Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Leah, die skaam kind met die oranje strik en die klavier

DEUR CORNEL DUNN

Ek onthou haar so goed: haasbek en kniekoppe. Leah, die maer kind met die groot oranje strik in haar dun hare.

Elke keer as ek verjaar, het sy, pakkie onder die blad, by ons opgedaag. Sy was stil en skaam en het altyd iewers in ’n hoekie alleen gespeel.

Ons gunstelingspeelplek was die enigste speelpark op die dorp. Groot blikswaaie met rooi sitplekke waarop ons staan-staan gekyk het wie die hoogste kan swaai. ’n Geroeste rondomtalie waarop ons gedraai het tot ons opgooi. ’n Glyplank wat jou haak-haak tot onder laat hop, met haakplekke in jou broek en rooi skaafplekke oor jou sitvlak wat jy eers by die huis ontdek.

Langs die parkie het ’n klein riviertjie in die laagte weggekruip. Ons het spoelklippies opgetel en bende-bakens met versteekte boodskappe gebou.

Vir haar sesde verjaardag het Leah ’n klaviertjie gekry. Hierna het sy haar lus vir ons spelery verloor. Al wat sy wou doen, was om op die verspotte ding te tokkel. Terwyl ons pouses in die wintersonnetjie sit en broodjies ruil of froetangs uittrek, het sy verbete klavier geoefen by ou juffrou Vlam. Daardie dun vrou met die rooigrys hare en klein swart ogies het die vrees van duisend duiwels by my wakkergemaak. In haar musiekklas het die energie van haar dik, pienk, twaalfduim-liniaal geen genade gehad nie. Sommer so oor jou kneukels.

In standerd twee is ek met Freddie van die plaas Diamant gekys. “Kys” het beteken julle hardloop dat die sweet spat as julle mekaar raakloop. Anders is jy kômmin.

Ons klasjuffrou het by Ma gaan raad soek oor my ewige asma. “Net mooi wanneer Freddie se bors toetrek,” vertel sy bekommerd,” trek jou kind s’n ook toe. Net erger.”

Ek het natuurlik nooit asma gehad nie, maar ek moes in my beminde se leed deel.

Met dieselfde rooi hakskeentjies het ons groepie maats later onder Leah uitgehardloop. Sy het tevrede agtergebly, alleen voor haar swart klavier.

Met eistedfodd-tyd het ons altyd heel voor gesit om die hardste hande te klap as Leah die een prys na die ander inpalm. Haar fyn vingers het soos vlindervlerkies oor die klawers gevlieg. Selfs juffrou Vlam het die bietjie emosie getoon waartoe sy in staat was. Dan het sy delikaat met haar wit sakdoekie onder haar bril gevee.

Ek het die grootmense oor Leah se ma hoor skinder.

“Drink glo vreeslik,” het Mevrou Dominee gesê.

“Julle weet ek is nie een wat skinder nie, maar …” het Mevrou Dokter bygevoeg.

“Arme bloedjie,” het Mevrou Dominee weer met ’n kies vol klapperkoek van haar laat hoor.

Tipiese plattelandse kaalvoetkind verstaan ek van hierdie drinkery net mooi niks. Tee? Water? Coke, dalk?

“Nee,” verduidelik Oupa waar hy tydsaam sy pyp skoon krap. “Dis ’n vreeslike siekte.” En ek hoef nie te verstaan nie, sê hy, ek moet net vir hulle bid.

So bid ek saans getrou vir Leah se ma en haar alewige dors. Soms as ek en Ma met die winkeltrollie deur oom Hambley se winkel loop, sien ons Leah en haar ma. Dan kyk die ander tannies weg en rol hul oë. Ma loop nader om te groet.

Leah se ma is bewerig en koponderstebo. Leah kyk my onseker aan en kruip agter haar ma se maer lyf in.

Ma sit haar hand op die tannie se skouer en loop stil weg.

Ná matriek is Leah universiteit toe om musiek te studeer. Al was ons op dieselfde studentedorp was my lewe so vol dat ek heeltemal van haar vergeet het. Ma sou soms vra of ek dan nooit vir Leah raakloop nie, en dan betekenisvol na Pa kyk.

Leah is later met ’n argitek getroud en het voltyds musiek gegee by ’n bekende meisieskool. Haar ma is intussen oorlede en Leah het alle kontak met ons dorpie en sy mense verbreek.

Niemand sal ooit verstaan wat in Leah se lewe skeefgeloop het nie. Maar dit ís so dat sy uiteindelik haar ma geword het.

Cornel Dunn.

“Sy is uit alles uit,” skinder ’n universiteitmaat wat ek onlangs weer raakloop. “Soos my ma altyd gesê het, ons is nie mense wat skinder nie, maar die sondes van die vaders …”

Ek besluit toe om self te gaan kyk wat van my speelpark-maat met die oranje strik geword het.

Ek kry haar op die hoek voor Spar waar sy skaamteloos staan en bedel. Neffens haar staan ’n stuk karton waarop sy met haar netjiese handskriffie haar nood verwoord het.

Sy kyk met dowwe oë na my. Haar gesig is rooi en opgehewe, en langs haar slaap lê ’n lelike blou haal. Sy ruik na sweet en goedkoop wyn.

Sy vou haar arms beskermend om haar bolyf en wieg effe onvas op haar voete terwyl sy oor my skouer kyk. Agter my, weet ek, kan jy deur die winkelvenster ’n pragtige swart vleuelklavier sien.

  • Cornel Dunn was jare lank leefstylredakteur van rooi rose.
No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF