My selfoon weet meer van my lewe as wat ek wil erken. Hy weet hoeveel keer ek my timer stel, en watter tyd ek die meeste gebruik: 15 minute en 50 sekondes. Dís die tyd waarin ek probeer konsentreer, probeer werk en probeer onthou.
Ek hou van roetine en ‘n voorspelbare vloei. Maar deesdae is al wat oorbly, versplinterde stukkies van die skedule waarvan ek so hou. Dis “Mamma, waar’s my skoene?” of “Kan ek ’n broodjie kry?”, nog ’n vergadering, ‘n sportoefening, die deurklokkie wat lui, en ’n dringende “Maaaaaaa!” vanuit die badkamer. My kreatiewe energie voel gekneus tussen kinders se behoeftes en die eindelose stop & go van die dag. En dan voel ek natuurlik ook skuldig hieroor en oor my onvermoë om aan ‘n goeie plan te dink om dinge beter te laat vloei.
Een middag kyk ek weer na daardie timer en die 15 minute en 50 sekondes wat verby tik. Ek vra, vieserig, vir die Here: “Wat moet ek hieruit leer, Here? Sê net vir my wat die les is dat ek dit kan leer en die toets slaag.”
‘Vertrou jy My met wat jy nie beplan het nie?’
Wat as God my nie net roep om produktief te wees nie – maar om teenwoordig te wees? Wat as elke “Mamma!” nie ‘n onderbreking is nie, maar ‘n oproep tot ondersoek oor wat regtig in my hart aangaan? Want dis die ongesonde ontevredenheid met elke onderbreking wat my laat wonder wanneer ek so onaanpasbaar en onwillig geword het.
Ek begin stadig verstaan dat elke onderbreking ‘n ontdekkingsproses is wat my leer:
- Om te bid in my frustrasie, nie net in stilte nie.
- Dat onderbrekings nog elke keer die tyd en plek was waar God met my gepraat het.
- Dat as gevolg van genade, onbeskryflik groot, ek hierdie lewe kan deel met mense wat my nodig het.
- Dat geloof en vertroue vereis dat ek buigsaam moet wees (en dat my ongelukkigheid met onderbrekings so bietjie lyk soos my vierjarige se tantrum).
- Onderbrekings is dikwels uitnodigings, maar dan moet jy ‘n sagte hart bo ‘n skedule kies.
- Dat elke onvoltooide taak ook onlosmaaklik deel is van hierdie oefenwedstryd op aarde voordat my tyd hier in elk geval verby is.
Tussen toebroodjies smeer, e-posse beantwoord en swemklasse is daar ’n heilige uitnodiging om te glo: God werk nie net in ons planne nie, maar ook in ons onderbrekings.
Vinnige en praktiese raad om te probeer:
- Voordat jy reageer op onderbrekings, wag en bid: “Here, U is in hierdie oomblik. Wys my U hart.”
- Elke keer as as jy wil wegkruip in die badkamer, bid: “Here, laat my rus in U ritme.”
- Wanneer jy gespanne voel oor ‘n sperdatum, bid: “Here, help my om hierdie klein splinters van tyd te gebruik tot U eer.”
Ek het 16 kort gebede vir myself geskryf en in my kantoor opgeplak om te memoriseer en dit help baie! Maar ek oefen nogsteeds elke dag om onderbrekings te sien as geleenthede om ander te dien. Gelukkig, soos met enige gewoonte, weet ek dit sal makliker raak met tyd.
As jy dit ook nodig het, kan jy dit gratis aflaai hieronder:
Jesus se voorbeeld
Jesus het gereeld onderbrekings ervaar, net soos wat ons heelwaarskynlik nooit sonder dit sal wees nie, maar wat ongelooflik is, is hoe Hy daarop reageer:
- Die vrou met die bloedvloei (Markus 5:21–43)
Jesus was op pad om ’n dogtertjie te gaan genees, toe ’n vrou Hom in die skare aanraak vir genesing. Hy het alles gestop en gevra wie Hom aangeraak het. Daarna het Hy met deernis met haar gepraat en haar genees. Onderbrekings was nie vir Jesus ’n probleem nie – dit was geleenthede vir bediening.
- Die blindes wat roep (Matteus 20:29–34)
Twee blindes roep herhaadelik na Jesus terwyl Hy op pad is, soveel so dat die skare hulle probeer stilmaak. Weer stop Jesus, vra wat hulle nodig het, en genees hulle. Jesus gee aandag aan mense wat ander as steurend beskou. Hy gee prioriteit aan mense bo roetines.
- Die kinders wat na Hom toe kom (Markus 10:13–16)
Mense bring kinders na Jesus toe – die dissipels raas met die mense en probeer hulle wegstuur. Toe Jesus dit hoor, was Hy kwaad en sê vir die dissipels: “Laat die kinders na My toe kom en moenie hulle keer nie…” Die kinders was belangrik genoeg vir Jesus om nie net te stop nie, maar om hulle te seën en te omhels.