Dit was daardie gewoonte voor die koffiepot wat die verskil gemaak het. Elke oggend, tussen die geroesemoes van kinders wat pap eet en melk mors, het ek drie sinne vir die Here gefluister. Terwyl ek die bone maal, die koffie maak en my koppie vul, kon ek my hart en gedagtes laat fokus op dié eenvoudige gebed:
“Skep vir my ‘n rein hart, o God. Vernuwe my gees en maak my standvastig.”
Elke oggend. Saam met elke koppie koffie. Selfs al was dit chaos. Selfs al het ek ver van die Here af gevoel.
“Skep vir my ‘n rein hart, Here …”
‘n Rein hart wat u fluisterstem sal kan hoor, selfs tussen kinders wat ontevrede is oor die kleur van die bakkie waarin ek hulle pap wou skep. Selfs wanneer my kinders stout is en dit lyk asof ek totaal as ma misluk.
‘n Rein hart waarin die geduld welig groei. Waarin genade vir ander nesskop en liefde my selfsug smoor.
‘n Rein hart wat die dinge van daarbo bedink, en God se koninkryk soek. Hier in my huis. Hier in my huwelik. En in my moederskap.
Skep vir my ‘n rein hart, o God, sodat ek nie ontevrede raak omdat ek nie het wat ander het nie. Nie lyk soos ander lyk nie. En nie so geestelik gevorderd soos ander voorkom nie.
‘n Rein hart, sodat ek gedurig vir my man en kinders sal bid. Sodat ek kan raaksien hoe U in hulle werk, en saam met hulle die wonderlike roeping ontdek wat daar in Christus vir hulle opgesluit lê.
‘n Rein hart wat gedurig vernuwe word. Wat ‘n dag se foute, my gebrokenheid en tekortkominge voor Jesus se voete gaan aflaai. En wegstap met ‘n nuwe gees en ‘n nuwe ywer om al die eise, wat my soms onderkry, saam met die Heilige Gees aan te pak.
“Skep vir my ‘n rein hart, o God. Vernuwe my gees en maak my standvastig.”
Standvastig, sodat ek nie my balans verloor deur myself met ander ma’s te vergelyk nie. Standvastig, sodat ek kan dissiplineer – nie uit woede nie, maar liefde. Standvastig, sodat ek kan opoffer en ander eerste stel. Sonder dat ek voel ek gee alles op.
‘n Rein hart, ‘n nuwe gees. En standvastig – met my een hand in God s’n. En ‘n koppie koffie in die ander.