Lizette de Kock het gedink haar kankerdiagnose is ’n doodsvonnis. Maar, vertel sy, God het hoop en ondersteuning gestuur deur haar dokters én deur ander mense wat haar pad gekruis het. Vandag getuig sy, en sy dans, om vroue daaraan te herinner dat hulle dapper is omdat God hulle sterk maak.
DEUR LIZETTE DE KOCK
Ek was 37 toe ek in Januarie 2021 met borskanker gediagnoseer is. In daardie stadium was ek egter reeds geruime tyd daarvan bewus. Ek het myself ondersoek, maar ek wou nie sommer aanvaar dat ek dalk met kanker in my liggaam rondloop nie. Ek was verskriklik bang om daaroor te praat omdat ek gedink het dis ’n doodsvonnis. Ek het my trouens daarop voorberei om te sterf.
Elke dag het ek my in die spieël bekyk en met die Here gepraat. Ek het Hom gevra waarom Hy hierdie “ding” oor my pad gestuur het. Ek het dan al so baie seer in my lewe beleef, en hier moet ek boonop kanker in die oë staar.
‘Ons gaan hierdie ding by die horings pak …’
Ek was kwaad vir die Here, ek was seer en mismoedig. Ek het al hierdie swaar alleen deurgemaak – totdat my man op ’n dag gesê het dis tyd om dokter toe te gaan.
Nadat ek etlike toetse moes ondergaan, verneem ek dat dit graad 3-borskanker is. En ek moes so gou moontlik geopereer word: ’n mastektomie van my regterbors. Die nuus dat ek my bors gaan verloor, het my baie emosioneel gemaak. Hoe leef ek met net een bors?
LEES OOK: ‘My moeilikste keuse: ’n operasie met slegs ’n 50%-kans op oorlewing’
In dié tyd het die chirurg en die radioloog my hoop gegee. Die een het gesê ons gáán hierdie ding oorwin; die ander een het gesê: “Ons gaan hierdie ding by die horings pak, mevrou de Kock.” Ek het die ergste verwag, maar dié twee dokters het my hoop gegee.
Voor én tydens die operasie het die Here engele oor my pad gestuur wat my gedra het. Ek kon die Here se hand in alles raaksien. Voor my operasie sê ’n tannie in die saal waar ek voorberei word dat sy ’n paar jaar gelede dieselfde deurgemaak het, en sy lewe nog. Die narkotiseur se assistent het vir my gebid voordat ek teater toe is.
‘Moenie sit en wag om siek te word nie’
In Februarie 2021 het ek met chemoterapie by Cansacare in George begin. Die maatskaplike werker het gevra ek moet haar kom spreek as die eerste sessie afgehandel is. Daar het sy aan my gesê: “Lizette, van vandag af gaan jy net normaal voort met jou lewe. Moenie sit en wag om siek te word nie.”
Ek het haar woorde ter harte geneem, en ek kon elke dag met die Here se hulp aandurf. Ek het my voorgeneem dat my storie ánders gaan verloop, dat ek iets anders wil vertel as die proses afgehandel is. Ja, ek hét soms slegte tye beleef wanneer ek niks wou doen nie en net wou rus. Soms het ek bloot nie lekker gevoel nie, en soms het ek gewonder of dit die moeite werd is om al hierdie ellende te moet deurmaak.
Ná die eerste drie maande moes ek weer hospitaal toe om ’n chemo-poort te laat inplant sodat dit die behandeling kon vergemaklik. Toe ek die hospitaal ná hierdie operasie verlaat, hoor ek hoe verskriklik die wind buite waai. Maar ek hoor ook hoe God sê: “Dit is hoe dit in die geestelike wêreld is as Ek vir julle intree.”
Op 13 Augustus is die chemoterapie voltooi, en daarna het ek drie weke lank bestraling ontvang. Terwyl ek my klere inpak om na die Kansa-huis in George te gaan, sê die Heilige Gees aan my dat ek ook ’n dansrok en my vlae moet inpak. Ek dans al van jongs af in die kerk, dis my passie.
Ek ontmoet die wonderlikste mense in die drie weke wat ek in Kansa-huis tuisgaan. Die Here skep ook ’n geleentheid waar ek een aand daar kon dans. In hierdie tyd moes die chemo-poort uit my liggaam verwyder word vanweë ’n infeksie.
‘Die hemel het afgekom aarde toe’
Die Here was vir my ’n herder deur dié hele proses. Hy het my Josua 1:9 gegee, en ek het geweet ek is ’n dapper held in sy oë. My gesin, asook my ma Elaine, was steunpilare.
Op 8 Augustus vanjaar, Vrouedag, vertel ek die eerste keer my storie aan ’n klomp vroue by House of Mercy in Mosselbaai. My boodskap aan hulle was dat jy nie moet toelaat dat jou omstandighede jou stilmaak óf die stem van God stilmaak nie. Moenie dat jou omstandighede soos ’n kankergroeisel ál groter word nie; behandel dit so gou moontlik.
God gebruik ons vir sy koninkrykswerk. Tydens die funksie het ek ook ’n dans aan God geoffer, op die maat van Maverick City se “Breathe”. Dit was asof ek, terwyl ek gedans het, die hemel voel afkom het aarde toe. Dit was asof ek oorwinning verkry het, ook vir elke vrou wat daar was. Almal het regop gestaan, want niemand kon sit terwyl die Here ons besoek nie.
Dis my boodskap aan elke vrou: Die Here het die regte mense oor ons pad gestuur om ons te help, om na ons te luister en ons te ondersteun. En ek wil vir jou sê: “Vrou! Staan op, want jy is dapper!”
My lewensleuse vanaf Januarie 2021 is: “You are courageous, believe it!”
- Lizette de Kock is ’n 38-jarige bibliotekaresse in Mosselbaai. Sy is die afgelope 16 jaar met Jermaine de Kock getroud. Hulle het twee kinders op hoërskool, Jasmin (15) en Joshwin (13). Lizette sê hul gesin dien saam die Here en sy en haar man is die leiers in hul kerk se uitreikspan. Sy is tans besig met ’n diplomakursus in Christelike dans, waarin die waarde van dié soort dans in die kerk erken en beklemtoon word.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.