DEUR ENGELA DUVENAGE; FOTO’S: Me & May Photography
“Ek wil hê ouers moet weet dit gaan nie net in húlle huis so nie!”
Aan die woord is mamma-blogger Carla Lang, ’n prokureur wat ook vryskutwerk in die uitgewersbedryf doen. Deur haar gereelde en dikwels báie snaakse Facebook-inskrywings (sy het reeds meer as 16 000 volgelinge) en internetrubrieke #kouekoffie skryf sy oor die wel en wee (en juis die o, wee!) van ouerskap.
Haar eerste bundel #kouekoffie (Protea, 2021) het onlangs verskyn, met opskrifte soos “’n Oggend met 20 vingers, hondjiepiepie en roomys”; “Superprofessioneel”; “Net mens”; “Mamma, chill!”; “Brons is die nuwe goud” en “Die tyd stap aan”. Die kort hoofstukke word afgewissel met kommentaar wat deur lesers op die oorspronklike sosiale media-rubrieke gelewer is.
Die uitgewers beskryf die boek só: “As slaap en alleen piepie vir die voëls is, jy weke laas beenhare kon skeer, jy sukkel om in jou broeke te pas en push-up bra’s moet dra – en o ja, as jy gewoond is aan koue koffie – dan is hierdie rubriekbundel vir jou.”
________________________________________________________________________
ENGELA DUVENAGE het met haar oor dié lekker boek gesels, en oor ouerskap in die algemeen.
Hoe sou jy die boek in 25 woorde opsom?
Dit bied ’n humoristiese blik op die vreugdes en uitdagings van moederskap en vrouwees, deurdat ek die goeie én die moeiliker tye saam met my kinders neergepen het.
Vertel iets oor die boek se geskiedenis.
Dit het net gebeur. Ek was nog altyd lief vir skryf en lees. Nadat ek uit my voltydse pos bedank het en meestal tuis by die kinders was, het ek begin om oor my dae saam met hulle te skryf.
LEES OOK: LiGland reeks boeke vir Kinders
My eerste inskrywing was in 2019 op my persoonlike blad op Facebook, waar ek ’n klein groepie volgelinge het – vriende, kollegas, familie. Ná baie positiewe terugvoer het ek ’n aparte blad vir my rubrieke geskep. Die naam “#KOUEKOFFIE” het dadelik by my opgekom, want dis presies hoe dit is as jou kinders klein is: Jy kry nooit ’n koppie warm koffie of tee gedrink nie.
Danksy die joernaliste Willemien Brümmer en Gert van der Westhuizen het my rubrieke sedert 2020 elke twee weke ook op Netwerk24 begin verskyn, en ek plaas dit ook op my Facebook-blad. Weldra het Protea Boekhuis my genader en ’n boekkontrak aangebied, waaroor ek baie dankbaar is.
Hoe hoop jy sal die bundel die lesers raak?
Moederskap kan ’n alleenreis word, veral as jy dink dis net by jou waar dit só gaan. Dit help om te weet dat ander ouers ook dikwels sukkel. En dis waaroor ek skryf: die goeie dae wanneer ek soos Superwoman en Supermom voel, maar ook die ander dae wanneer alles net ’n chaos is en ek ernstig aan myself as ma begin twyfel. Ek wil hê ouers moet weet dat dit nie net in jóú huis so gaan nie!
Wat is die een wysheid oor ouerskap wat jy graag vir ma\’s (en pa\’s) wil oordra?
Hierdie is nie ’n boek met ouerskapriglyne nie. Ek probeer nie wyshede oordra nie; ek wil eerder ’n platform skep waar ma’s mekaar kan ondersteun.
As ek wel iets oor ouerskap moet sê: Hanteer elke kind verskillend. Aktiwiteite, kommunikasie, dissiplinering, roetine – al dié dinge moet volgens elke kind se unieke persoonlikheid aangepas word.
Wat is die een wysheid wat jy wens jy vooraf geweet het?
Om nie alles “volgens die boek” te probeer doen nie. Natuurlik is raad van kundiges, uit boeke en via Google soms nodig, maar uiteindelik is ek daarvan oortuig dat elke ma oor natuurlike instinkte beskik. Laat dít jou eerder lei. Kinders verskil van mekaar. Wat een boek voorstel vir kinders “in die algemeen” is dalk nie noodwendig reg vir jóú kind nie.
Wil jy mense deur die boek laat beweeg, of eerder laat besin?
Ek pen my avonture saam met die kinders neer omdat ek daarvan hou om te skryf, en tweedens omdat ek die herinneringe wil bewaar. Ek wil ons tye saam met die kinders só vasvang. Daarby hoop ek dit help ander ma’s om te besef hulle is nie alleen in hierdie ouerskapding nie. Ek dink nie my ouerskapstyl, dit wil sê my manier van kinders grootmaak, is die enigste of die regte manier nie. Dis wel die gepaste manier vir óns gesin.
Vertel van ’n stukkie hoop wat in die boek vervat word.
Ek weet dat my skrywe oor my miskraam vir ’n klomp vroue baie beteken het. Dis nie noodwendig iets waaroor daar sommer gepraat word nie, maar tog maak so baie vroue dit deur.
KYK: Irma en Jan-Jan Joubert oor politiek, deernis en dat ’n saak áltyd twee kante het
Ek hoop ek kon vir ander hoop gee deur my verhaal. Eerstens: Jy is nie alleen nie; en tweedens: Daar is altyd die hoop op ’n kind. Moenie ophou bid en glo nie.
Wat het jy in die skryfproses geleer?
Dat kinders eintlik vrek snaaks is. Jy sien dit nie noodwendig so op daardie oomblik nie, maar as jy op die situasie of voorval terugkyk, kan jy meestal lag oor hul manewales – en selfs oor joune!
Vertel iets oor die terugvoer op die boek wat jy al ontvang het.
Ek het meestal goeie terugvoer ontvang: oor die goeie humor, oor hoe “eg” dit is, oor hoe mense hulle daarmee kan vereenselwig, en so aan. Daar is natuurlik ook aanmerkings soos: “Hoekom neuk” – kom ons gebruik maar daardie woord – “jy nie daai kinders van jou nie?” En: “Dis nie hoe óns grootgemaak is nie.” Selfs: “Mý kinders sal nooit …”
Ek dink egter dis belangrik om te onthou dat tye verander het, soos die samelewing.
Ek reken wel elke ouer moet doen wat hy of sy dink reg is. Doen wat vir jou werk. Sulke ouers moenie daaroor veroordeel word nie. Maar wat my betref is geweld, onder meer lyfstraf, nooit die antwoord nie.
En weet jy wat? Die perfekte ouer bestaan wel … maar hulle het nog nie kinders nie.
Ek kan jou eintlik waarborg: Jou kind sál. En hy gáán!
________________________________________________________________________
Meer oor Carla Lang
Sy het die graad LLB aan die Universiteit Stellenbosch verwerf en is in 2013 as prokureur toegelaat. Daarna het sy haar passie vir lees en skryf gevolg en by Protea Boekhuis as redakteur aangesluit. Sedert die geboorte van haar tweede kind (sy is die ma van die sesjarige Liam en die tweejarige Zahra) werk sy op ’n vryskutgrondslag as redakteur, proefleser, manuskripkeurder en regsadviseur by Protea Boekhuis. Sy skryf steeds elke twee weke ’n rubriek vir Netwerk24. Dit gee haar die geleentheid om haar belangrikste taak uit te voer, naamlik om haar kinders groot te maak.