“Dit het my net gegooi. Twéé kinders met spesiale behoeftes. En ek het nie eens gedink ek gaan een hê nie.”
Elsa Frylinck van Wellington is die ma van drie seuntjies. Sy vertel hoe die nuus dat een van haar tweelingseuntjies Downsindroom het, vir haar en haar man Clifford ’n groot skok was. Maar toe sy ’n paar maande later ook uitvind haar oudste seuntjie is op die outismespektrum was sy platgeslaan.
Dié 40-jarige regskonsultant se oë skiet vol trane toe sy probeer om hulle gesin se uitdagings met twee kinders met spesiale behoeftes te verduidelik: “Dit was regtig vir my moeilik. Want Downsindroom-kinders is geliefd. Hulle is maklik, almal aanvaar hulle. Outistiese kinders is stout, moeilik en luister nie.
“Daar is nie ’n standaard nie. As jy een outistiese kind ontmoet het, het jy een outistiese kind ontmoet. Hulle is almal verskillend. Daar is nie ’n handboek nie. As mamma van ’n outistiese kind sukkel jy self om met jou kind te connect. Jy sukkel self om hom te verstaan. Maar as jy as mamma sukkel om hom te verstaan, hoe gaan ander mense hom verstaan?”
Elsa en Clifford het die nuus dat Anton Downsindroom het gekry terwyl sy hulle tweelingseuntjies verwag het. Sy boetie Dawie was normaal. Die dokter het hulle die keuse gegee om vir Anton te aborteer.
“Maar dis heeltemal anders as dit jou realiteit is. Dit is nie so maklik nie. Ons het toe op die ou end besluit ons gaan aborteer. Maar die laaste oggend voor ons na die dokter moes gaan, word my man wakker en sê: ‘Ek weet vir seker Anton moet leef,’” vertel Elsa in die ateljee in Kaapstad waar LiG: God se krag in my krisis opgeneem word.
Die Frylincks het besluit om nie ’n aborsie te doen nie. “Ons het geweet God sal ons help en ons weet Anton se pad is vir hom gelykgemaak,” sê Elsa toe sy ’n traan wegvee. Vandag is Anton (7) in Graad R saam met sy fasiliteerder by Hugenote Laerskool. Sy 7-jarige boetie Dawie is reeds in Graad 1.
Hulle ouer boetie Graeme (9) ontvang vandag tuisonderrig. Sy diagnose het gekom toe sy tweelingboeties sowat ses maande oud was. Hy was toe vier jaar oud.
Die uitdagings het net meer vir die Frylincks geword: “Toe Graeme drie of vier jaar oud was kon hy nog nie praat nie en hy was op doeke. Dit was vir my regtig moeilik, en ook moeilik om te weet wat is die beste vir Graeme. Hoe gaan ons hom hanteer saam met Anton? Ons het ’n hele terapieprogram vir Graeme, ons het ’n hele terapieprogram vir Anton en Dawie het ook sy aandag nodig …
“In ’n wêreld waar almal se kinders aangaan … Jy het normale probleme, want my kind slaap nie goed nie. Ek het weer ’n probleem dat my kind nie goed slaap nie, want ek weet nie wat met hom aangaan nie.”
Elsa onthou hoe sy haarself begin isoleer het. “Ek het myself onttrek. Ek het een of twee vriendinne gehad by wie ek gaan kuier het, maar as dinge net skeefloop is ek in die kar en ek is weg. Amper sonder om baai te sê. En as vriende by ons kom braai het en ek gaan kamer toe het hulle geweet dis omdat ons nie ’n goeie aand het nie. Ek het amper gevoel mense verstaan tot op ’n punt, maar as Graeme heelnag skree … Wie wil daarna luister?”
Elsa vertel sy sou dit vandag anders probeer doen het en eerder oop gesprekke met haar vriendinne gehad het.
‘Die kombers wat my toevou’
Wanneer Elsa oor haar man praat, glimlag sy. “My man is gelukkig báie standvastig, báie rasioneel. Ek gaan op en af, op en af … Hy is definitief my soliede basis en standvastige rots.
“Hy is ook baie sosiaal, so dit was vir hom moeilik toe ek geïsoleer het. Maar gelukkig het hy ’n balans gebring en my aangemoedig om oop te maak vir ’n klein vriendekring.”
Elsa onthou hoe hulle huwelik soms uit “high-fives” in die gang bestaan het op ’n moeilike nag.
“Maar om tydjies te vat om mekaar net weer in die oë te kyk het gehelp. Om net saam koffie te drink. Te vra of die ander een okay is. Ons hoef nie oor alles te gepraat het nie, maar ons het langs mekaar gesit. En dit help,” sê sy.
Ten spyte van al haar uitdagings is Elsa baie dankbaar vir soveel dinge.”Ek het baie mense wat vir my bid. My ouers is beslis my grootste ondersteuners. Somtyds in gees en somtyds kom hulle na ons toe om te help. Dit voel soos ’n kombers wat my toevou.”
Sy praat ook van Hannatjie wat reeds afgetree is, maar nog elke oggend saam met Graeme kom stap. En Katie, ’n fasiliteerder, wat haar “hande op soveel vlakke ligter maak”.
Maar Elsa se grootste dankbaarheid is God se liefde. Romeine 8:38 het glo reeds op hoërskool vir Elsa betekenis gekry en sy dra dit elke dag met haar saam: “Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.”
“Ek weet nie of julle al so daaroor gedink het nie, maar ons dink ons kry kinders en dis nou jóú werk om na hulle te kyk. Maar hulle is God se kinders. Jy is net hier om die fisiese te doen. God kyk na hulle …”
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.