Ek het so ’n week gelede opgestaan met die wete dat God dit op my hart lê om hierdie getuienis te lewer oor sy almag en wonderwerke in my seun se lewe. Alle eer aan Hom, ons Verlosser!
Ek is op 19 getroud, pas nadat ek uit die skool is. Ons het ons eersteling gehad, ’n gesonde babadogtertjie, toe ek 21 was.
Dit was dus nogal ’n skok, én ’n groot vreugde, toe ek vyf maande later uitvind ek is weer swanger!
Dit was ’n normale swangerskap, hoewel my bloedsuikertelling soms nogal laag was. Ons het ’n seuntjie verwag.
Op 28 weke het die ginekoloog tydens ’n roetine-sonarondersoek ’n abnormaliteit in ons kind se hartjie bespeur. Daar moes etlike bykomende sonars gedoen word, en die pediater en ginekoloog het gereed gestaan.
Op 36 weke, op 29 Augustus 1997, is Johann gebore.
LEES OOK: ‘Die langste 13 uur van my lewe,’ – ma oor 11-jarige se hartoorplanting
Die pediater het net ná die geboorte my seuntjie ondersoek, en ons is na die kraamsaal oorgeplaas. Die dokter was heel tevrede met die kleinding se gewig. En met sy vordering; hy het al die mylpale bereik.
Maar ek sal nooit daardie volgende oggend vergeet nie toe die pediater, dr Lippert, die gordyne om my bed toetrek, my hand in syne neem en met trane in sy oë vir my sê hy is so verskriklik jammer.
Hy het gesê hy het net ná die geboorte nie enige abnormaliteite by die seuntjie opgemerk nie – maar intussen het sy toestand verswak. Ons moes dringend by ’n pediatriese kardioloog uitkom.
‘My kind sál lewe!’
Hierna was dit ’n behoorlike wipwa-rit. Die pediatriese kardioloog het maar min hoop gehad. Trouens, hy het gesê ons seuntjie sal nog enkele maande leef, dalk ’n jaar.
Ons pragtige babaseun is gediagnoseer met transposisie van die hoofvate, en met ’n enkel-ventrikel.*
Ek onthou hoe ek opgespring en geskree het: “Ons kind, my kind, sál lewe! God is groter as dit!”
Hy was tien dae oud toe die eerste hartoperasie op hom uitgevoer is. Ons was gebroke. My ouers het na ons eenjarige dogtertjie omgesien terwyl ek en my man beurte gemaak het om by die hospitaal te bly. Ons het verseg om ons seuntjie alleen daar te los.
Die operasie het byna nege ure lank geduur. Later het tyd nie meer saak gemaak nie.
Kommer. Angs. Bid. Herhaal. Hou die gang dop om te sien wanneer ’n dokter in ons rigting kom …
Die tweede aand in die chirurgiese intensiewesorgeenheid het ons seuntjie opgehou asemhaal. Daar was ’n slymprop wat nie wou padgee nie.
Ek onthou hoe die chirurg gehardloop het …
Bid en smeek, pleit voor God. Dit was al wat ons daardie aand gedoen het.
Maar hy het bly leef. My seuntjie se veggees en God se genade het hom gered.
Hy is die Here se kind
Dit was die eerste van drie groot opehartoperasies. Die laaste een is deur die bekende hartchirurg dr Susan Vosloo in Kaapstad uitgevoer.
My kind het bly veg, hy het deurgedruk. Daar was net pype en dreineringsmasjiene waar jy kyk. Hoe kyk ouers na hul pragtige seuntjie wat aan ’n ventilator gekoppel is, met masjiene wat vir hom moet asemhaal?
God het ons gebede verhoor en Hy het my kind gered. Selfs nadat die dokters gesê het daar is nie hoop nie, het Hy hulle verkeerd bewys.
Vandag is Johann 27 jaar oud. Hy werk by ’n logistieke maatskappy in George. Hy is gesond. Hy beskou homself as genees, al is sy hart “anders” as ander mense s’n.
Hy moet wel gereeld ondersoek word om te sien hoe sy hart reageer.
Hy is die Here se kind, met die mooiste, sagste geaardheid. Hy is altyd gewillig om te help.
‘Hy is aan jóú geleen’
Ek het die Here jare lank gevra: “Waarom mý seun?” Ek het selfs met Hom baklei.
Totdat ek eendag hiérdie woord van Hom ontvang het: “Jý, my kind, is as moeder uitgesonder om na dié spesiale seun om te sien. Hy is aan jóú geleen.”
En al wat ek kan sê, is: “Dankie, Here, dat U ons pragtige seun aan ons toevertrou het.”
Daar is soveel meer wat ek kan vertel oor God se wonderwerke in ons lewe, maar ek wou dié graag met ander deel. Dalk is daar iemand wat dit lees en wat hierdeur hoop kry. Luister maar: Ons dien ’n groot, wonderbaarlike, almagtige God!
*DR SUSAN VOSLOO verduidelik hierdie spesifieke harttoestand só: “Met transposisie van die groot vate vloei die suurstofryke bloed uit die linkerpompkamer, nie deur die aorta nie maar deur die longslagaar na die longe, om nóg suurstof by te kry.
“Op sy beurt vloei die suurstofarm bloed uit die regterpompkamer, nie na die longe nie maar na die liggaam. Dié siklus het tot gevolg dat die baba ál minder suurstofryke bloed in die brein en liggaam kry en ál blouer word. Daar is ook geen funksionele klep in die longslagaar nie. Die druk in die longe word te hoog omdat die linkerventrikel ewe veel bloed na die longe en na die liggaam pomp.
“Die druk na die longe moet 25% wees van die druk na die aorta, maar in hierdie geval was dit ewe veel. Dit is heeltemal te veel druk na die longe.”
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.