DEUR MARINDA SWYSTOWYCZ
“Maak jou kinders op Spreuke groot.”
Dis goeie raad soos dié wat ek en my twee susters steeds volg.
Maar in hierdie dae speel sommige van Ma Daphne (84) se gesegdes wegkruipertjie met my gedagtes. Ek moes al dikwels my susters bel en vra: “Onthou julle? Wat nog? Het julle ook dit vir jul kinders geleer?”
Dit was lekker om weer terug te dink.
In die Karoo waar ons as jong kinders gebly het, moes Pa soms vir sake weggaan. Ma het dan die lekkerste tjips-en-tjops in die koolstoof se oond gerooster. Géén groente nie. Dit bly steeds ons gunstelingdis.
Ma het ons geleer om kondensmelk met ’n lepel uit die blikkie te eet. Dit was wel nie nodig om dit vir óns kinders te leer nie; hulle doen dit sommer vanself.
Ma het dikwels ’n boek op ons kop gesit om ons te laat oefen om soos dames te loop. Dan sê sy: “Skouers terug; lig die buuste; kyk voor julle!” Ons eie dogters is nogal goed daarmee …
Ma kom van Port Elizabeth en praat baie goed Engels. Haar reël was dat ons een dag per week slegs Engels praat, na Engelse stories luister en reg spel. Jare later kon ons ons eie kinders só touwys maak.
Ma was op ’n keer selfs ’n rugbyspeler. Pa het haar leer skop. En ons het na die wedstryd gaan kyk – Noupoort teen Middelburg. Ons het gelê op die kar se toeter as sy verby ons gehardloop het, ’n mooi skraal vroutjie met ’n bos hare. In haar man se rugbyklere.
Sy was ook ’n kranige pluimbalspeler, en soms het sy en Pa in die dorp se rolballiga gespeel. Sy en Pa sou boonop die deelnemers aan deesdae se Dancing with the stars op hul neus laat kyk as hulle eers met hul tango en “foxtrot” wegtrek.
LEES OOK: Vou jou kinders toe in ’n gebede-kombers
’n Ma vol sport en sports. In my loopbaan as netbalafrigter was Ma dikwels my noodlyn. “Ma, bid vir my span; hulle speel in die eindstryd!” Ek glo mos Ma het ’n direkte verbinding hemel toe. Haar kleinkinders se sportprestasies is ook een van haar hoogtepunte.
In ons Kaapse kombuis, nadat Pa kosgemaak het en tussen die was en die afdroog van die skottelgoed deur, het Ma gesing: “With Christ in my vessel I can smile at the storm.” Ons het nie gewaag om te kla nie – maar het die liedjie darem ook vir die lekkerte gesing, en vir daardie gevoel van eenheid, van familie wees. Dis nou jare later, en ons en ons kinders ken steeds die liedjie.
Ma maak die lekkerste peri-peri-hoendergereg, en ons almal ken nou die resep.
Ek onthou ook hoe Ma, ná Pa se dood, snags langs Boeta se bed gesit en vir hom gebid het. Pa se dood het hom as 12-jarige hard getref.
Dit is Ma wat in daardie tyd nooit hulp gevra het nie en soos ’n wafferse “Joan of Arc” self vir haar bestaan geveg het. Dít het sy haar kinders geleer: “Met die Here aan my sy, spring ek oor ’n muur.” Hoe dikwels haal ons dit nie vir ons eie kinders aan nie …
Ons is so dankbaar dat Ma nog hier is vir ons, en dat Ma na ons lief en leed luister. Dankie dat Ma vir ons sê “ek is lief vir jou” en “love you”. Dankie vir Ma se drukkies – vir ons en vir Ma se kleinkinders. Ons ken Ma as ’n ma wat bid vir haar kinders, en so bid ons nou ook vir mekaar en mekaar se kinders.
Ma se gunstelingteksvers, wat nou ook ons s’n is, is Matteus 6:33: “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.”
Dié herinneringe is die beste erfporsie ooit.
- Marinda Swystowycz (63) woon in Melkbosstrand; René Lourens (65) is van Thornton, Kaapstad; en Tania Pieters (58) woon in Middelburg, Mpumalanga. Dié drie sussies se laatlam-boetie, Ettienne du Toit, woon in Table View, Kaapstad.