DEUR RIA SAUNDERS
ʼn Gawe, ouerige Indiese man kom haal my 04:00 met sy mini cab in Londen. Ek moet 05:00 op Heathrow-lughawe vir my vlug na Israel wees. Ons gesels lekker en ek vertel hom van my vrese om alleen vir ag dae Jerusalem toe te gaan. Toe ek hom groet sê hy: “You are not alone in Jerusalem, God is with you.” En só was dit ook.
In die vliegtuig het ek ʼn paar keer my laaste rooi kersie wat so donker en alleen in die Katolieke kerk in Londen in my geestesoog gesien Ek maak die vlug na Israel amper nie betyds nie, want ek het nie geweet dat Istanbul drie-ure vóór Londen se tyd is nie!
Alleen in Israel
Ons land 18:00 by die Ben Gurion-lughawe in Israel. En dáár is my geleende rugsakkie met my aanwysings na my bespreekte blyplek, die Jerusalem Hostel, weg! Dié geliefde rugsakkie behoort aan my vriendin, Adri. Sy het die Camino de Santiago pelgrimstog met die rugsak gestap. Ek wag en wag soos voor ʼn mallemeule vir die rugsak om verby te kom, maar dit daag nie op nie. Uiteindelik, gaan ek maar met my swaar tas na Lost and Found-afdeling en waar ʼn jong vrou my klaagliedere moet aanhoor.
Ek probeer hard om dapper te wees, maar ek weet nie eens mooi watter bus of trem om te neem na die trein nie. Miserabel en bang stoot ek my trollie na die stasie. Dit is alles so vreemd en só moeilik! Dié keer is my reis na Israel ʼn ander storie. Ek het 37 jaar gelede nog saam met my man, Cliff, wat in Mei 2019 oorlede is, na Israel gereis. Ons het 3 onvergeetlike weke in Kibbutzim gekamp. Nou is ek 77 – en alleen.
Ek koop ʼn treinkaartjie met my kredietkaart. Ek het gelukkig reeds 25 Britse pond vir Israeliese shekels gaan ruil. Ek is met my swaar tas en jas oor die arm met die roltrap na Platform 1 af. Daar sit ek in die koue en reënerige weer en wag vir die trein na Jerusalem.
Op pad na Tel Aviv, neem ek amper-amper die verkeerde trein. Ek klim darem wel, na ek navraag gedoen het, op die trein na Jerusalem. Dis ‘n spoggerige, rooi dubbeldekker trein en ek vra ʼn man om my met die swaar tas te help. Na links is daar trappe na bo, waar dit onmoontlik vir my sal wees om die swaar tas op te dra en na regs is daar is een sitplek oop.
Lees nog getuienisse hier.
God stuur engele
Dis nou al seker 19:30 en ek gaan sit by ʼn plekkie waar ʼn man en vrou met drie tasse sit. My gehoor is swak en ek dra gehoorapparate, maar ek kom agter dat hulle Engels praat. Ek is so vol vrese oor die trem wat ek moet neem dat ek met hulle begin gesels. Ek vertel vir hulle van my dilemma dat my rugsak met my aanwysings nie opgedaag het nie. Ook dat ek van Suid Afrika is, en dat ek alleen reis. Hulle stel hulleself voor. Hulle is Simon en Anne Holland van Engeland en hulle woon en werk in Jerusalem by die Garden Tomb. Hulle werk by Jesus se graf! Engelse Christene wat werk by Jesus se graf! Die Here het my op hierdie plek in die trein laat opklim waar ek reg teenoor twee van Sy kinders sit!
Die twee ‘engele’ gee vir my ‘n Rav Kav-kaart vir die trem. Hulle help my om 50 shekels op die kaart te laai en neem my toe van die verwarrende sentrale busstasie na die tram wat na Heil’Avir toe gaan. Hulle klim sáám met my op die trem. Ons moet by die vierde stop, die Jaffa Centre, naby die Jerusalem Hostel, afklim. Hier deel ek kamer, in ʼn vroulike slaapsaal, waar daar ses beddens is. Simon en Anne loop saam met my van die Jaffa Centre-stop tot in die portaal van Jerusalem Hostel. Simon neem nog die swaar tas op tot bo. Ek kry dáár die verrassing van my lewe! Die hostel het elektrisiteitsprobleme en ek kry ʼn kamertjie, nommer 35A, van my eie reg langs die badkamer. Ek slaap nie meer in die ses-bed slaapsaal nie, en dit vir dieselfde prys!
Here my God, U is net wonderbaarlik! Hoe goed is U vir my! Geen toeval nie, die Here was by my en het alles net so laat gebeur! Simon en Anne Holland was God se ‘engele’ op die regte plek op die regte tyd! Ek prys U Naam, O Here!
En óók vir die rugsakkie wat die volgende dag by die hostel afgelewer is!
Lees ook: My reis na heelwording
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.