“Die dag as jy jou enigste kind verloor, jou belangrikste besitting, verloor jy alles wat vir jou saakgemaak het. Dan het aardse goed geen waarde meer nie. Niks maak meer vir jou sin of saak nie, behalwe die Here Jesus.
“Ons is maar net reisigers op aarde.”
Só sê Corna van Deventer (51) van Sutherland.
Sy vertel: “My man Phil en ons seun Simy en ek was onafskeidbaar. Ons band met Simy was onbreekbaar sterk. As 13-jarige was Simy ’n lang seun en baie intelligent. Hy het tuisonderrig ontvang. Hy het met die Here Jesus grootgeword en ons het elke dag saam gebid.”
Die gesin het aan die Sutherland-skietklub behoort. Simy was ’n uitstekende skut.
LEES OOK: ‘Die hartseer maak jou byna dood, maar ek moet nou vir twee leef en liefhê’
Voor God met my belangrikste besitting
Nadat Corna se skoonpa twee maal aangerand is, was hulle verplig om sy .22-geweer by hulle te hou. Die geweer moes op haar man se naam oorgedra word, en daar moes ’n kluis aangeskaf word. Die geweer is wel veilig gebêre.
Maar op 14 Maart 2023, skaars twee weke nadat hulle die skietding gaan haal het, het die ongeluk gebeur.
Corna onthou: “Simy en ek was opgewonde, want my vriendin het verjaar en ons sou ná skool na haar verjaardagpartytjie toe gaan. Dit was ’n hamburger-en-melkskommel-aand. Simy het nog gesê watter geur sy melkskommel moet wees.”
Ná skool het Corna vir Simy gesê sy gaan gou die blomme voorberei in die garage. Tien minute later het sy by sy kamer ingeloer en hom op sy bed sien lê.
Toe sy nader gaan, het sy gesien daar is groot fout. Daar was ’n koeëlwond agter sy oor.
Corna het dadelik haar man by die Sterrewag gebel, en haar bid-vriendin. En die plaaslike ouetehuis se verpleegsusters. Daar is nie dokters op die dorp nie.
“Ek was in ’n skoktoestand en het onder my kind gaan sit. Ek het ’n handdoek geneem en om sy kop gedraai, hom op sy bleek wange gesoen. En begin bid.
“My vriendin, my man en die ambulans was gou daar. Simy het nog geleef. Ek het geweet die Here is in beheer.”
By Sutherland-hospitaal is Simy aan suurstof gekoppel. “Ek het geweet ek moet nou net op Jesus fokus,” vertel Corna. “Al my naby-vriende was daar om ons te ondersteun.
“Ek het toe besef ek staan voor God met my belangrikste besitting.”
’n Heilige oomblik
“Ek was toe reeds sewe jaar lank ’n opgeleide Jesusdissipel, en ek het geweet hoe moeilik dit is om aan Hom getrou te wees.
“Jesus het my langs Simy se bed ontmoet. Vir die eerste keer het ek verstaan wat dit beteken om heilig te wees, want daar was heiligheid om Simy se bed.
“Ek het besef ek staan nou langs die lewende God. En ek was in die geestesrealm by Jesus. Ek het gebid. My geestelike mentor het by my gestaan. Toe ek die trane in sy oë sien, het ek besef dat my kind dit nie gaan oorleef nie.
“Intussen het daar ’n geweldige donderstorm buite losgebars. My kind het in blou kolle uitgeslaan. Daar het ’n harde bui reën oor die hospitaal uitgesak, en ek was daarvan oortuig die Here sien ons trane.
“My geestelike mentor sê toe: ‘Simy, dit is Jesus wat voor jou staan. Gaan nou na Hom toe in vrede, neem Hom aan. Jesus wag vir jou.’
“Die volgende oomblik het daar ’n geweldige skerp lig op my kind se gesig gekom. Dit het my oë gebrand. Ek het die verpleegster gevra of sy nie die gordyn kan toetrek nie, want die lig brand my kind se gesig.
“Ná die tyd het ek besef dit was die Heilige Gees wat Simy kom haal het.
“Ek het Simy op sy neus gesoen, op sy wange, en oral waar dit warm was. Gou het die koue oor hom begin kom.
“Maar ek het die Here se vrede beleef, wat alle verstand te bowe gaan. Dit was ’n heilige oomblik.
“Die Here het ’n rustigheid oor my gebring. Daar was geen paniek nie.
“Want wat is ’n ma se grootste vreugde? Om te weet haar kind is veilig. En ek het geweet Simy is veilig. Toe ons buite kom, was daar ’n groot reënboog. Alles was tekens van God.”
Die Here se heerlikheid
“Ons vriende, asook die hele gemeente, het ons met bystand en liefde toegevou. Sutherland het tot stilstand gekom. Almal het geweet die Here het vandag ’n 13-jarige kind kom haal.
“Die impak wat Simy se dood op Sutherland gehad het, was kragtig. Dit was ’n diep geestelike deurbraak.
“Die besef dat my geliefde kind by Jesus is, was ’n werklikheid. Die seer in my hart was egter so groot dat dit gevoel het asof ek ’n opehartoperasie ondergaan het. My hele liggaam was in ’n skoktoestand.
“Maar die Here se heerlikheid het meer geword as die seer.
“Hy het aan my geopenbaar dat dit ’n fratsongeluk was. Dit is uitgewys dat die .22-patroon van ver af gekom het, dat dit agter Simy se oor in is. Die impak was so laag dat dit nie kon uitgaan nie.
“Hieroor het die Here my sy vrede gegee. Dit maak nie saak wat mense sê of dink oor wat tydens die ongeluk gebeur het nie; ons weet, en die Here weet.”
Alles is vir ons geleen
Simy is op hul plaas Bankdrif begrawe. Dit was ’n reusebegrafnis en die Here Jesus is daardie dag verheerlik.
“’n Week later lê en huil ek in my bed. En die Here stuur vir my ’n reënboog wat ek deur die venster kon sien.
“Ek het opnuut besef Simy is veilig by Hom.
“Ek beleef steeds minder goeie tye. Daar is seer dae wanneer dit voel my hart is buite my liggaam, dat dit in stukkies geskeur is. In sulke tye het ek geleer dat die Heilige Gees my enigste Trooster is.
“Die Paasnaweek laat my besef dat as God nie sy enigste Seun vir ons gegee het nie, mý seun nie vandag by Hom sou gewees het nie.
“Om my seer te hanteer, gee ek al my aandag aan die hemelse dinge. Aardse – en materiële dinge het geen waarde meer vir my nie. Ek fokus op die Skrif.
“Maar die seer bly.
“Ek het ook besef die Here kan wegneem soos Hy wil. Alles is vir ons geleen. En ek weet die liefde wat ek vir my kind het met ’n miljoen vermenigvuldig moet word voordat ek ’n idee kan kry van hoe lief die Vader my het.
“Wie is ek, kleiner as ’n sandkorreltjie, om vir God te vra hoekom Hy my kind geneem het? Daardie voorreg is my nie beskore nie, want ek ken God se wonderwerke. Ek leef vir Jesus en kry my vertroosting uit die Woord.
“Hierdie tragedie het my en Phil baie nader aan mekaar gebring. Ons het geen verwyte nie. Ek sal nooit twyfel aan my God wat vir Simy geskep het en hom ook kom haal het nie.
“Ek kan nou opkyk na die sterre, my oë opslaan na die berge, en vra: ‘Waar sal my hulp vandaan kom?’
“My hulp is van die Here Jesus. Daarom wil ek sy Naam verheerlik en aan Hom al die eer gee.”
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.