DEUR SIMONE GAUCHE
Daar kom tye in ’n mens se lewe wanneer deure oopgaan op plekke waar jy dit nooit sou verwag het nie. Daar kom eweneens tye wanneer dit vir jou voel die deure klap hard toe in jou gesig. Dan voel dit asof niks uitwerk soos wat jy dit wou hê nie. Jy is kwaad, jy raak moedeloos.
Kom ons lees van die waarsêer Bileam en sy donkie. Dié vreemde storie is in Numeri 22 opgeteken en handel oor Balak, die koning van die Moabiete, wat vir Bileam laat haal het om die Israeliete te vervloek. Aanvanklik wou die Here nie hê Bileam moes gaan nie, maar Balak die Moabiet hou vol met sy pogings om Bileam by hom te kry.
Uiteindelik gee die Here toe, maar Hy stel dié voorwaarde: Bileam mag net doen wat Hý hom sê om te doen.
Hierop waarsku Bileam die Moabiete by voorbaat dat dit nie saakmaak hoe goed hulle hom betaal nie, hy mag niks sê of doen wat teen die Here se opdrag is nie.
So het Bileam sy donkie opgesaal en met die Moabitiese amptenare saamgegaan.
Toe gebeur dit: Op ’n reguit stuk pad draai die donkie skielik weg en loop sy eie koers. Bileam slaan die donkie: Kom terug op die pad!
Bileam vra sy medereisigers om verskoning en hulle sit die reis voort.
Hulle kom by ’n pragtige wingerd. Daar is ’n smal deurgang, met ’n tuinmuur aan weerskante. Die donkie skuur teen die muur en druk Bileam se voet teen die muur vas. Weer slaan Bileam aan die donkie.
Toe hulle later by nog ’n smal deurgang kom, gaan lê die dier op Bileam. Hierop gryp Bileam ’n stok en slaan die donkie.
Toe praat die dier en sê: “Is ek nie die donkie waarop jy nog altyd gery het nie? Maak ek altyd so met jou?” (Num 22:30).
Daarop maak die Here Bileam se oë oop, en hy sien die Engel van die Here wat in die pad staan met ’n ontblote swaard in die hand. Toe buig Bileam voor die Engel – en vir die eerste keer sien Bileam wat die donkie elke keer gesien het.
“Die Engel van die Here vra hom toe: ‘Waarom het jy jou donkie nou al drie keer geslaan? Ek het jou kom voorstaan, want Ek sien jy is op ’n gevaarlike pad’” (Num 22:32).
* * *
Ons beleef dikwels dat daar deure toegaan; ons besef nie dat ons op dié manier beskerm word nie, want ons bevind ons op ’n gevaarlike pad. Net soos Bileam kan ons nie die gevaar raaksien nie.
Wat doen ons dan?
Soos Bileam, neem ons die donkie kwalik. Ons is kwaad vir die een wat nie vir ons die werk wou gee nie; ons baklei teen die een wat, volgens ons, nie die verhouding wil laat slaag nie; ons word kwaad vir die “onregverdigheid” in die lewe – want ons oë is nie oop nie.
Bileam moes bieg: “Ek was verkeerd, ek het nie geweet dat U my in die pad voorstaan nie. As U nie wil hê ek moet voortgaan nie, draai ek om” (Num 22:34).
Dalk moet ons, hoe gouer hoe beter, leer om nie die skuld op “die donkie” in ons lewe te pak nie. Om God te vertrou, omdat Hy die gevaar op die pad kan sien. Om sy leiding te vertrou, al behels dit ook ’n toe deur.
En as jy agterkom die Here wil nie jy moet vorentoe gaan nie, draai om. Hoe swaar dit ook al mag wees.
- Simone Gauche is ’n ma en ’n mediese dokter wat in die staatshospitaal op Mosselbaai werk.