Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

‘Loflied van dankbaarheid’ vir vrou wat hele gesin in ongeluk verloor

Karen Swanepoel

Deur Jacobie M Helena

“Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so? Vertrou op God! Ja, ek sal weer vir Hom ’n loflied sing. Hy is my helper en my God!”

Met dié woorde van Psalm 43:5 as haar anker kan Karen Swanepoel na byna nege jaar ’n loflied sing nadat sy haar man Sckalk (sic) en twee kinders Jeanelle en Juan verloor het. Hulle is in Januarie 2012 in ’n motorongeluk met die terugkeer van hulle Desembervakansie oorlede. Swanepoel se boek, Ek sal weer ’n loflied sing: My pad van verlies tot dubbele vreugde is in 2020 gepubliseer. Sy wil met dié boek haar reis van tragedie en teleurstelling na genesing en hoop gebruik om ander te inspireer.

Swanepoel vertel dat sy niks van die ongeluk kan onthou wat haar gesin en twee ander mense in die ander motor uitgewis het nie. Sy het ook eers heelwat later in haar eie herstelproses gehoor dat haar man en kinders in die ongeluk gesterf het.

Karen Swanepoel
Karen Swanepoel het ’n twee kans op lewe, op liefde en op geluk gekry nadat haar man en twee kinders in Januarie 2012 op pad na hul tuiste in Kathu na ’n Desembervakansie in ’n motorongeluk gesterf het. Foto verskaf

Sy het baie seergekry in die ongeluk. Sy vertel: “Ek het erge harsingskudding opgedoen. Ek het ook my borsbeen, pelvis en ’n paar nekwerwels gekraak. Met die geweldige impak is ’n stuk van my regteroor afgeskeur en ek het ’n diep snywond aan my regterarm gehad. My regterwangbeen en agt ribbes is gebreek. My regterlong is raakgesteek en geperforeer en my hart was gekneus,” onthou sy. Swanepoel is na 24 dae in die hospitaal ontslaan waar sy onder andere deur dokters, chirurge, ’n kliniese sielkundige, fisioterapeute, arbeidsterapeute en ’n maatskaplike werker behandel is. Sy het saam met haar ouers in Bloemfontein herstel en teen April was al haar beenbreuke en beserings volkome genees.

LEES OOK: ’n Ouma vertel: ‘Ek het die moordenaars vergewe’

Sy vertel dat in haar soeke na die sin en betekenis van haar gespaarde lewe, sy talle kere die bevestiging gekry het dat die Here haar verhaal wil gebruik om mense te inspireer. Sy brei uit: “Soos wat ek my verhaal en getuienis gedeel het, het dit vir my duidelik geword hoe die Here mense aanraak en vertroos deur my verhaal as voorbeeld te gebruik. Ek was dankbaar vir die voorreg dat die Here my as instrument gebruik om ander te bemoedig en hoop te gee,” vertel Swanepoel.

En die moeilikste deel om haar verhaal van verlies neer te pen? Sy vertel: “Beslis om die trauma en emosies wat ek ervaar het weer te besoek. Dit was ’n moeilike proses, maar ek het opnuut besef hóé ver ek gekom het en waar ek vandaan kom,” vertel Swanepoel.

LEES OOK: Vrou bak koekies om man te red

Sy is in 2015 met haar man André getroud en hulle het in 2018 ’n tweeling, Reynard en Desiré, ryker geword.

“Die Here het geneem en die Here het gegee. Ek is so oneindig dankbaar vir my reënboog na die storm, my tweede kans op lewe, op liefde en geluk. Die begin van ’n nuwe hoofstuk. Vandag kan ek getuig dat die Here sy belofte aan my uit Psalm 43:5 nagekom het. Die belofte wat Hy op 18 Februarie 2012, op die roudiens, aan my gemaak het, sodat ek vandag weer ’n loflied kán sing, lééf ek vandag,” sluit Swanepoel die eerste deel van haar boek af.

*Bestel Ek sal weer ’n loflied sing aanlyn by Marleo Uitgewers teen R170 (afleweringskoste uitgesluit).

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.