Jy, my nat-agter-die-ore graad een-dogtertjie, het gewen by jou heel eerste grootskool-atletiekbyeenkoms. En Mamma het gehuil. Ek het gaan ugly cry in die badkamer vir 15 minute. Pappa weet. Want ek het vir hom ‘n stemboodskap (probeer) stuur. Mamma het nie gehuil oor die wen nie, al bars my hart van trots. Ek weet wen is nie alles nie.
Maar ek was bly vir jou. Ek was ook bly vir my en pappa.
Want vir daardie beentjies van jou was ons al lief in my maag. Dis die eerste van jou lyfie wat ons gesien het tydens die sonarafspraak by die dokter. Daardie einste beentjie waaroor die dokters destyds so bekommerd was … Jou beentjie makeer niks nie. Jý makeer niks nie. Jy is net ons dogtertjie, ons eie pop in regte lewe. En jy het gewen. Maar meer as dit – jy het mooi gehardloop, jou alles gegee. Al haat jy dit om te wen.
Jy het ook sélf gestap tot by die plek op die pawiljoen waar jy moes wees; mamma moes jou aflaai by die hek en het gebly staan totdat jy soos ‘n piepklein miertjie in die skare van die goue-span verdwyn het. Jy het sélf, met jou eie beursie en tandemuisgeld, Pringles gaan koop by die snoepie. Jy het sélf, sonder Mamma, geweet dis tyd om badkamer toe te gaan. Jy kon sonder my stap na die publieke badkamer en niemand het jou “ontvoer” nie. Jy, en jou graad ses-niggie, het selfs onthou om weer sonskerm aan te smeer, want ouers mag nie by julle gesit het nie. En ek moes werk en Boetie het ‘n maagvirus gehad, so ek kon dit nie self doen nie. Ek het gehoop jy onthou.
Jy, my Pop, word groot. En dís hoekom Mamma huil.
Want ek het gedink dis wat ek wil hê: Jy wat my nie meer vir alles onder die son nodig het nie. Maar dít is moeilik vir Mamma. Ek is trots op jou, maar asseblief, kan jy my vir oulaas nodig hê? Ek het nooit geweet hoe nodig ék dit het dat jy my nodig het nie.