My jongste neem swemlesse. Wanneer hy by die swembad kom waar die les aangebied word, spring hy onmiddellik in en probeer vryslag swem. Met min sukses.
Hy was nogal teleurgesteld toe hy besef dat jy, voordat jy vryslag kan aandurf, eers waterveiligheid moet aanleer. Daarna is dit “hondjieswem”. En eers dán leer jy verskillende swemstyle aan.
Jy kan nie stappe oorslaan nie, want dis onveilig. Elke stap bou op die vorige een. Jy kan seerkry of selfs verdrink as jy nie by die begin begin nie.
’n Langsame proses
Dis ’n stokou probleem: Ons begin nie graag voor nie; ons wil alles nóú hê, op die daad. En as dit om die een of ander rede wel gebeur dat ons dinge dadelik kry, kan ons dit nie hanteer nie. Te veel, te gou. Dis nie goed vir jou nie, en dis dikwels onveilig.
Die Spaanse non en mistikus Teresa van Avila het op ’n keer ’n visioen gehad waarin sy God se hande gesien het. Die boodskap wat sy daarmee saam ontvang het, was dat God, in sy genade, geweet het dat sy nie sy verheerlikte liggaam in sy volheid kon aanskou nie. Die hande was ’n manier om haar stadigaan voor te berei om uiteindelik meer van God te kon sien.
LEES OOK: Om eenvoudiger te leef is om meer plek vir sielsdinge te hê
Ons kyk dikwels na mense wat goeie dinge doen, en wonder waarom ons nie soos hulle kan wees nie. Ons vra ons af: Waarom kan ons nie oor hulle soort geestelike gawes beskik nie? Soms vra ons selfs vir God om ons van daardie gawes te gee. Meestal weet ons nie waarvoor ons vra nie …
Ons moet eers groei in ons vermoë om sekere gawes in ontvangs te neem. Daarom is God besig om die regte omgewing te skep – in ons en om ons – sodat ons op die regte tyd gereed sal wees. Hy leer ons om vasberade te wees en om die regte geestelike dissipline te handhaaf. Op dié manier berei Hy ons voor om meer van Hom te kan beleef. Daar is nie ’n manier waarop ons die proses kan vooruitloop of bespoedig nie.
En só word ons geleidelik blootgestel aan God se teenwoordigheid in ons lewe. Meer en meer van sy lig stroom in. Gaandeweg raak ons daaraan gewoond. Ons besef ons is in goeie hande. Ons weet immers dat Hy, wat die goeie werk in ons begin het, dit enduit sal voer (Fil 1:6).
Wat doen ons met wat ons ontvang?
As dit dan so ’n logiese, verstaanbare proses is, waarom sukkel ons om dit te aanvaar?
Omdat ons sukkel om te wag. Omdat ons maklik vergeet dat dit Hý is wat met ons besig is, en dat Hy dit op sy eie tyd en op sy eie manier doen. Hy ken ons en Hy weet waartoe ons in staat is. Hy ken ons beperkings. Hy weet wat is die gevare.
Daarom sal dit goed wees as ons op hierdie lewensreis ons begeertes in heroorweging neem. Om dit, waar nodig, aan te pas. Om te besef dat Hy, wat ons ken, die beste weet. Dis tog Hý wat ons drome en ideale aan ons gegee het en Hy weet wat om daarmee te doen. En wanneer.
Wat dan nou van die gawes wat ons ontvang (of nie ontvang nie)?
Ons sal nooit weet waarom sekere gawes ons beskore is en ander nie. Ons kan tog nie aan Hom voorskryf nie! Daarom moet ons dankbaar wees vir wat ons kry, en dit ten volle ontwikkel en met oorgawe gebruik.
En ons moet nooit vergeet nie dat die gawes wat ons ontvang ook ter wille van ons medemens aan ons gegee is. Ja, daarmee dien jy jou naaste.
Ek dink dikwels aan die gelykenis van die muntstukke se boodskap: Hoe meer jy ontvang, hoe meer verwag God van jou.
Ons kan dit nooit self regkry nie. Hy moet ons dus help om dit te gebruik wat Hy aan ons toevertrou het. As dit vyf muntstukke is, moet Hy ons help om dié oorvloed te benut. En as dit drie is, of slegs een, moet Hy ons help om alles daarmee te bereik wat ons kan. Sodat ons medemens gedien word en sy Naam verheerlik word.
- Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.