Ons het onlangs by Keimond in die Oos-Kaap vakansie gehou. Een oggend vroeg hoor ek ’n voëltjie buite my venster roep. Ek staan op om te kyk watter voëltjie dit is. Dit klink of die geroep hier by my is, maar ek sien niks nie.
Ek loop uit op die stoep en stap nader. Dalk kan ek nou beter sien. Maar steeds sien ek niks. Die geroep word al hoe sagter; die voëltjie beweeg verder en verder van my af weg.
Later daardie dag, toe ons deur ’n markie stap, hoor ek weer dieselfde geroep. Maar steeds kan ek nie die voël raaksien nie. Ons ontmoet een van die plaaslike inwoners en ek vra hom of hy nie dalk weet wat die voël se naam is nie.
LEES OOK: ‘Mamma, kan Kersvader my die krag gee om te vlieg?’
Hy sê dit is die meitjie. Gou-gou vind ek hom in ons Sasol-voëlgids, en ek sien die pragtige groen-en-wit veredos. Ek lees hy het sy naam gekry juis oor die kenmerkende geroep.
Maar ek het die meitjie toe nooit self gesien nie.
Later het ek aan dié Jesuswoorde gedink: “Het julle oë, en sien julle nie? Het julle ore, en hoor julle nie? En onthou julle nie …?” (Mark 8:18). Ja, ons kyk na baie dinge in ons lewe, maar ons sien nie altyd nie.
Die feit dat ek nie die meitjie kon sien nie, maak hom egter nie minder werklik nie. Hy bestaan. Hy was, trouens, in daardie dae baie na aan my.
Ly ons dalk aan Anton se Sindroom?
Hoekom sien ons so min van dit waarna ons kyk?
Ek dink dis omdat ons so besig is, so aan die jaag van hiér na dáár, dat ons nie goed genoeg oplet na wat om ons aangaan nie. En so kyk ons ook vir God mis wanneer Hy Hom aan ons openbaar. Soms is Hy in die wind wat liggies oor ons vel streel, of in die mier wat ’n broodkrummel na sy sandhuis dra, of in die branders wat oor mekaar rol en op die strand breek.
Ons sien nie God se liefde in die omhelsing van ons kinders, of die glimlag van ’n vreemdeling, of die telefoongesprek met ’n geliefde wat ver is nie.
Ek het onlangs te hore gekom van Anton se Sindroom. Dit is ’n mediese toestand waar die slagoffers, wat heeltemal blind geword het, se brein hulle wysmaak dat hulle steeds kan sien. Dié arme mense besef hoegenaamd nie dat hulle nie meer kan sien nie; hulle ontken dat hulle blind is. En hulle oortuig hulleself op vele maniere dat hulle steeds kan sien.
Ek dink daar is baie mense, gelowiges, wat op ’n manier ook aan Anton se Sindroom ly. Ons besef nie hoe min ons werklik sien nie. Die skrywer EL Doctorow het dit baie akkuraat beskryf toe hy van die skryfproses gepraat het. Hy het gesê om te skryf is soos om jou motor in digte mis te bestuur. Jy kan eintlik net so ver sien soos wat die hoofligte jou wys, maar jy kan nietemin jou hele reis so aflê.
En ek dink dit is die groot gevaar in ons lewe: dat ons ons hele reis so sal aflê. Ons sig word dikwels belemmer deur allerlei afleidings en oppervlakkige take, en ons gedagtes word met ons bekommernisse en begeertes gevul. Te midde van die chaos om ons sien ons God nie raak wanneer Hy Hom aan ons sigbaar maak nie.
God is nie minder teenwoordig omdat ek Hom nie sien nie; net soos die onsigbare meitjie is Hy steeds teenwoordig. Hy roep, maar ons sien Hom nie.
Hoe kan ons dit beter maak?
Ons moet “oefen” om teenwoordig te wees, om ons pas stadiger te maak ten einde werklik te kan sien. As ons dit gereeld en deeglik genoeg doen, kan ons dit ’n gewoonte maak om God te sien – oral om ons, en in almal en alles om ons. Ons kán leer om die heilige in die alledaagse raak te sien.
Mag jy in hierdie Feesseisoen leer om alles so ’n bietjie stadiger te doen sodat jou oë God sal kan sien. Want, skryf Paulus, die Here se onsigbare eienskappe, ook sy ewige krag en sy goddelikheid, word van die skepping van die wêreld af in sy werke begryp. En dít is duidelik sigbaar (Rom 1:20).
- Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.