DEUR CONETTE LE ROUX; FOTO: HENNIE VAN LOGGERENBERG / OCTA5
Vir jare was die straat Anneline Jacobs (39) se “huis” en het sy in dromme gekrap om haar hongerpyne te probeer stil. Sy het selfs in ’n stadium by dwelmverslaafdes gewoon.
Maar sy ken ook van opstaan. “Ek het al so baie probleme in my lewe gehad, maar God het vir my hoop kom wys. Maak nie saak hóé moeilik dit met jou gaan nie, staan op en weet dat God by jou is en vir jou baklei. Jy kan kies om op te staan en vorentoe te gaan.”
LEES OOK: ‘Ek vind my krag in God,’ sê 71-jarige pleegma van drie agterkleinkinders
Anneline, wat op Newton in Wellington woon, het na jare se hartseer God leer ken en haar lewe het verander. Sy is vandag gelukkig getroud, maar het al twee swangerskappe verloor.
Toe sy egter uitvind haar twee jonger sibbe, nou ses en 13 jaar oud, woon steeds op straat, het sy besluit om hulle in te neem en te versorg.
“Ons sukkel finansieel, maar kos en geld is nie alles nie – liefde is,” glo Anneline. Sy is egter baie dankbaar vir Mosaic, ’n nie-winsgewende organisasie wat pleegma’s soos sy op finansiële en emosionele vlak ondersteun.
Vir Anneline gaan Kersfees oor ’n Seun met die naam Jesus: “Hy het gekom om ons van ons sonde te verlos. Op Kersdag gaan ons kerk toe om Jesus se geboorte te herdenk. Daarna vier ons as familie die dag saam by die huis.”
- Mosaic, ’n nie-winsgewende organisasie wat pleegma’s ondersteun, en fotograaf Hennie van Loggerenberg van Octa5 en sy vrou Katie het vroeër vanjaar (2022) Mosaic-pleegma’s regoor Suid-Afrika bederf deur hulle mooi te maak en gestileerde foto’s (vir die meeste van hulle ’n eerste) van elkeen te neem. Dié foto’s pryk nou in ’n koffietafelboek genaamd Hope lives here.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.