Toe stap ek gou kombuis toe om tandepasta op die lysie te gaan skryf. Die kinders kon vanoggend nie tande borsel nie …
En op pad kombuis toe, sien ek die karretjie in die gang lê – die een waaroor Boeta gister so gehuil het.
En op pad speelgoedkis toe, sien ek die blompot op die kamermat. Met die onkruidblomme in wat Sussie gister gepluk het en wat ek dadelik in ‘n pot vol water moes sit. “Ons hou dit net hier in die kombuis, want as dit omval op ‘n mat is dit ‘n gemors!”
Toe stap ek gou, blompot in die hand, kombuis toe. En op pad soontoe roep Sussie. Sy het hulp in die badkamer nodig. Sussie wil weet waarom ek die blompot badkamer toe bring. “Dit ruik lekker,” antwoord ek gou voordat ek vinnig kombuis toe stap. Lysie toe.
Skielik vang vanoggend se koppie koffie my oog. Halfgedrink.
Toe stap ek vinnig yskas toe, want die lysie is daar opgeplak. En toe is Boetie hier teen my been: “Mamma, ek is honger.”
Toe gryp ek gou die jogurt en ‘n bakkie en vra dat hy solank ‘n lepel bring. Maar hy bring nie die lepel nie. En ek vergeet om tandepasta op die lysie te skryf …
Maar ons sit en jogurt eet, en ek verwonder my aan die klein handjies wat so behendig lepelsvol jogurt kan opskep. En ek stap gou om my koppie met die laaste bietjie koffie te gaan haal.
“Mamma, ek wil ook hê,” sê sy sustertjie. Ek gee vir haar my jogurt.
En toe bid ek gou om dankie te sê. Want hierdie is die paar sekondes van stilte. En hierdie is my gebedsplek. By wange vol jogurt en blinkoogkinders.
Toe stamp Boetie sy water om en ek spring op om die lappie te gaan haal. En op pad soontoe skop ek ‘n teddiebeer en ‘n skoen uit die pad.
Die aand in my bed spring my gedagtes rond soos my voete vandag. Ek bid, maar dan onthou ek van die vleis vir môre se middagete! Ek stap gou vrieskas toe om dit te gaan uithaal, maar op pad soontoe maak ek gou seker dat Boetie homself nie weer oopgeskop nie.
Ek lees Bybel, maar onthou toe die tandepasta! Ek stap gou lysie toe, en daar in die halfdonker kombuis tref dit my.
My stiltetyd is nie meer groot happe brood nie. Dis krummels – hier en daar. My gebede, my stiltetyd, my ontmoetings met God is nou net broodkrummels. Krummels ja, maar krummels van die Lewende Brood.