Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

KYK: ‘Ek is uiteindelik vry om te wees,’ vertel vrou ná 40 jaar saam met ’n narsis

Byna veertig jaar lank was narsistiese geweld ’n deel van Ilse Verster se elkedagse bestaan. Nou is sy dankbaar dat sy ’n pad van heling kon stap. Dat sy vir die eerste keer weer vrede ervaar. Voortaan wil sy ’n stem vir stukkende vroue wees.

DEUR CONETTE LE ROUX; VIDEO EN HOOFFOTO: ROBERT CABLE

“Ek het nou die dag na ’n foto van myself gekyk wat jare gelede geneem is. Die dooie kyk in my oë het my geskok.”

Die foto waarna die 63-jarige Ilse Verster verwys, is geneem êrens tydens die 38 jaar wat sy met ’n narsis getroud was.

Vandag is die kyk in haar oë anders. Die mooiversorgde vrou raak emosioneel wanneer sy dit verduidelik: “Dis nie hoe jy lyk wat jou mooi maak nie; wanneer jy veilig voel, straal dit uit jou uit. Jy lyk ook anders wanneer jy elke dag liefde en respek ontvang.”

Dis nou ’n bietjie meer as vier jaar wat Ilse nie meer in die huis woon waar sy elke dag vir haar lewe gevrees het nie. Sy hoef nie meer agter ’n toe kamerdeur te skuil in geval sy iets gedoen het wat moontlik konflik kan ontketen of mishandeling tot gevolg kan hê nie.

Sy praat oor haar gewese man se woede-uitbarstings: “Ek kon niks reg doen in sy oë nie. Volgens hom was die kos altyd óf gebrand óf sleg. Hy was ook kwaad omdat ek nie ons hondjie se voete afgevee het as sy buite was nie …”

Dis maar soos dit gaan …

Ilse het jare lank dagboek gehou in ’n poging om uit te vind wat sy dan verkeerd doen. Sy kon nooit haar vinger daarop lê nie. Sy sê sy het later gedink dis maar soos dit in ’n huwelik gaan …

Ilse Verster op haar troudag met Francois, die man wat haar kom heel maak het. Regs van Francois is Joan Kruger. Foto verskaf

Die omstandighede waarin sy geleef het, het oor die jare tot erge depressie en selfs pogings tot selfdood aanleiding gegee. Dit was eers toe ’n psigiater haar oor narsisme vertel dat sy opgehou het om die fout gedurig by haarself te soek. Dit het daartoe gelei dat sy gaan navorsing doen het oor dié afwykende verskynsel.

Vra jy haar nou om narsisme te definieer, kom dit maklik: “Narsisme is die soeke na bevrediging deur ydelheid, of die egoïstiese bewondering van jou eie liggaamlike of geestelike eienskappe, wat uit so ’n arrogante trots ontspring. As narsisme te ver gedryf word, kan dit as ’n geestesversteuring, te wete ‘narsistiese persoonlikheidsversteuring’, geklassifiseer word.”

Dié donker hoofstuk in Ilse se lewe is genadiglik afgesluit; sy is reeds meer as vier jaar van haar eksman geskei. Sy het ook die kans op ware liefde gekry: Sy is nou getroud met Francois, ’n argivaris. Hy het haar kom heel maak, sê sy. Hulle woon in die Kaap.

Ilse se boek van haar lewensverhaal wat reeds \’n blitsverkoper geword het.

BESTEL ILSE SE BOEK HIER.

Ilse het intussen besluit om die spreekwoordelike boek van haar vorige lewe vir ’n laaste keer oop te maak en haar lewensverhaal neer te skryf. Dié boek, So lyk ’n vrou – my 40 jaar van hel saam met ’n narsis (LAPA Uitgewers), het vroeër vanjaar verskyn en ’n blitsverkoper geword.

Dis in opdrag van God geskryf, sê sy, om die swye aangaande narsistiese geweld te verbreek.

Reeds die inleiding laat die leser regop sit: “Kom loop saam met my die pad van heling. Want dit is waaroor my storie gaan; nie hoe om tot op die vloer geslaan te word nie, maar hoe om, nadat jy die bloed opgevee en klaar gekots het, jou teen die muur op te trek, jou teen die polisie en samelewing te handhaaf, en jouself te red. Veral hoe om jouself te red. In die hoop om ’n stem te wees vir een stukkende vrou wat iewers in ’n kamer sit en dink die enigste oplossing is om net die pyn te stop. Om net dood en weg te wees, want jy lewe al jare lank nie meer nie.”

Die reuk van bloed

Volgens Ilse was dit nie moeilik om al die gebeure chronologies te herroep nie. Dit was wel baie swaar om al die traumatiese gebeure tydens die skryfproses te herleef. Een van die ergste van dié voorvalle, vertel sy, was toe sy op ’n keer probeer het om haar handsak in die hande te kry en hy die kardeur toegeslaan het. Haar rok is in die deur vasgeknyp en die kar het haar saamgesleep.

Sy vertel hoe sy eers probeer het om agteruit te kruip, maar toe haar arms en bene nie meer kon byhou nie, het sy op haar rug beland. Steeds het die man gery.

LEES OOK: ‘Jy kan nie God se geduldige restourasiewerk met die blote oog sien nie,’ vertel berader ná haar eie winterseisoen

Ilse skryf in die boek hoe die vel op haar rug afgeskuur is en hoe sy die bloed kon ruik. Sy het om hulp bly skree, maar sy onthou slegs die man se grynslag. Oplaas het die rok geskeur en haar kop het met ’n harde slag die teerpad getref.

Dié skokkende voorval het plaasgevind nadat hy gehoor het sy wou ’n sterwende tannie aan die Weskus gaan groet. Dié het destyds vir haar grootouers gewerk.

Hy het eers ’n naweek lank verdwyn – en toe, onverwags, voor hul huis gestop, ingehardloop en haar handsak gegryp waarin hy haar vliegtuigkaartjie gewaar het. Ilse het hom agternagesit.

Sy vertel hoe haar lyf geruk het die nag toe sy aan dié stuk geskryf het. Sy onthou hoe Francois haar kom troos het, hoe hy vir haar tee gemaak het. Hoe hulle dit saam op hul balkon gedrink het sodat sy kon kalm word.

Sy sal nooit die mishandeling vergeet nie, vertel Ilse vandag, maar nou het sy uiteindelik vrede gevind.

Sy is wel baie spyt oor al die jare wat sy verloor het. “Die grootste rede waarom ek hom nooit wou verlaat nie, was omdat ek my troubeloftes voor God baie ernstig opgeneem het. Dit was eers toe ’n predikant, ironies genoeg aan die einde van ons huwelik, aan my verduidelik het dat dit nie help om beloftes te probeer hou wat jou man lankal vertrap het nie, dat ek die lig begin sien het.”

Ilse het \’n briefie spesiaal aan LiG-lesers geskryf.

Sy vertel hoe sy jare lank gebid het dat die man moet verander. Vroeg in die oggend het sy letterlik uitgestrek met haar hande oor hom gebid, nadat hy gevloek en geskel en uiteindelik, eers ná baie drank, aan die slaap geraak het.

‘Ek mág lag en praat …’

Hoekom het sy die boek geskryf?

“Om ander mishandelde vroue die moed te gee om hulleself van voortdurende mishandeling te red.”

Wanneer sy deesdae in die oggend wakker word kan sy sê: ‘Dankie, Here, dat ek veilig is en nie hoef bang te wees nie.’”

In haar boek beskryf Ilse hoe dankbaar sy is vir haar nuutgevonde veiligheid saam met Francois. “Ek is by iemand wat my liefhet. En my respekteer. Ek mág ek wees. Ek mág lag en praat en vriende en vriendinne hê. Ek kan my familie en vriende sien soveel kere ek wil en wanneer ek wil, en ek kan vir hulle lief wees. Ek word nie aanspreeklik gehou vir wie my voorouers was nie, of vir dinge in my verlede nie. Saam met Francois het ek ’n toekoms, maar ek is ook vry. Vry om te wees. Soos dit elkeen se geboortereg is.”

  • Deel jou getuienis van sowat 1000 woorde met LiG deur \’n e-pos te stuur na lig@tydskrifte.co.za
Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.