Ons ry in die motor en een van my seuntjies vra my hoe dit in die hemel lyk. Ek vertel hom dat niemand regtig weet hoe die hemel lyk nie; ons sien dit eers wanneer ons doodgaan. Maar ons weet dat ons dan vir ewig by Jesus gaan wees.
Die twee vertel my toe dat Oupagrootjie reeds weet hoe die hemel lyk. Waarop my oudste uitroep: “Ek wil ook doodgaan sodat ek by Jesus kan wees!”
Dan sê hy dat hy sy asem gaan ophou en ophou … totdat hy heeltemal ophou asemhaal sodat hy hemel toe kan gaan.
’n Normale deel van ons menswees
My kinders het my laat dink aan die verlange na God wat ons in ons hart dra. Die ou kerkvader Augustinus het gesê dat die Here ons hart vir Hom gemaak het en dat ons rusteloos sal wees totdat ons rus in Hom sal vind. Dié rusteloosheid is ons kompas huis toe, na ons Vader toe. Ons het ’n ingebore ontevredenheid met die wêreld waarin ons ons bevind, en ons weet dat ons uiteindelik iewers gaan beland waar ons vir altyd met God verenig sal wees.
Ek wil nie hierdie verlange in my seuntjies ontken of wegpraat nie. Ek wil dit erken as ’n normale deel van ons menswees. Die heilige rusteloosheid spoor ons dikwels aan tot optrede. Dit het tot gevolg dat ons die wêreld ’n beter plek wil maak, en dit vuur die hoop aan dat dinge wel beter kan word.
Ek vertel my seuntjies dat ons soms voel dat ons wil doodgaan om by Jesus te kan wees, daar waar net liefde is en geen pyn nie. Ek verduidelik dat ons hier op aarde leef omdat God dit so wil hê. Die feit dat ons hier is, is ’n bewys dat ons ’n taak hier het. Paulus skryf in Efesiërs 2:10 dat ons God se maaksel is, in Christus Jesus geskape om die goeie werke te doen wat God voorberei het.
’n Gawe en ’n belofte
Die ontevredenheid wat ons hier ervaar en die verlange na God moet ons aanspoor tot ’n dieper verhouding met Hom. Ons moenie ons rusteloosheid probeer verdryf met wêreldse dinge nie (soos die verlore seun). En dit baat ons niks om weg te hardloop of weg te kruip nie (soos Adam en Eva). Sulke optrede sal nooit die onvergenoegdheid in ons hart kan stil maak nie.
Die verlange na God is eerder ’n gawe, wat ons in die arms van ons liefdevolle Vader dryf. Ons moet voortdurend smag na meer van God in ons lewe, en ons verhouding met Hom verdiep.
Hierdie verlange is ook ’n belofte wat God in ons hart geplaas het, en dit loop uit op die heerlikheid wat alle dinge oortref.
Dit is, dink ek, waarom my seuntjies, so klein soos hulle is, iets daarvan voel.
Ja, dis moeilik op aarde. Hier is soveel seer en hartseer. Maar Jesus weet alles daarvan, want Hy was ook in ons wêreld. Hy het die gebrokenheid gesien en self beleef. Hy was ook nie tuis hier nie. Hy het, trouens, meer as een keer gesê dat dit nie sy plek is nie, byvoorbeeld in Matteus 8:20: “Jakkalse het gate en voëls het neste, maar die Seun van die mens het nie eens ’n rusplek vir sy kop nie.” Hy het nietemin voortgegaan om sy Vader se wil te doen.
’n Mens kan nie besluit wanneer jy hemel toe gaan nie. God sal jou kom haal wanneer jou werk op aarde afgehandel is. Terwyl ons hier is, kan ons egter rus in die wete dat dit God se wil is dat ons hier lewe. En dat dit sy wil is dat ons op ’n dag sal huis toe gaan, en nooit weer van sy ewige liefde geskei sal word nie.
- Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.