Op 15 Julie 2022 gaan ek ongevalle toe met erge buikpyn. Daar is verskeie skanderings gedoen en so word bevind dat ek kankergewasse in my liggaam het.
Hoe kan dit wees? In daardie stadium het my jonger boetie Paul in dieselfde hospitaal met aggresiewe breinkanker gelê. Minder as ’n maand later, op 8 Augustus 2022, het Paul die stryd verloor.
Min het ek geweet hoe die Here my pad oop gaan maak. ’n Dokter by die hospitaal het my dadelik oorgeplaas na ’n hospitaal in Pretoria-Oos wat spesialiseer in die soort kanker wat by my gediagnoseer is. Ek is toe met nie-Hodgkins-limfoom gediagnoseer. Met my familie rondom my het die mediese personeel verduidelik dat hierdie soort kanker behandelbaar en geneeslik is. Maar dat ek strawwe chemobehadeling sou moes ontvang.
LEES OOK: In ’n kankerstryd: ‘God, ek kan nie meer nie, maar ek weet U kan’
Ek het besef dat ek nie die stryd alleen sal kan veg nie. Ek sou op die Here moes vertrou. In my gemoed was ek hartseer. Ek het alleen gevoel en die Here gevra om my te help op hierdie pad, want ek kan dit nie alleen loop nie. Skielik in my kamer verskyn het daar ’n donker en ligte kant verskyn en ek het gehoor hoe iemand saggies sing. Die singery het aangeheou en ek het besef ek moet net iets van hierdie lied probeer onthou. Ek kruip op my knieë nader aan die gang waar die persoon sing om net die woorde “song” en “story” te hoor. Ek het dit dadelik neergeskryf. Toe ek later die woorde google sou ek uitvind dat dit die liedje “Blessed Assurance” of in Afrikaans “Blye versekering” is. Die volgende oggend vra ek die verpleegpersoneel: “Wie was gisteraand aan diens, want sy sing baie mooi.” Hulle het nie van so ’n persoon geweet nie. Ek het toe gewéét dat die Here my gaan genees, en dat ek hierdie onbekende pad báie naby aan die Here sou stap.
Hierdie gebeurtenis het my die hoop gegee dat ek hierdie kankerstryd ook ter nagedagtenis aan my jonger boetie sou dra.
My behandeling het uit ses chemosessies bestaan. Daarvoor is ek vir vyf dae opgeneem, en kon ek vir tien dae tuis aansterk. Ek was uiters moeg, ek het geen eetlus gehad nie en gewig verloor. My hare het uitgeval. En boonop was ek baie swak. Ek is dankbaar dat ek geen naarheid of ander simptome ervaar het nie.
In die tien dae tuis moes ek vir bloedtoetse gaan, en as die plaatjies te laag was, sou ek opgeneem moes word vir ’n bloedoortapping. Dit was baie belangrik dat ek voldoen het aan al die instruksies van die behandeling – veral die nasorg. In dié tyd was daar min besoekers. Indien ek wel besoekers ontvang het, het my vrou Sonia gesorg dat hulle maskers dra en goed handewas. Sy het ook gesorg dat my eet-roetine reg was en dat my pille, meetings vir suurstof en bloeddruk en inspuitings vir die bloedverdunning reg geskied.
Tydens my behandeling was daar baie mense wat vir my gebid het en hulle het ook die wonderwerk van my genesing ervaar deur hulle eie getuienis. Een besondere getuienis was my vriend Hennie wat kom kuier het en gesê het die Heilige Gees sê hy moet nou vir my bid. Ons het buite gesit en hy het op sy knieë gegaan op die harde plaveisel en vir my gebid. Ek het weer bevestiging gekry dat ek ten volle genees sou word.
Christenskap het ’n ander gedaante vir my begin aanneem. Dit was nie langer iets waaroor jy nie praat nie en slegs nou en dan beoefen nie. Dit is deel van my alledaagse bestaan. Mense moet weet en sien jy is ’n Christen, ondanks al jou tekortkominge.
Dien die Here met blydskap en entoesiastiese lofprysings. Vertel aan almal wat nie weet nie van die heil wat Jesus bring. Om Jesus te vind is ’n wonderlike voorreg en dit moet duidelik op jou gesig sigbaar wees.
Ek is nou amper twee jaar in remissie. Ek weet nie wat vir my voorlê nie, maar wat ek wel weet, is dat die Here by my is.
*Jan Rosslee is 74 jaar oud en woon saam met sy vrou Sonia in Pretoria-Oos.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.