Wanneer die 7-jarige Anton Frylinck aan tweekamp deelneem steel hy harte met elke tree om die atletiekbaan of armhaal in die swembad.
Dalk is dit omdat Anton, wat Downsindroom het en in die spesiale behoeftes-afdeling deelneem, soveel sigbare vreugde daaruit put. “Elke byeenkoms is ’n hoogtepunt vir ons omdat Anton dit so baie geniet. Hy waai vir die skare en is so opgewonde elke keer as hy sy spesiale klere moet aantrek,” vertel sy ma Elsa, ’n prokureur van Wellington. Elsa het in 2024 haar #liggetuienis gedeel as ma van twee kinders met spesiale behoeftes.
“Anton se deelname is vir ons ’n getuienis van hoe goed God vir ons is. Dis wonderlik dat hy kan deelneem en gesond is. Dis vir Anton ook heerlik om deel te voel en te kan doen wat sy boetie Dawie doen,” vertel Elsa.
Anton het in Januarie 2024 die eerste keer aan tweekamp (hardloop en swem) deelgeneem. Elsa vertel laggend: “Anton het begin tweekamp doen omdat ek moeg was om hom elke keer te keer. Elke keer as ons gegaan het omdat sy tweelingboetie deelgeneem het, en ek hou nie my oë op hom nie, hardloop hy saam met die atlete om die baan wanneer hulle opwarm. Of hy wou die heeltyd sy klere uittrek om ook saam te swem … Toe besluit ons hy moet ook ’n beurt kry.”
Elsa het toe vir WF Human, ’n goeie vriend van hulle gesin en self ’n kranige tweekampatleet, om hulp gevra en hy het dadelik aangebied om Anton se gids te wees wanneer hy aan byeenkomste deelneem.
WF, ’n sagteware-programmeerder van Wellington, vertel dat klein Anton vir hom ’n groot inspirasie is: “Vir my het Anton geleer dat ’n mens nie jou lewenspad of omstandighede kan kies nie, maar dat God steeds ’n doel het met alles. Anton verander mense, veral in Wellington, en waar hy ookal gaan.
“In ons wêreld is daar soveel vooroordeel. Mense met spesiale behoeftes of wat ‘anders’ is loop die ergste daaronder deur. Anton is besig om daardie mure af te breek daar waar hy gaan. Dieselfde kinders wat hom met groot oë aangluur of selfs spottend ’n vinger wys, kan ’n mens later nie van hom af weghou nie. Dit is ongelooflik inspirerend om hom en die ander spesiale atlete te sien deelneem,” sê WF, wat ook ’n gesiggestremde atleet van Worcester tydens tweekamp-byeenkomste begelei.
Volgens Elsa is hulle baie dankbaar vir Len Symington, voorsitter van Boland-tweekamp, wat Anton tegemoet kom omdat hy nog sukkel met die 50 m se swem. Daar word ’n spesiale vergunning gemaak dat hy tans net 25 m hoef te swem.
Maar, met die 400 m-baanitem het Anton geen probleem nie. Veral nie as die skare vir hom juig en hom aanpor nie.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.