DEUR SIMONE GAUCHE
My seuntjies het regtig geen benul van geld nie. Hulle dink ek gaan winkel toe … en kry die kos verniet. Mamma tik net liggies met ’n kaart – en siedaar, ons het kos!
Dieselfde gebeur as ek petrol in die kar tap. Dis net “tik-tik” … en daar gaan ons.
Omdat hulle nie ’n idee van lewenskoste het nie is ’n beroep, wat hulle betref, opsioneel. Hulle verstaan nie die verband tussen werk en daardie tik-tik van die debietkaart nie.
LEES OOK: Met Jesus beklee
As daar ’n koekverkoping by die skool is, gee ek hulle presies dieselfde bedrag geld. Hulle sal egter stry oor die twee sakkies; elkeen wil die sakkie met die meeste muntstukke hê! Daardie sakkie is swaarder en het dus, volgens hulle berekening, meer geld in.
Ek is daarvan oortuig dat as ek hulle ’n keuse gee tussen ’n R100-noot en ’n R2-muntstuk hulle waarskynlik die muntstuk sal kies. Die een wat in die sakkie klingel. Dit kan ook nie skeur of breek nie, en daarom móét dit baie werd wees.
Hierdie gebrekkige begrip van geld en die relatiewe waarde daarvan het ongelukkig tot gevolg dat hulle nie altyd hul besittings mooi oppas nie. Mamma kan mos net weer ’n nuwe ding koop as iets gebreek het. Tik-tik.
Soos altyd laat my kinders se optrede my dieper dink. En dié keer leer ek dat ’n mens moet kan verstaan wat iets werd is voordat jy die werklike waarde daarvan besef. Daar is mense wat tweedehandswinkels gaan besoek om iets kosbaars daar op te spoor. Daar is waardevolle items: skilderye, erdeware, meubelstukke – enigiets wat deur vorige eienaars verkwansel is, dalk juis omdat hulle nie die waarde daarvan besef het nie.
Ek lees onlangs die volgende aanhaling: “Dikwels word geluk oor die hoof gesien omdat dit niks kos nie. Dink byvoorbeeld aan die voëltjies wat jy hoor sing, die veldblomme waarna jy kyk. En om by die see te sit en te sien en te hoor hoe die golwe ritmies slaan. Hierdie belewenisse kos jou niks, en dit het die potensiaal om jou lewe te verryk. Maar dis maklik om te besig te wees met jou eie gedagtes en só die oomblik te laat verbygaan.”
En ek wonder: Is dit nie maar hoe dit met genade ook is nie?
Want genade kos my niks nie, omdat Jesus reeds daarvoor betaal het. Só skryf Petrus: “Inteendeel, julle is losgekoop met die kosbare bloed van Christus, die Lam wat vlekloos en sonder liggaamsgebrek is” (1 Pet 1:19).
Maar al kos genade my niks nie, is dit beslis nie goedkoop nie. God het duur betaal om ons te red. Hy het sy Seun gestuur om in ons plek te ly. Ons sing graag die lied “Genade, onbeskryflik groot”, maar ek wonder soms of ons nie roekeloos met genade omgaan nie, veral omdat dit ons niks kos nie.
Besef ons wat genade werklik werd is? Leef ons, vrygekoopte mense, uit dankbaarheid vir dié onverdiende genade? Of karring ons maar aan soos altyd, want Jesus het tog reeds betaal?
Maak ons met genade soos my seuntjies met hul speelgoed maak?
Ek wonder of ek genoeg daaroor nadink dat ek ’n slaaf van my sonde was en dat Jesus se bloed vir my vryheid betaal het. Hoor wat sê Paulus: “Julle is gekoop, en die prys is betaal. Julle moet God dus in julle liggaam verheerlik” (1 Kor 6:20).
Ek dink dat die besef van die prys wat vir my lewe betaal is, en daarmee saam die waarde van genade, met verloop van tyd verdiep. Net soos my seuntjies mettertyd sal leer wat geld werd is. Dis nie iets wat oornag gebeur nie; dis ’n proses.
Hoe beter ek God leer ken en hoe meer ons verhouding verdiep, hoe groter groei my besef van die prys wat betaal is. En mettertyd leer ek hoe om God, uit dankbaarheid daarvoor, te verheerlik. Laasgenoemde word ’n natuurlike uitvloeisel van die besef hoe groot God se genade werklik is.
My gebed is dat ons gereeld sal nadink oor wat genade gekos het, sodat ons begrip van die prys daarvan sal verdiep. En sodat dié wete ons lei om God daarvoor te verheerlik.
- Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.