Sy en haar man was maande lank gyselaars van ’n internasionale terreurorganisasie. Maar al die ontberings het haar voorberei vir die werk wat sy vandag met getraumatiseerde kinders doen. Al kry sy steeds nagmerries.
Ek sit klein, verlate en alleen op die boot en kyk na die liggies van Sipadan wat ál kleiner en kleiner raak in die verte. Totdat dit heeltemal verdwyn. Oorweldig deur die grootsheid van die oseaan, wat met sy donker water reg is om my in te sluk. Om my te laat verdwyn in die duisternis waar niemand my ooit sal vind nie.
“Dis die eggo van hierdie geweldige vrees in my.”
Só skryf Monique Strydom (60) oor ’n ervaring toe sy as 35-jarige in ’n vier maande lange gyselaarhel beland het.
LEES OOK: 10 jaar van Joshua na die Reën: ‘God is groter as woorde’
Dis 25 jaar later en ons is by haar huis in die Kaap. Monique is die tipiese lammergeier wat dinge nou op ’n afstand betrag, van bo af. Haar oë skitter. Hulle is blou soos die eilandwaters waarin sy so graag skubaduik.
Sy is pas terug van ’n besoek aan nog ’n tropiese paradys, Raja Ampat in Indonesië. Daar krioel dit van reënwoud-akkedisse en kleurvolle papegaaie. En derduisende muskiete en spinnekoppe.
Hierdie spontane, lewenslustige vrou was al baie dinge: Voor sy 35 geword het, werk sy ses maande as sekretaresse (maar sy kan nie die liasseerwerk bemeester nie); ses maande by Absa (maar die pienk uniform is vir haar een te veel); sy word aktrise by Truk (maar die geld is te min).
Daarop betree sy die skakelwese. En sy werk vir SATOER – en dit bevredig haar “reis-miere”.
Toe word sy produksiesekretaresse vir mediamaatskappye wat sportprogramme vervaardig; fondsinsamelaar vir Pretoriakindersorg en Pretoria-dieretuin; en sy begin haar eie media-agentskap in Malawi.
In die kloue van terroriste
Op 35 is Monique terug in Suid-Afrika. Sy en haar man Callie besluit op nog ’n duikvakansie, dié keer op Sipadan, ’n klein eiland in Maleisië.
Maar uit die staanspoor is dit of iets ’n stokkie voor hul planne wil steek. Callie se ma het ook skielik ’n groot ongerustheid in haar. Sy bel om hulle te oorreed om te bly. Hulle maak dit af. Dis tog hul soveelste reis!
Hulle vertrek halsoorkop, vies vir mekaar oor al die onsekerheid tot aan die einde. Maar hulle is vasberade om te gaan.
Kort ná hulle aankoms gebeur iets wat alles in ’n ommesientjie en onherroeplik verander. Die Saterdagaand van Paasnaweek 2000 beland hulle in die kloue van ’n terreurorganisasie, Abu Sayyaf. Daar is 21 gyselaars, buitelandse toeriste wat aanvanklik as Amerikaners aangesien word.
Niemand het ’n idee dat Osama Bin Laden die meesterbrein agter die ontvoering is nie. Abu Sayyaf se eerste eis is die vrylating van die twee bomplanters wat hul terreurdaad in 1992 by die Wêreldhandelsentrum in Amerika gepleeg het.
Platgeslaan en verslae
In haar huis waar sy die afgelope agt jaar bly, rus Monique se oë ’n oomblik op ’n panoramiese uitsig oor die Kaapse Skiereiland as sy sê: “Trauma word deel van jou lewe. In my geval het dit deel geword van my persona. Almal onthou my as ‘die gyselaar’.
“Maar eintlik het ek inherent dieselfde gebly. Ek was en is ’n gelowige wat glo in vergifnis. En dat dinge met ’n doel gebeur. Net soos ek van kleins af ’n omgee-mens was wat oral betrokke geraak het om ander te help.”
Sy is as klein dogtertjie in Namibië na ’n vlugtelingkamp saam met haar ma, Monica Aggenbag, ’n verpleegster. “Ek het gehoor hoe die mammas hul besittinkies moes gryp en hardloop. En dat sommige nie weet waar hul kinders is nie.
“In die oerwoud het ons ook so platgeslaan en verslae gelyk. Jy vrees vir jou lewe, jy beleef hoe ander verkrag en verneder word. Jy het geen beheer oor wat om jou gebeur nie.
“Daar is geen wenners in oorlog nie. Onskuldige mense word slagoffers. Dikwels ly kinders die meeste.”
Kort voor hul vrylating verskyn God in ’n droom aan haar: Sy moet met hul terugkeer na Suid-Afrika ander mense gaan help wat ook vasgevang is. “Teen daardie tyd het ons al soveel wonderwerke beleef dat dit nie vir my vreemd was nie.”
Ná hul helde-ontvangs, ook deur die voormalige president Nelson Mandela, haal die gyselaarsdrama steeds wêreldwyd voorblaaie. In die daaropvolgende tyd gebeur die een ding ná die ander. Ná herhaalde versoeke van die SAPD se kinderbeskermingseenheid in Gauteng willig Monique in om die polisie met mishandelde kinders te help.
“Kinders wat tuis mishandel en verkrag word, is ook gyselaars. Hulle is gyselaars van hul ouers, van die stilte en van die onreg. Ook van die slegte situasie waarin hulle hulle bevind.”
Só word Matla A Bana, A Voice Against Child Abuse gebore.
Uitdagings sonder ophou
Hulle begin sonder geld en sonder om te weet wat om te doen. “Vir my was dit die begin van ’n reis wat nou reeds 22 jaar duur. Dis een van totale oorgawe, van gehoorsaamheid aan Hom. En van voorsiening op wonderbaarlike maniere.”
Daar word elke drie minute ’n kind in Suid-Afrika verkrag. Matla A Bana lei onder meer die polisie op hoe om kinders te hanteer wat sake aanmeld. Hoe om ’n vertrek spesiaal daarvoor in te rig.
Die organisasie verskaf ook geskenkpakkies met ’n eenvoudige oorlewingsgids daarin, asook ander noodsaaklikhede en bederfies.
“Die Here plaas allerhande mense op my pad, van speurders tot geloofsgroepe wat by polisie-eenhede gaan bid. Daar is min dinge wat my soveel vreugde verskaf soos om slegte dinge vir iemand beter te maak.”
Maar die uitdagings hou nooit op nie. “Daar ís tye wanneer ek voos raak van al die gruwelstories. Wanneer ek verlang na die verhoog en na my media-onderneming.
“Maar as ek stil word en terugkyk op my lewe, weet ek Hy het my geskool, my voorberei vir die werk wat ek vandag doen.”
Sy sê sy sukkel soms om haar tyd reg te bestuur en om te herlaai deur byvoorbeeld meer by vriende te gaan kuier of saam met hulle te gaan stap. “My tyd is beperk. Jy word meegesleur in jou pogings om die kinders te help.
“En ek is tans besig om twee boeke en ’n toneelstuk te skryf.”
Soms móét sy net die pad vat om te gaan duik. “As ek deur daardie helder, blou water sink, sluit ek my af van die wêreld. En aanskou net God se grootheid. Dit maak my rustig en vol vrede.”
’n Ligstraal ná die donker
Monique en Callie se seun Luc (22) werk nou op seiljagte terwyl hy deeltyds studeer. “Sy koms was teen alle verwagting in. My voortplantingsorgane het destyds ophou funksioneer, moontlik weens die honger en dors, en die ekstreme situasies waarin ons was. Ons moes tuis ook die spanning van al die publisiteit en die familie se trauma hanteer.”
Maar hulle kon die volgende jaar ’n welgeskape seuntjie doop. Sy naam beteken “lig”.
“’n Ligstraaltjie ná baie donkerte,” onthou sy.
Haar en Callie se egskeiding agt jaar gelede het haar verander. “Ek het ’n mens geword wat ek nie geken het nie. En ek het dinge gesê wat ander geskok het.”
Daar is iets soos die trauma van ’n gebroke hart. “My grootste toets wat vergifnis betref was gewis nie in die tyd as gyselaar nie. Maar God wil nie hê dat ons onsself vernietig deur in bitterheid, haat en vyandskap te leef nie.”
“Jy het sestig geword,” sê ek. Sy lag. “Ouer word bring wysheid! Én ’n lus vir die lewe as jy besef jou tyd word min.”
Monique vertel haar en God se storie. Sy sê: “Ek is ’n praktiese mens wat wonderwerke en ’n lewende God in aksie gesien het.”
Sy kán vuil, moeg en vol modder uit ’n oerwoud met sy muskiete en slange kom, en ’n paradysvoëllied bly sing. Besoek matlaabana.co.za