Deur Conette le Roux; Video: Robert Cable
Björn Alexander het grootgeword in Chicago. Dis nou in Paarl-Oos en nié Amerika nie, vertel hy met sy kenmerkende vrolike lag.
KYK DIE VOLLE VIDEO-ONDERHOUD:
Dáár gaan pa’s glo winkel toe om melk te koop, net om dikwels nooit terug te keer nie. Trauma en geweld is deel van die elkedagse bestaan.
En, onthou Björn, oomblikke van totale hooploosheid is ongelukkig net so volop.
“Ek het op laerskool ’n wit rot as ’n troeteldier gehad. Ek het hom oral saamgeneem. Hy was regtig my buddy, my vriend. Een dag het my ma saam met vriende by die huis sit en drink. Om haar vriende te vermaak het sy dié dag my rot in ’n plastieksak gesit en toegeknoop. Toe slaan sy hom voor my en my vriende teen die muur dood.
“Daardie gevoel van totale hooploosheid sal ek nooit vergeet nie.”
LEES OOK: ‘Ek moes eers álles verloor voor ek besef het ek het nét God nodig,’ vertel Alwyn Uys
Maar daardie hooploosheid het nie die laaste sê gehad nie. Björn is tans besturende direkteur van Hilltop Legacy, ’n niewinsgewende organisasie wat die afgelope agt jaar hoop in swaarkrygemeenskappe van die Paarl bring.
Daar was vele ander traumatiese ervarings. “Ek het báie mense sien sterf. Mense wat voor my met messe doodgesteek is. Ek onthou byvoorbeeld ’n kind wie se ouer doodgesteek is omdat hy nie ’n sigaret vir iemand wou gee nie. Of vroue wat duidelik sopas verkrag is.”
Wanneer jy Björn vra hoe hy as kind met al dié trauma geleef het, is sy antwoord eenvoudig: “Jy druk hom in ’n hoekie.” Hy verduidelik dat hy nooit geleer is hoe om emosies te verwerk nie. “Die realiteit waar ons grootgeword het, is dat jy nie geleer word hoe om emosies te express nie.
“Al wat jy maar gedoen het, was om dit diep weg te bêre. Niemand het jou help verstaan wat verskillende emosies, soos woede en hartseer, beteken nie. Later word jy so gemaklik met woede, want dit is eintlik die enigste emosie waaraan jy blootgestel word,” verduidelik hy.
Gelukkig het Björn in sy graad 8-jaar iets gevind wat hom gehelp het om sy moeilike omstandighede te hanteer. Sy neef het hom blootgestel aan landloop en dít, vertel Björn, het om gehelp om te cope.
Ongelukkig was dié ontvlugting van korte duur. “My ma wou nie gehad het ek moet sport doen nie. Sy het altyd gesê dis vir wit mense. As alkoholis, enkelma en met haar eie trauma was sy baie abusive. As ek ná wedlope by die huis gekom het het sy my geslaan, gewurg en selfs my T-hemp van my lyf afgeskeur. Die mishandeling het te erg geraak, en ek moes ophou met die sport.
’n Kaartjie na hoop
Op 17 het Björn by sy pa gaan woon. Dié het ’n sjebien van die huis af bedryf, met die stoorkamer as Björn se slaapkamer. Hy moes leer om saans, te midde van die rumoer langsaan, te probeer slaap.
Maar in daardie einste jaar het ’n R100-noot vir Kersfees, sy eerste regte Kersgeskenk, sy lewe positief verander. In ’n gemeenskap waar almal se rolmodelle “big shot gangsters” is, het hy presies geweet by watter “gang” hy goeie hardloopskoene vir R100 kon kry.
’n Paar splinternuwe, waarskynlike gesteelde, Asics-hardloopskoene was toe die begin van Björn se suksesvolle atletiekloopbaan. In sy matriekjaar het die Boland-landloopspan hom die eerste keer buite die Wes-Kaap geneem. Na Pretoria. “Jy slaap in ’n bed, eet buffet-etes en sien die groot stad. Dit maak iets in jou wakker …”
Hierna het Björn aan tweekamp begin deelneem en later Suid-Afrika by die wêreldkampioenskap in Kanada verteenwoordig.
Hoewel Björn die eerste mens in sy familie was om matriek te slaag, en boonop ’n goeie sportman was, was hy steeds nie verseker van ’n werk nie. Theo Fourie, die besturende direkteur van ’n Amerikaanse maatskappy genaamd Attachmate, het egter van hom te hore gekom. Dié maatskappy het besluit hulle wil twee persone uit ’n arm gemeenskap help om hul droom te bewaarheid. Dit moes mense wees wat reeds hul ambisie en deursettingsvermoë bewys het.
Björn vertel: “Theo het my raakgesien, my eintlik van ver af dopgehou toe ek as skoonmaker gewerk en terwyl ek steeds baie hard geoefen het. Hy het geweet ek wil graag iets met my lewe doen, en daarom het hy besluit om my te help.”
Op dié manier het Björn ’n omvattende beurs ontvang om drie jaar lank in sportbestuur aan die Cape Peninsula University of Technology te studeer.
Die grootste voorreg hier, vertel Björn, was om aan ander kulture en ander leefwêrelde as sy eie blootgestel te word.
Ná afhandeling van sy studies is Björn en sy vrou Ingrid twee jaar lank Londen toe waar hy as ’n persoonlike afrigter gewerk het.
Om ’n verskil te maak
Hy is nou byna 40, en hy hardloop steeds. Destyds was dit hierdie talent wat hom gehelp het om uit sy omstandighede te ontvlug; vandag bied dit hom ’n platform om ’n verskil te maak.
Hy sê: “God gee talente aan ons om nie net ons eie omstandighede te verander nie, maar ook dié van ander.”
Hilltop Runners is ’n mentorskapprogram waar atlete uit arm skole sowel as dié uit ’n meer bevoorregte omgewing saam oefen. Volgens Björn wil hy hiermee ’n veilige ruimte skep waar almal kan droom en hopelik ’n gesonde identiteit kan ontwikkel. “Sommige van dié atlete is fenomenaal, en bereik topposisies. Ander hardloop bloot vir die lekkerte daarvan.
“Ons groot droom is om nie net hoop vir vandag te skep nie, maar ook om hoop te bring vir die toekoms. Met Jesus as ons anker.”
Buiten die hardloopprogram bedryf Hilltop Legacy ook ’n nasorgdiens vir graad 4-7-leerders by Groenheuwel Primêr in Paarl-Oos. Omdat Björn uit eie ondervinding weet hoe belangrik dit is om aan ander werklikhede en perspektiewe blootgestel te word, het hy ’n vrywilligerstelsel by die nasorgdiens ingestel.
Vrywilligers uit meer welgestelde skole in die Boland-omgewing kom help die nasorg-leerders met hul huiswerk. Een agtermiddag per maand kom daar ook werknemers van verskeie maatskappy om met die nasorgdiens te help.
Vooropgestelde idees
Björn sê: “Baie ouers het sekere vooropgestelde idees oor mense van ander kulture en rasse. Dit dra hulle dan aan hul kinders oor. Ons wil dié idees vernietig.
“Alle mense bring hul eie, unieke perspektiewe na die wêreld. As ’n 70-jarige wit vrou op haar knieë staan terwyl sy jong bruin kinders met hul huiswerk help, verander dit dalk iets. Wanneer ’n hoërskoolleerder as ’n mentor kom optree vir kinders wat nie eens daaraan gedink het om hoërskool toe te gaan nie, verbreed dit almal se horison. Dis hartseer dat 80% van die leerders in ’n gemeenskap soos Groenheuwel nie hoërskool toe gaan nie.
“Baie mense het my al gevra hoe ek, ná soveel seerkry en trauma, uit Chicago kon kom. Die eerste antwoord is natuurlik God se genade.
“En die mense met wie ek toenemend te doen gekry het, het uit ander omgewings gekom; ek het deurentyd met ander gemeenskappe en kulture in aanraking gekom. Dit het my perspektief verbreed en my selfwaarde vergroot. Dit het my help verstaan dat daar baie meer potensiaal in my is as wat ek gedink het. Dat God dit in my geplaas het om ’n impak in ander se lewe te maak.
“Alles wat ons nodig het om swaarkry te oorkom, is reeds in ons. Maar ons moet ons in ’n gesonde omgewing bevind – met Jesus as ons anker.”
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.