Die Nel-gesin woon op die plaas Swartlaagte in die hartjie van die Boesmanland. Dit is ook op hierdie semi-woestynplaas waar die gesin hul dogtertjie Avia ná ’n fratsongeluk moes begrawe.
Op Vrydag 11 Julie 2025 is die Nel-gesin se lewe tot stilstand geruk.
Ma Sylvia vertel: “Ek was oudergewoonte in die kombuis besig om kos voor te berei. Brand (9) en Avia (7) het buite gespeel. Skielik het ek Brand se benoude gille gehoor en ek het dadelik geweet dat daar iets groots verkeerd is. Hy het onophoudelik vir my geskreeu dat Avia nie haar oë wil oopmaak nie. Avia het onder ’n boom in haar rolstoel gesit.”
Volgens Brand het hy Avia te vinnig in haar rolstoel gestoot, en dié het toe omgekantel sodat sy op haar kop te lande gekom het. Daarop het Brand sy sussie opgetel en haar weer in haar stoel laat sit. Maar in daardie stadium het Avia se lyfie begin stuiptrek.
LEES OOK: Mees gelese 2025-getuienisse: Ma’s wat troos vind dat hul kinders by God is
“Ek het dadelik die dokter gebel, en my man. Anton was binne 15 minute daar en ons het in die bakkie gespring. Avia het in my arms gelê. Ek was nie seker of sy toe nog ’n hartklop gehad het nie, ek het haar steeds probeer suurstof gee. Sy was egter reeds dood.”
‘Ek was briesend vir Brand’
Sylvia beskryf haar gevoelens. “Ek het geskreeu, ek het na die Here uitgeroep. Ek was briesend vir Brand. Ek het gesmeek vir die krag om my seun te vergewe.

“En God het gou hierdie woede in my omgekeer, sodat ek net deernis het vir hom.”
Vir Anton (42), haar ander helfte wat hierdie swaar pad saam met haar stap, het die 47-jarige Sylvia oneindige groot respek. Sy sê: “Hy is die stabiele pilaar in ons huis; sy integriteit is ongeëwenaard. Sy gawe is diensbaarheid en ’n besonderse nederigheid.”
Sylvia sê sy beskou haarself as ’n omgeemens wat graag luister wanneer ander oor hul swaarkry-reise praat, veral nou. Sy is daarvan oortuig dat dié deernis direk uit die “troonkamer” kom.
Die Nels se pad op die plaas, ver van alles, het ’n langerige aanloop gehad. Sylvia vertel: “Toe die geleentheid hom destyds voordoen dat Anton na sy geboorteplaas kon terugkeer, was ek hardvogtig. Ek wou nie hierheen kom nie. Maar in 2013 het die Here my hart verander, en ek was skielik opgewonde om Boesmanland toe te kom. Al drie my kinders is in die Kaap gebore. Noa, ons ander dogtertjie, is nou 13.
“Alles was wel nie maanskyn en rose nie, maar ek het my vreugde en vrede in Jesus Christus gevind, ongeag die omstandighede.
“Die Here het ons staande gehou tydens die uitmergelende droogte. Ons moes ons trots in ons sak steek en die geskenkpakkies wat aan ons gestuur is met grasie en dankbaarheid aanvaar. Ek het weer eens besef dat die Here in beheer is van elke skapie, van elke hektaar. Ook in beheer van my gesin.”
Avia se moeilike pad
Toe Anton en Sylvia destyds uitgevind het dat hulle swanger is met Avia, het hulle gou besef dat hulle al hul vertroue in die Here moet plaas.
“Op 18 weke is ons Kaap toe om te hoor wat die babatjie se geslag is. Die ginekoloog het versoek dat ons ook ’n sonoloog moet spreek, wat ons toe die volgende oggend gedoen het. Die sonoloog se gesig het dadelik verklap dat daar iets verkeerd is.
“Dit was toe ook so. Haar woorde aan my was dat die baba geen brein het nie. Sy sou nie die swangerskap se volle termyn oorleef nie. Indien dit egter wel sou gebeur, sou sy tydens die geboorte sterf.
“Dit het gevoel asof daar yswater oor my uitgegooi word. Die sonoloog het aanbeveel dat ons na die ginekoloog teruggaan om terminasie-medikasie te kry. Ons is toe na ’n deurnag-apteek om die nodige te kry. Ons was egter onseker, en ons het ons gevoelens aan Jesus se voete neergelê. Hy moes ons ook hierin lei.
“Nadat ek en Anton gebid het, het die Here ’n duidelike boodskap aan ons gestuur: ‘Ek is die God van lewe.’
“Ons het besef dat die keuse nie by ons lê nie, en dat God absolute soewereiniteit oor lewe en dood het. Ons het dus besluit dat indien die swangerskap op ’n natuurlike wyse sou termineer, dit God se pad vir ons was. Gehoorsaamheid aan Hom was ons enigste kompas, ongeag ander mense se mening of gevoel.”
Daarop is die egpaar rustig terug huis toe, waar hulle ’n naam vir hul ongebore dogtertjie gekies het. Avia se naam is ’n kombinasie van hierdie mamma en pappa se name. Dit is ook ’n Hebreeuse woord, wat beteken “God is my Vader”.
Van toe af het hulle vir Avia op haar naam begin bid, en die Here vir haar lewe gedank. “Alle vrees en angs het tydens ons gebede verdwyn. Die vrede wat alle verstand te bowe gaan, is mildelik oor ons uitgestort.
“Ná nog ’n besoek aan die dokter is daar egter bevestig dat daar geen brein is nie. Ons het saam met ander gelowiges gebid, en steeds op ’n wonderwerk gehoop.”
Op 25 November 2018 is Avia met behulp van ’n noodkeisersnee gebore. En dit het geblyk dat die herhaalde diagnose foutief was; sy het wel ’n brein gehad.
Avia is egter met ’n oop rug sowel as ’n waterhofie gebore. Sy is met spina bifida gediagnoseer, die gevolg van ’n neurale buis-afwyking. Die waterhofie was ook deel van dié prentjie.
’n Neurochirurg het dadelik ná die geboorte haar rug geheg. Sy kon slegs op haar maag lê. Op die sewende dag is daar ’n omleiding aangebring ten einde die vloeistof van die brein af te dreineer.
Avia is ook met ’n heupverplasing en klompvoetjies gebore.
Maar tien dae ná haar geboorte kon haar ma dié spesiale dogtertjie teen haar vashou en suksesvol begin borsvoed. Hierdie wonderwerk het op Sylvia se 40ste verjaardag plaasgevind.
Sylvia sê: “Dokters openbaar soms ’n onvermoë om hoop te bring. Ons is gebombardeer met alles wat verkeerd kon gaan. Ten spyte hiervan het ek en my man aanhou bid. Dit het baie vrede gebring om so as egpaar saam te bid. Só het ons mekaar se vrese gehoor.”
‘Sneeuvlokkie-kinders’
“Kinders met spina bifida word soms ‘sneeuvlokkie-kinders’ genoem. Dit ís so dat hulle almal verskillende uitdagings beleef. Die boodskappe van Avia se brein het nie haar onderbene, blaas of rektum bereik nie. Ek moes dus elke drie ure ’n skoon kateter gebruik om haar blaas leeg te maak, en ek moes elke tweede dag ’n maagspoeling doen.”
Avia moes ook verskeie operasies ondergaan, onder meer om die klompvoetjies te herstel. Dit het beteken dat haar bene lank in gips was. Vir al dié prosedures moes hulle Kaapstad toe. Sylvia vertel: “Ons het slegs oor ’n hospitaalplan beskik. Ons getroue Vader het deurentyd voorsien.”
Avia se kop was die eerste 13 maande geweldig swaar en sy het later meestal op haar rug gelê. Maar toe sy twee jaar oud was, het alles heeltemal normaal gelyk. Sy was beste maatjies met haar rolstoel, vertel haar ma. Dit het vir haar vryheid en onafhanklikheid gegee.
“Ons moes ook Johannesburg toe vir neuro-oefensessies. Hier het Avia behoorlik ontpop. Haar spraak het baie verbeter. Alhoewel sy haar mylpale op ’n later ouderdom as haar maats bereik het, het sy telkens die wenstreep gehaal. Op vier kon sy in die swembad met haar voetjies skop. Haar vooruitgang was buitengewoon.”
Oplaas was Avia se lewensverwagting heeltemal normaal.
Sylvia dink terug aan haar liefdevolle dogtertjie: “Mense het telkens positief op Avia se spontaneïteit gereageer. Hulle het haar ‘die klein geneser van die hart’ genoem. Die drukkies wat sy graag uitgedeel het, was fenomenaal.”
Die laaste tot siens
Ná die ongeluk, vertel Sylvia, het Brand baie swaar gekry. Soos ook Noa. “Ons hanteer Brand met die liefde wat ons van God ontvang het. Ons het net ná die ongeluk vir hom dankie gesê dat hy op daardie noodlottige dag met sy sussie gespeel het. En dat wat gebeur het nie sy skuld was nie.
“Ek en Anton het in die hospitaal, ná die dood van ons geliefde kindjie, ’n lang tyd by haar deurgebring. Ek het haar lyfie skoongemaak voordat dit in die yskas geplaas is. Ek wens dit geen ouer toe nie …
“Daardie Maandag moes ons boonop Calvinia toe ry om die liggaam formeel te gaan uitken. Selfs in daardie omstandighede was sy vir my die mooiste mooi. Daar het ek en Anton mekaar omhels en Jesus Christus gedank vir die sewe jaar wat sy aan ons geleen is.
“Jy kry ’n ander verstaan van die ewigheid wanneer jy ’n kind verloor. Die ewigheid word vir jou as ’t ware tasbaar. Avia is nou by die Here – sonder enige gebrek, sonder ’n rolstoel. In die hemel is daar geen trane nie, net Goddelike vrede. Dit is waaraan ek vasklou.”
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.



















