Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

‘My getuienis: brandwonde, boelies en drie selfdoodpogings – en die Here se plan’

Itumeleng Sekhu-Pedi van Johannesburg het as elf maande oue baba derdegraadse brandwonde opgedoen nadat ’n kers in haar kamer omgeval het. Ná 104 veloorplanting-operasies, ’n stryd teen skoolboelies en met haar geestesgesondheid, het hierdie dapper vrou die Here as haar Verlosser aangeneem. Deesdae is sy ’n internasionale motiveringspreker en ’n vernuftige sakevrou.  

“My man sê gereeld vir my dat ek die mooiste vrou op aarde is,” vertel Itumeleng Sekhu-Pedi (35). Dié Johannesburgse vrou het haar man, Kgotso Pedi, as finalejaarstudent in Northcliff ontmoet toe hulle bure was. Sy is ook die trotse ma van drie pragtige kinders, Boipelo (17) en die tweelingseuntjies Botshelo en Oatile (9).

En hoewel sy baie jare lank nie gelukkig was nie, het sy haarself nou ten volle aanvaar vir wie sy is. Al staar mense steeds na haar op straat of wanneer sy in ’n winkelsentrum kom.

“Ek sou graag my kinders wou leer om ’n kragtige gees te hê. Dat hulle leer die lewe verloop nie altyd soos jy wil hê dit moet nie. Dat jy altyd moet opstaan as die lewe jou platslaan,” vertel Itumeleng. Foto verskaf

Itumeleng het as baba brandwonde in haar gesig, aan haar regterarm en die regterkant van haar liggaam opgedoen. Sy het jare lank ’n fobie oor kerse gehad. Om dié vrees te oorkom het sy geleer om kerse te maak. En wat as ’n eksperiment begin het, het in ’n baie suksesvolle sakeonderneming ontwikkel.

In 2016 het sy ’n boek oor haar lewe geskryf, What Do You See. Dis ’n boek oor selfaanvaarding en emosionele afsluiting, wat uiteindelik genesing vir Itumeleng gebring het.

LEES OOK: ‘God stuur engel om my van selfdood te red’

Oor haar destydse trauma vertel sy: “Ek was maar elf maande oud toe ek in ons huis in Hammanskraal verbrand het. Ek het in my pienk-en-wit-rokkie geslaap toe ’n brandende kers op my geval het.

“My ma en haar broers was in die vertrek langsaan. Toe hulle die rook ruik, het hulle na my kamer gestorm en my ma het my uit die vlamme geruk. Ek het my regterarm en -hand in die vuur verloor, asook vier vingers aan my linkerhand, en my een oor. 

“Ek was drie maande lank in ’n koma, en drie jaar in die hospitaal. Ek moes meer as 104 veloorplantings ondergaan. Van elf maande oud tot en met my vyftiende jaar was ek gereeld in die hospitaal. My ma Evelyn was altyd ‘daar’ vir my. Ons het tot vandag toe ’n baie hegte band.

“My ma is ’n wonderlike vrou! Ná my brandongeluk het sy gaan studeer en ‘n maatskaplike werker geword. Ná haar ervaring met my ongeluk wou sy haar bekwaam om ander te help.”

“My man sê gereeld vir my dat ek die mooiste vrou op aarde is,” vertel Itumeleng Sekhu-Pedi (35). Dié Johannesburgse vrou het haar man, Kgotso Pedi, as finalejaarstudent in Northcliff ontmoet toe hulle bure was. Foto verskaf

‘Ek het drie keer selfdood probeer’

Aanvanklik het Itumeleng se voorkoms geen invloed op haar geestesgesondheid gehad nie. “Vir my was dit normaal om só lank in die Momentum-hospitaal in Pretoria te wees, om te lyk soos ek lyk. Ek is deur soveel wonderlike omgee-mense omring, ek het ’n sterk ondersteuningsnetwerk gehad. En my ma was elke dag by my in die hospitaal.

“Eers toe ek so nege jaar oud was, het ek selfbeeldprobleme begin ontwikkel. Die kinders in my skool het my begin spot, hulle het my ‘Chicken Licken’ genoem, en ‘KFC’. Ek het vir myself soos ’n spook begin lyk en gewonder hoekom ek hier op aarde is. Ek wou net doodgaan.

“Dit het daartoe gelei dat ek drie keer probeer het om myself dood te maak – die eerste keer toe ek maar nege jaar oud was, daarna toe ek vyftien was. En die laaste keer toe ek in graad 11 was en drie honderd pille gesluk het. My geestesgesondheid was bitter sleg.”

Die keerpunt het gekom toe sy negentien jaar oud was: Sy het God ontmoet. Haar vriendin se suster het daarop aangedring dat Itumeleng en haar vriendin na haar kerk toe kom. “Ek wou nie, want ek was baie kwaad vir God. Hoe kon Hy toelaat dat so iets met my gebeur? Maar ek het tog gegaan. Die jeugpastoor het daardie dag vir my gesê dat elke enkele ding om ’n rede gebeur. Dit het daartoe gelei dat ek Rick Warren se The Purpose Driven Life begin lees het. Dié boek, en die boodskap wat ek daardie dag ontvang het, het my lewe soos handomkeer verander.

“Dit het my uit die gat van depressie gelig. Ek het begin kerk toe gaan, na die plaaslike CRC-gemeente, en ek het my lewe vir die Here gegee. Ek het nou ’n persoonlike verhouding met Hom, ek loop ’n pad van genesing saam met Hom. Hy het vir my gesê: ‘Jou doel op aarde is om hoop en genesing te bring.’

“En ek het nog nooit teruggekyk nie, want ek het besef dat ek om ’n rede gebore is. Soos die Skrif dit so mooi stel: ‘Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken.’

“God is die outeur van ons lewe. Al moes ek as baba brandwonde opdoen en deur hel gaan, het Hy deurentyd ’n plan met my lewe gehad.”

Om te getuig, bring genesing

Itumeleng en haar man lei ’n selgroep van 30 lede. Dié kom elke Woensdagaand by hul huis byeen. Sy tree ook die afgelope agt jaar as motiveringspreker op by skole en by korporatiewe geleenthede dwarsoor die land, en tot in Kenia en die Seychelles. Sy vertel: “Hoe meer ek my storie met ander gedeel het, hoe gouer het ek genesing gevind. Ek het boonop besef dat my storie ’n baie groot impak op ander mense maak.”

Met ’n BA-graad in oudiovisuele kommunikasie agter haar naam het Itumeleng betrokke geraak by die musiekkanaal One Gospel, en TV-programme  soos Three Talk, YoTV en Friends Like These. Sy was ook drie jaar lank vervaardiger by Metro FM en het ’n aandeel in radioprogramme soos The Sound Revival en The Sacred Space gehad. Sy behartig voorts ’n eie potsending op YouTube, Perspective with Itu.

In 2015 het sy die Itumeleng Sekhu Foundation van stapel gestuur, waarby 250 skole betrokke is. Hier onderrig sy die leerders oor selfbeeld, selfliefde, leierskap, asook hoe om probleme te hanteer. Sy bied haar werksessies landwyd aan. Deur dié stigting word ook skryfbehoeftes, sanitêre doekies, skoolklere en skoolskoene aan behoeftige kinders voorsien.

‘My ma het God in my gesien’

Intussen het Itumeleng se ma ook haar lewe vir die Here gegee. “Sy het God in my gesien. Sy het my gesien groei van ’n kind met ’n lae selfbeeld tot ’n mens met selfvertroue wat die lewe se kanse wou aangryp. En sy wou die Here leer ken, die Een wat ek volg.”

Om ’n ma te wees is vir Itumeleng pure vreugde. “Kinders verander ’n mens se perspektief op die lewe. Ek dink dat ek, vandat ek ’n ma is, sagter is, dat ek meer begrip het. Moederskap is ’n wonderlike ervaring.

“Ek sou graag my kinders wou leer om ’n kragtige gees te hê. Dat hulle leer die lewe verloop nie altyd soos jy wil hê dit moet nie. Dat jy altyd moet opstaan as die lewe jou platslaan.

“My doel in die lewe is om hoop en genesing aan ander te bring. Want al is my letsels aan die buitekant sigbaar, het elke mens ’n letsel binne hom- en haarself. Omdat ek so openhartig is oor my letsels, help dit mense met hul genesingsproses. Ook genesing van die letsels aan hul binnekant, sodat hulle hul volle potensiaal kan bereik.        

“Ek kan nie sonder God in my lewe nie. En ek moet elke dag met Hom gesels, want dis waar my selfvertroue en krag vandaan kom. Alle eer aan God.”

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Projek 108

Ons wil ‘n dringende beroep op medegelowiges doen om ons te help om die Evangelie te versprei – voordat dit te laat is. Jou donasie kan iemand se storie herskryf – nou en hierna…

Hulle Wag

Ons kan die rede wees dat iemand vir die eerste keer vir Jesus leer ken…

Kinderpret-leesreeks

Beleef ‘n avontuurlike leesreis met ons Kinderpret-leesreeks! Vir jong lesers, elke boekie vol pret en leersame avonture…

Kinders van die Lig

Gee geloof en hoop aan kinders deur geloofsboeke in kinders se hande te plaas…

Laat ‘n Ligspoor

Help ons om die boodskap van lig uit te dra en verander kinders se lewens deur die krag van stories…

BybelBouBlokke

Bou saam aan ‘n geestelike toekoms deur die geloof van kinders, gesinne, en lidmate te versterk…

KinderKersKous

Gee ’n geskenk van hoop aan kinders deur hulle lees-met-begrip-vermoë te bevorder en hul geestelike ontwikkeling te ondersteun…

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF