Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

‘My lesse langs ander se sterfbed’

DEUR FRANCOIS CILLIERS

Daar was net ’n hekkie, het ek vasgestel, tussen die pastorie waar ek moes intrek en die aftreeoord langsaan se versorgingseenheid.

Ek het pas my studies voltooi, my 25ste verjaardag gevier en toe alleen in daardie groot huis in Vereeniging ingetrek. Dit was die begin van my bediening en my kop was vol drome. Vir die eerste keer het ek soos ’n grootmens gevoel.

Om huis op te sit, was opwindend: Jy beplan haarfyn wat waar moet staan. ’n Introvert se huis is immers die veilige hawe waar batterye herlaai word. Dis die plek waar jy aan die einde van ’n lang dag die gordyne toetrek en ’n oomblik lank kan voel dat die wêreld buite bly.

“Op 2 Februarie 2016 is my oudste suster oorlede aan kanker. Die laaste paar dae langs haar sterfbed het my diep geraak en \’n groot impak op my menswees gemaak,” vertel Francois. Foto verskaf

Latere hoofstuk

By die aftreeoord langsaan het die inwoners ’n ander seisoen in hul lewe bereik. Ek het na hul verhale geluister. Dit was dié van mense wat ook eens op ’n tyd ’n tuiste gemaak het van ’n huis waar hulle ingetrek het. Hulle het meubels gekoop en met verloop van tyd hul mure vol foto’s van vakansies en spesiale geleenthede gehang.

Die verhale het egter ook ’n latere hoofstuk bevat: oor mense wat noodgedwonge weer van die meeste dinge ontslae moes raak omdat hulle na ’n kleiner plek verhuis het.

LEES OOK: ‘Ek is dankbaar vir die goue lesse wat my Manna aan ons nagelaat het’

Ek onthou hoe die harde werklikheid hiervan my getref het wanneer ek by die versorgingseenheid ingegaan het. Want hier was daar langs die bed plek vir slegs een bedkassie. Gewoonlik met ’n paar foto’tjies van geliefdes – ás daar plek is tussen al die pakkies en sakkies en botteltjies medikasie.

Wanneer ek ná ’n besoek daar weer deur die hekkie moes gaan na my eie seisoen van bymekaarmaak, het ek onwillekeurig daaraan gedink dat ek ook eendag dalk net ’n enkele kassie by my bed sal hê.

Dit was ’n vreemde gedagte.

Francois se vrou Magdeleen by hulle honde. Foto verskaf

Sterfbed

Ek het spoedig uitgevind dat so ’n bed-met-’n-kassie dikwels ook ’n sterfbed word. En dit het my telkemale daaraan herinner dat geld en besittings regtig nie groot waarde het nie. By dié bed vra niemand meer waar jy bly, hoeveel jy verdien en waarmee jy ry nie.

Op ’n sterfbed is jy gestroop – van jou jeug, jou gesondheid, dikwels jou geliefdes. En soms van ’n stuk menswaardigheid. Hier is jy volslae afhanklik van ander mense se omgee en hulp.

Hier het ek geleer daar is iets heiligs daaraan om langs ’n mens se sterfbed te mag wees.

Hekkie

Ek het sowat ses jaar deur daardie hekkie geloop, van 2011 tot 2017. In dié jare se heen-en-weer het ek diep oor die lewe nagedink. Dit was so vreemd, en ’n voorreg, om telkens die reis tussen my toekoms en ’n ander mens se einde só af te lê.

En ek het eers later in my bediening besef watter groot impak hierdie hekkie-ervaring op my lewe gemaak het.

Aan die einde van 2017 het die Here my Plettenbergbaai toe geroep. Dis ’n gesogte aftreedorp, en dus ’n plek wat vir baie mense ook so ’n hekkie verteenwoordig, ’n deurgang van bymekaarmaak na afskaal.

Ek het in my vroeë dertigs hier aangekom, en intussen het my ma (op hooffoto in die middel) ook afgetree. Ná ongeveer 40 jaar in haar huis, my grootwordhuis, het sy na haar aftreeplek getrek. Ook dit het my laat dink, laat bestek opneem.

Dit was dus deur ander se lewensverhale en by sterfbeddens, en met my ma se aftrede, dat ek geleer het hoe vinnig die lewe verbygaan. En dit daag my elke dag uit om ánders na die lewe te kyk. Om die lesse wat ek daar leer in my eie lewe toe te pas, en dit na ander oor te dra.

Dit dwing my om “van agter af”, van die sterfbed se kant, na die lewe, mý lewe, te kyk.

Die volgende sake het nou boaan my lewenslysie verskyn:

  1. Die lewe is kort en dit gaan vinnig verby. Carpe Diem!
  2. Moenie jou te veel bekommer oor wat ander van jou dink nie; jy gaan in elk geval nie beheer daaroor hê nie.
  3. Jou reputasie is wat ander van jou dink, maar jou karakter is wat God van jou weet. Werk dus eerder aan jou karakter.
  4. Het my tyd op aarde enigsins ’n verskil gemaak aan diegene wat ná my hier kom leef? (Is herwinning byvoorbeeld vir my belangrik?)
  5. Wie gaan op my begrafnis die huldeblyk doen? En wat gaan hulle van my sê?
  6. ’n Opgedateerde testament maak regtig jou geliefdes se lewe baie makliker ná jou afsterwe.
  7. Maak jou rekeninge se onderskeie wagwoorde aan ’n vertroueling bekend.

Nog een ding: Hoe ouer ek word, hoe meer besef ek dat een bedkassie met ’n paar foto’s daarop regtig genoeg is aan die einde van jou lewe. Dis nou indien dit jou lewensdoel was om die Lig na die eintlike Lewe, Jesus Christus, te weerkaats.

  • Francois Cilliers is predikant by die NG gemeente Plettenbergbaai.
  • Het jy ’n getuienis wat jy met LiG-lesers wil deel? Stuur jou verhaal na lig@tydskrifte.co.za
Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.