Voel jy ook soms jy mis iets wanneer iemand anders se geloofslewe vir jou lyk asof dit net met lig en voorspoed gevul is?
DEUR LISEL JOUBERT
Van kleins af word ons op verskillende maniere geleer dat lig beter is as donker: As die son sak, gaan die ligte aan. As ek bang is vir nie-kan-sien-nie, is daar bedliggies of liggies in die gang.
Ook ons geloofsverstaan is vol lig-en-donker-kategorieë. Donker word byvoorbeeld maklik die plek waar die Bose en die sonde is.
Maar hierdie opvatting help ons glad nie wanneer die donker dae hulle in ons lewe kom aanmeld nie. Die vrees vir die letterlike donker word baie gou ’n vrees vir die figuurlike donker. Barbara Brown Taylor beskryf in haar boek Learning to Walk in the Dark ’n baie gevaarlike soort spiritualiteit wat nie sowel die lig as die donker in ons lewe verreken nie, en wat vergeet dat God ook in die donker teenwoordig is en werk.
Sy noem dié spiritualiteit “the full solar version of Christianity”. Dit gee jou ’n definitiewe padkaart vir die lewe, met antwoorde op ál jou vrae. Maar dit berei jou nie voor vir die ontmoeting met God in die woestyn, by die put en tydens die donker dae in jou lewe nie. Die donker tye is volgens dié “full solar”-padkaart bloot die gevolg van jou eie sonde, ongehoorsaamheid en ongeloof.
Ons vergeet gou dat Jesus in die nag gebore is, dat Jakob droom terwyl hy slaap dat die hemel en die aarde nooit ver van mekaar is nie.
LEES MEER
Bevind jy jou in ’n ‘suurlemoenseisoen’?
Op ’n keer het ’n rabbi die storie vertel van ’n seuntjie wie se maats hom vergeet het terwyl hy weggekruip het. Sy pa sê toe aan die snikkende seuntjie: “That’s how it is with God, too. God is always hiding, hoping that people will come and look for him. But no one wants to play. He’s always left alone, wanting to be found, hoping someone will come. But crying because no one seeks him out.”
Miskien het Jesaja iets hiervan bedoel toe hy gesê het: “Ek sal vir jou die skatte gee wat in die donker gebêre word …” (Jes 45:3).
Wanneer leer ons regtig sien? Is dit nie dalk wanneer ons gedwing word om in die donker rond te tas nie? Om ordentlik te begin luister nie?