperder en sterker. En hoe meer ons dié oefening herhaal, hoe meer word dit tweede natuur by ons. Die geleerdes sê ons spiere “onthou” en dit het tot gevolg dat hulle later vanself reageer.

Die lesse wat my seuntjie geleer het, strek egter baie verder as bloot om sy fiets te kan ry. Hy het begin agterkom dat:

  • om te leer en te groei, moet jy waag. Jy moet bereid wees om te val. Net iemand wat nooit probeer nie, val nooit nie;
  • jy moet kan opstaan en weer probeer;
  • soms het jy ’n hupstoot nodig om te begin. Dis belangrik om mense in jou binnekring te hê op wie jy kan vertrou om jou te help en aan te moedig, veral ook wanneer jou emosies jou oorweldig;
  • sommige uitdagings word meer verteerbaar wanneer jy dit in kleiner, haalbaarder dele opbreek;
  • om te val, is seer. Maar dis deel van die proses. As jy waag, gaan jy val – dis ’n feit. Maar dis die lesse wat jy daaruit leer wat dit die moeite werd maak;
  • wanneer jy iets nuuts aanpak, sal daar dikwels oomblikke kom waarin jou moed jou begewe en jy wil teruggaan na hoe dinge aanvanklik was. Dis juis dan dat jy moet aanhou probeer;
  • alles in die lewe wat moeilik (en die moeite werd) is, verg oefening. En oefening, en nogmaals oefening.

Mag jy in hierdie jaar die moed hê om te waag, die moed om te val, en die moed om weer op te staan.

“Daarom gee ons nie moed op nie, maar al vergaan ons uiterlike mens ook, nogtans word die innerlike mens dag na dag vernuwe. Want ons ligte verdrukking wat vir ’n oomblik is, bewerk vir ons ’n allesoortreffende ewige gewig van heerlikheid” (2 Kor 4:16-17).

  • Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, en ’n mediese dokter wat in die staatshospitaal op Mosselbaai werk.
  •  Stuur jóú storie van hoop of getuienis in sowat 800 woorde na lig@tydskrifte.co.za

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.