Ek het onlangs vertel hoe ons ons huis moes ontruim en voor ’n wegholbrand moes vlug. Terwyl ons uit die kompleks gery het waar ons woon, het my man gesê: “Julle, ons moet nou bid vir ’n wonderwerk. Dis al wat ons huis kan red.”
My seuntjie het gesê: “Maar Pappa, wonderwerke het net in die ou dae gebeur. Dit gebeur mos nie nou meer nie …”
“Hoe bedoel jy?” het my man gereageer. “Wonderwerke kom nie net uit die Bybelse tyd nie; jy kan maar glo dat dit vandag nog gebeur.”
Daarop het die twee seuns saam in die motor gebid terwyl ons na vriende se huis toe gery het waar ons sou oornag.
In die loop van daardie aand het die boodskappe en oproepe ingestroom. Oral was daar mense wat vir ons gebid en aan ons gedink het. Ons kon nie eens almal antwoord nie.
Reg deur die nag het ons gebid. Niemand kon slaap nie.
Ons het nie geweet of ons huis nog staan nie. Ek het skuldig gevoel om te vra dat my huis gespaar moet word, terwyl ek geweet het dat baie mense reeds hul tuiste in die brand verloor het.
In dié tyd het ek aan Daniël se vriende gedink – Sadrag, Mesag en Abednego. En aan die vuur wat hulle moes trotseer. Só is daar in Daniël 3:16-18 oor hulle geskryf: “Sadrag, Mesag en Abednego het koning Nebukadnesar geantwoord: ‘Ons hoef u nie hierop te antwoord nie. Ons het ons God vir wie ons dien. Hy het die mag om ons te red uit die brandende oond, en Hy sal ons ook red uit u mag. Selfs as Hy dit nie doen nie, moet u weet dat ons u god nie sal dien nie, die goue beeld wat u laat oprig het, nie sal aanbid nie.’”
Reg gehoor: “Selfs as Hy dit nie doen nie …”
Dié drie het goed geweet dat God hulle kan red. Hulle het ook besef dat dit nie noodwendig beteken dat Hy dit sal doen nie. Hulle het wel geweet dat selfs al doen Hy dit nie, Hy steeds aanbid moet word. Hy is God.
En ek het besef dis al wat ék kan doen: Ek moet God aanbid, en op Hom wag.
Ons sien foto’s van die kloof waar ons woon. Ons sien hoe die vuur rondom ons huis woed. Hoe die vlamme, soos oranje tonge, deur die vensters sigbaar is. Ons bly bid, maar ons besef dat ons waarskynlik nie ’n huis sal hê om na terug te keer nie.
Twaalfuur ry my man om te gaan kyk of hy iets kan sien. Maar die paaie is steeds gesluit. Vieruur ry hy weer.
Ek hoor sy kar by die inrit. Dis te gou. Die pad is óf nog toe óf dis slegte nuus. Hy maak die deur oop, sy oë dik en rooi, en hy sê: “Ons het ’n huis. Ons huis het niks oorgekom nie.”
Die trane rol oor my wange. Eensklaps is alles te veel vir my, die onsekerheid, die angs, die sterk wees ter wille van die kinders.
My man vertel dat die veld swart gebrand is. Dat hy eers net ons huis se grys dak gesien het. Dat hy toe begin hoop het: As daar ’n dak is, moet daar tog ’n huis ook wees …
En daar was ’n huis, ’n huis wat ongeskonde bly staan het. Die kinders se fietse was in die motorhuis, net soos ons dit daar moes agterlaat. Die voordeur het oopgewaai, die ligte was aan. Ons het besef dit is wat ons op die ontstellende foto’s gesien het: die vlamme wat in die ruite weerkaats.
Dit blyk dat die vuur aan al vier kante van ons huis gewoed het, tot teenaan die grensdraad. Totdat dit by ons erf gekom het, en daar summier gestop het.
Ons is die volgende oggend terug. Oral was roet en as. Ons het begin skoonmaak, en ek was nog nooit so bly om iets te hê om skoon te maak nie.
Ons vertel vir almal wat wil luister van die wonderwerk. Ons weet dat dit niks anders as ’n wonderwerk was nie, iets wat ons nie verdien het nie, maar wat uit en deur genade na ons toe gekom het.
Ek skryf ’n kort opsomming van ons belewenis vir ons plaaslike polisiekantoor. Dis vol rou emosie. Ek verwag nie dat baie dit sal lees nie, maar dalk beteken dit tog vir een of twee mense iets.
Tot my verbasing versprei my skryfstuk die wêreld vol op sosiale media. Duisende lesers deel dit met ander. Mense wat soortgelyke ervarings gehad het, reik uit en sê dankie dat ek ook húlle gevoelens verwoord het. Hulle sê dit help hulle om die trauma te verwerk. Later word dié storie selfs op ’n YouTube-kanaal oorvertel.
My kinders vra: “Mamma, praat julle al weer oor die wonderwerk?”
Ek antwoord: “Ja, ons moet daaroor praat. Só verheerlik ons die Here. Baie mense dink dat wonderwerke net in die Bybelse tye plaasgevind het; ons moet hulle daaraan herinner dat dit vandag nog ’n werklikheid is. Só sê ons dankie. Nou kan ander mense dalk uitroep dat al die eer ons God toekom. Soos Nebukadnesar in Daniël 3:29:‘Daar is immers geen ander god wat in staat is om so te red nie.’”
- Simone Gauche is ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk. Sy is ook ’n eggenoot en ’n mamma van twee seuntjies. Sy skryf graag oor haar verhouding met God en die lesse wat sy leer.




















