DEUR MARELIZE VAN RENSBURG; FOTO\’S: RACHELLE B PHOTOGRAPHY
“Jy en alles waarvoor jy staan, die hele somtotaal van wie jy is, is vir die Here, vir jouself, jou man, jou kinders en vir die gemeente ’n verleentheid.”
Dié woorde was ’n uitklophou. Iemand in my gemeente het dit goedgedink om my dit toe te snou net voordat ek as musiekleier die lofprysing en aanbidding by ons kerk moes lei.
Die woord “verleentheid” het in my gees vasgeslaan. En iets binne-in my het gebreek.
Ek het met die musiekleiding voortgegaan, maar daar was ’n oneindige seer in my wat ek nie in woorde kon uitdruk nie. My selfwaarde, my menswees, is eensklaps van my gestroop.
Wie ken die skade van skinderstories …?
Die rede vir die persoon se uitbarsting spruit waarskynlik uit die feit dat ek onlangs my skoonheidsonderneming verloor het. Dit was vir ons gesin ’n groot finansiële terugslag; die inkomste uit dié onderneming het met my seuns se universiteitskoste gehelp. Ons het soveel geld verloor dat ek en die balju mekaar later op die naam genoem het.
Die spreekwoordelike domino’s het die een ná die ander geval – en eensklaps was daar geen inkomste nie.
Dié storie het boonop begin “stertjies” kry …
Ek het ook begin agterkom hoe dit voel wanneer eens goeie vriendinne jou in ’n winkel se gang raakloop – en skielik omdraai en ’n ander koers kies. Of ernstig oor die foon begin praat.
Wie weet watter skade skinderstories aanrig …?
LEES OOK: ‘Dáárdie skade aan ’n kind is vir altyd’
Maar daardie mens se harde woorde oor die verleentheid wat ek vir die kerk is, was nie die eerste van dié aard wat ek moes aanhoor nie. ’n Tyd gelede het ’n welgestelde dame in ons gemeente dieselfde soort dinge kwytgeraak.
Sien, ek het my lewe lank ’n probleem met my gewig. Dis nie soseer vir mý ’n probleem nie, maar daar is altyd een of twee ander vir wie dit klaarblyklik erg pla. Dié vrou het ’n treetjie verder gegaan en ’n dringende afspraak met my gemaak om dit wat dan nou vir die gemeente so ’n verleentheid is, met my te bespreek.
Volgens haar het sy “haar knieë deurgebid” oor dié saak. Sy het voorgestel dat ek voortaan agter in die kerk sit, iewers waar ek nie té opsigtelik is nie. Toe ek sê dit gaan moeilik wees omdat ek die musiekleier is, het sy voorgestel dat ek eerder nie my mond in die kerk oopmaak nie.
Dit stroop jou
Die hartseer was dat ek in daardie stadium ernstige mediese uitdagings beleef het. Ek het etlike verskillende hormoonaanvullings gebruik vanweë die groot aantal miskrame wat ek vroeër gehad het. Dié behandeling het tot gevolg gehad dat ek soms baie gewig opgetel het.
Al die kwetsende woorde het my in ’n afwaartse maalkolk ingetrek – depressie, angs, slaaploosheid, verdere gewigstoename, en vele meer. My selfbeeld en selfwaarde, my passie, my bediening en my menswees was onder hewige druk. Ek weet hoe dit voel wanneer een slaappil nie meer genoeg is nie, en twee of drie die antwoord word. Wanneer jy begin om ook ander middels te gebruik – nie bloot om te kan slaap nie, maar om te vergeet.
LEES OOK: KYK: ’n R100-noot mishandelde atleet se kaartjie na hoop
Verbale mishandeling is ’n slinkse manier om jou te stroop van wie jy is. Die afbrekende woorde het in my gedagtes weergalm lank nadat die ligte reeds gedoof is.
Ek onthou dit nie omdat ek nié wil vergewe nie; dit het trouens niks met vergifnis te doen nie. Om te vergewe is maklik, maar hoe vee ’n mens die woorde uit jou gedagtes uit? Geen liefdesbetuiging kan woorde “ongesê” maak nie, en jy kan nie woorde terugtrek nie.
Heel word is ’n proses
Jy het mense vir wie jy lief is, en daar is mense wat jou liefhet; nogtans voel jy stoksielalleen. Dis egter juis in hierdie stilte waar jy jouself beter kan leer ken en waar jy die waarde van opregte vriendskap eerstehands ervaar.
Terwyl ek met al dié dinge geworstel het, kon ek meer van die Here leer. Ek het Hom beter leer ken en die krag van sy Woord ervaar. Dis slegs genade wanneer jy die Here se hand ten spyte van jou omstandighede kan raaksien.
Daar was dae en nagte waartydens ek met oorgawe op my knieë gegaan het – en sonder om ’n woord te sê, het daar, stelselmatig, heling deur my lewe begin vloei.
In hierdie tye het ek die waarde van vas en gebed ervaar. Ek het die impak beleef van die Boumeester wat nuut skep en stelselmatig die kleur in my lewe terugbring.
Ek is vandag nie meer stukkend nie, nie meer sonder hoop nie. Ek moes egter herhaaldelik opstaan en die kleur van my lewe verander. Dit was ’n proses. Ek moes elke dag besluit dat ek nie sal toelaat dat ander mense se krenkende woorde meer as God se Woord werd is nie.
En soos jy verder van hierdie verwoestende mishandeling af wegbeweeg, en God se Woord jou lewe begin verander, ontwikkel daar nuwe denkpatrone.
Ek hoef nie meer soveel medikasie te gebruik nie. Ek kan vandag in ’n winkel instap sonder om af te kyk omdat ek oogkontak met bekendes vrees. Want ek het deur die skool van die lewe gekom.
En ek weet dat al het ek dalk verkeerde keuses gemaak, dit nie my waarde as mens beïnvloed nie.
Ek het ook begin skryf. Musiek, gedigte, boeke. En ek skilder. Dis alles dinge wat ek nooit sou gedoen het as ek nie met hierdie bittere pyn gekonfronteer is nie.
Ek is nie bang om myself op dié manier bloot te stel nie. As slegs een vrou wat haar selfwaarde verloor het vandag uit my verhaal kan moed skep, was dit die moeite werd.
Wat van jou?
Dalk is jy vandag ook op so ’n plek, met ’n behoefte aan iemand wat die ruïnes en afgebrande mure van probeerslae en mislukkings kan herbou. Jy hoef nie in hartseer en pyn te bly leef nie, en jy hoef nie toe te laat dat ’n ander mens die reënboogkleure in jou lewe wegneem en dit met die donkerte van verbale mishandeling vervang nie.
Jy kan ook met die Here se hulp opstaan. Jy hoef nie harde, krenkende woorde oor jou lewe te aanvaar nie. Hoor die Woord van die Here, sien sy hart en weet dat Hy ’n lied oor jou lewe sing.
* Marelize van Rensburg is ’n skrywer wat in Witrivier woon. Vir meer inligting, klik hier.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.