’n Vrou wat eens ’n gebroke kinderhuiskind was, getuig vandag hoe God haar lewe lánk vooruit beplan het en dat daar áltyd ’n uitweg en hoop saam met Hom is. ’n Ma, wat tans saam met haar 3-jarige kind teen kanker stry, is dankbaar dat hulle Jesus ken en vandag ’n getuienis van Jesus se liefde kan wees.
DAG 1: Die geduldige Leermeester
Getuienisse soos hierdie help die LiG-span en ons lesers om weer die hoop raak te sien wat in die donker glimmer, sê Francine Prins, die gedrukte LiG se redakteur. Vir Conette le Roux, LiG se webredakteur, is dié “hedendaagse gelykenisse” soos petrol vir haar geloofslewe. “Wanneer ek twyfel of dalk ’n moeilike tyd in my lewe ervaar, tel stories soos hierdie my op en inspireer dit my om daagliks te volhard.”
DAG 2: Jesus se liefde verdryf álle vrees
Daarom het LiG en ons susterpublikasie Kerkbode, besluit om in hierdie Lydenstyd – die aanloop tot Paasfees – 40 dae van #leefLiGter aan te pak. Elke oggend om 6:00 word die dag se kort video-oordenking, saam met ’n Skrifgedeelte en inspirasie-skakel vir dieper delf, op LiG se Facebookbladsy en Instagramrekening geplaas.
“Ja, hierdie lewe ís nie maklik nie, en eintlik moet ons dankbaar wees daaroor. Want swaarkry kweek ’n egte geloof wat kosbaarder is as enige besitting of rykdom. Ons gebed is dat jy weer jou ritme in pas met Jesus sal vind,” sê Francine.
Die #leefLiGter-reeks het reeds op 22 Februarie 2023 afgeskop.