Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

‘Moenie vir kanker wag om God te leer ken nie,’ sê man ná kankerstryd

DEUR ILETTE COETZER

“Ek het dit glad nie verwag nie.”

James Daly, ’n landbouchemiese verteenwoordiger in die Douglas-omgewing in Noord-Kaapland, sê ’n mens dink nie kanker sal regtig oor jou pad kom nie. Maar toe gebeur dit met hom. Drie keer.

LEES OOK: ‘Ek het geleer bemoediging vir ander kankerlyers is genesing vir jouself,’ vertel ouma Corrie

James en sy vrou Melenie was kranige fietsryers. Met sewentien Argus-wedrenne agter die blad, was hy ’n fiks en gesonde 57-jarige. Met verloop van tyd het hy egter bewus geword van ’n knoppie net bo sy knie. “Dit was so groot soos ’n albaster, en eintlik maar net ’n harde plekkie.”

“Ek het opnuut besef daar is mense wat omgee,” het James vertel nadat \’n klomp van sy vriende bymekaargekom het en almal saam hul hare afgeskeer het. Foto verskaf

James sê hy het aangeneem dit kom van ’n harde stamp teen die fiets se stuurstang en het hom aanvanklik nie veel daaraan gesteur nie.

‘Ek het onmiddellik geweet iets is fout’

Dit het hom egter begin pla as hy fietsgery het, en tydens ’n Mighty Men-konferensie vyf jaar gelede het hy een van sy doktersvriende, Hennie Pretorius, gevra om gou daarna te kyk. Hennie se raad was: “As dit jou pla, sny dit uit.” Terug in Douglas het James se huisdokter ’n biopsie gedoen en sy het bevestig dat dit wel kwaadaardig is. James vertel: “Dr Tiana Lourens het my gebel en gevra dat Melenie saamkom spreekkamer toe. Ek het onmiddellik geweet iets is fout.”

‘’n Marathon met geen omdraaikans, maar Jesus dra my tree vir tree,’ vertel ma van 3-jarige leukemie-lyer

Kort daarna is nog ’n kwaadaardige gewas, dié keer so groot soos ’n duifeier, in sy lies gevind. Die dokters kon egter nie die spesifieke soort kanker identifiseer nie. Ná ses weke is dit wel as ’n kwaadaardige perifere-senuweeskedetumor uitgeken en James is op 15 Augustus 2017 in Kaapstad geopereer. Heelwat van die limfkliere is uit sy lies gesny, en ’n groot deel van sy linkerbobeenspier is verwyder.

James vertel: “Ek het nie verwag my been gaan so lyk nie. Hulle het probeer om al die kanker uit te sny, maar ek was nie voorbereid op die letsel wat daar gelaat is nie.”

Die rooi duiwel – en ’n engel

Dertig bestralingsessies is deur verskeie strawwe chemoterapiesessies gevolg. “Ek het drie dae agtereenvolgens chemoterapie ontvang, en dié proses is twee weke later herhaal. Die mediese personeel het van die ‘rooi duiwel’ gepraat, dis die swaarste dosis chemoterapie wat jy kán ontvang.”

Gou het sy hare begin uitval, en James het besef hy sal doelbewus positief moet bly ten einde die kanker doeltreffend te kan bestry.

“Ek het wonderlike mense, ook medepasiënte, by die hospitaal ontmoet,” vertel hy. “Dit was dus bitter hartseer as jy na iemand verneem en moet hoor daardie mens leef nie meer nie.”

James sê hy het destyds die Here gevra dat hy tog net Jeamé se matriekafskeid sal kan bywoon. Vandag hoop hy om haar eendag met haar troue die kerk in te bring. Foto verskaf

James sê hy haal sy hoed af vir die personeel wat in dié afdeling werk. “As gevolg van my chemoterapieprogram was ek op Oukersdag stoksielalleen in die saal. Anette, die suster wat altyd my chemoterapie toegedien het, het spesiaal hospitaal toe gekom om my op daardie dag te ondersteun.”

Al James se kennisse weet hy staan altyd reg met ’n glimlag en ’n grappie. Só het die mense in die onkologiesaal hom ook leer ken. “Jy kan nie in sak en as gaan sit nie,” sê hy. “Ek het eendag vir Anette vyf rosies gebring. Daardie dag sukkel sy toe om ’n aar in my hand te kry; sy moes vyf keer probeer. Toe sê ek dis die laaste keer dat ek vir haar vyf rosies bring!”

‘Ek het opnuut besef daar is mense wat omgee’

James sê hy weet nie wat hy in dié tyd sonder sy geloof sou doen nie. Sy vrou, sy selgroep, ’n mannegroep, sy gemeente en vriende het hom deur die tyd gedra. “Mense sê altyd jy moet die goeie in krisistye raaksien. Kanker gee jou tyd om met jou Skepper reg te maak.” James sê hy kon hom onmiddellik voor die Vader se voete neerlê. Tydens een van die bidure saam met sy selgroep het hy op die mat gaan lê en bloot gesê: “Hier is ek, Heer. Ek lê my aan u voete neer.”

Een Saterdagoggend vroeg het ’n klompie vriende bymekaargekom en almal saam hul hare afgeskeer. Dit was ’n baie emosionele oomblik vir James. “Ek het opnuut besef daar is mense wat omgee.”

Maar nie almal weet altyd wat om te sê nie. “Ek dink vir iemand soos ek wat ’n ekstrovert is, is dit lekker as mense vra hoe dit met jou gaan. Jy beleef egter moeilike dae waarin jy glad nie met iemand wil praat nie. Soms het jy net nodig om alleen te wees.” Hy vertel hoe dit altyd ’n ruk geduur het om ná ’n chemoterapiesessie weer sy “ou self” te word.

Hy het selfs ’n bed in die televisiekamer ingedra om Melenie nie snags te pla nie. “Die kortisoon hou jou wakker, jou lyf is seer en ongemaklik en jy woel maar. Ek het wel in dié tyd ’n liefde vir gemmerkoekies ontwikkel! Dit help met die naarheid.”

‘Jy leef van scan tot scan

Ná so ’n kankerstryd bly gereelde ondersoeke deel van jou lewe. Elke gunstige uitslag word gevier. Met James se opvolgondersoek in November 2020, te midde van die Covid-19-pandemie, het die dokter besluit om ook X-strale van sy longe te neem. James vertel: “Dit was heeltemal onbeplan. Ek weet tot vandag toe nie hoekom die dokter my longe ook ondersoek het nie.”

Maar daar is ’n gewas op sy regterlong gevind. James en Melenie was platgeslaan. Hul dogter Jeamé was destyds nog op hoërskool. Die gewas is suksesvol verwyder, en daar was gelukkig nie chemoterapie of bestraling nodig nie.

Deesdae moet hy elke vier maande vir ’n skandering aanmeld. “As jy eers ’n pad met kanker gestap het, leef jy van ‘scan’ tot ‘scan’. Ek dink ’n mens is uiters sensitief oor enige ongerief of pyn in jou lyf.”

James se raad aan ander mense? “Almal gaan eendag dood, jy weet net nie wanneer nie. Moenie vir kanker wag om jou lewe met jou Skepper reg te maak nie. Maak die meeste van elke dag. Leef voluit.”

James het ’n passie vir mense, en om sy getuienis met ander te deel. Hy het pas ’n omgeegroep vir kankerlyers in Douglas gestig waar groeplede mekaar kan ondersteun en kan raad vra, en vir mekaar kan bid.

James sê hy het destyds die Here gevra dat hy tog net Jeamé se matriekafskeid sal kan bywoon. Vandag hoop hy om haar eendag met haar troue die kerk in te bring.

Maar hy het vrede. Hy ken sy Skepper, en hy weet dat God in beheer is.

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.