“Die Here het my met twee pragtige kinders geseën,” vertel Ellanor Ligthelm (69) van Pretoria, “Annemarie in 1981 en Tiaan in 1983.
“Annemarie is met ’n vernoude slukderm gebore en ons het sedert haar geboorte na elke strooihalmpie gegryp om haar toestand te probeer verbeter.”
Alhoewel Annemarie baie klein van postuur was, het sy altyd probeer om ’n normale lewe te lei. Haar positiewe lewensuitkyk en haar onwankelbare geloof was ’n inspirasie vir almal. Sy het nooit vir enige uitdaging teruggedeins nie. Sy het aan verskeie sportsoorte en kultuuraktiwiteite deelgeneem én gepresteer.
Nadat sy aan Hoërskool Alberton gematrikuleer het, het sy ’n B Ed-graad aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (nou die NWU) verwerf. En daarna ’n honneursgraad.
LEES MEER: ‘God alleen bring berusting en vrede,’ sê vrou ná albei haar dogters sterf
Tiaan het ná matriek regte aan die Randse Afrikaanse Universiteit (nou UJ) gestudeer en aan verskeie sportsoorte deelgeneem. Maar iewers in sy eerste jaar het hy epileptiese aanvalle begin kry. Dit het sy algemene gesondheid geknou.
Ná twee agtereenvolgende aanvalle is hy in Mei 2006 skielik oorlede. Hy was maar 23.
Sy ma vertel: “Ek en Annemarie was verpletter. Sy en Tiaan het ’n besonder hegte verhouding gehad. Nogtans was sy die een wat my getroos en onderskraag het, ondanks die hartseer in daardie klein lyfie.
“Maar eintlik,” sê Ellanor, “het Annemarie nooit haar broer en vertroueling se dood verwerk nie.”
‘Sy het behoorlik weggekwyn’
Vanweë haar vernoude slukderm moes Annemarie reuse-uitdagings die hoof bied. In 2013 het haar gesondheid verder verswak. Daar moes herhaalde “rek-prosedures” op die slukderm toegepas word ten einde haar slukvermoë te verbeter. Dit was ’n omslagtige en uitdagende proses om vloeistowwe te sluk. Maar Annemarie het volhard.
Al die ingrypings het egter slegs gedeeltelik geslaag.
Ellanor vertel: “My kind het bly gewig verloor. Sy het behoorlik weggekwyn. Maar ten spyte van die stelselmatige agteruitgang het sy positief gebly.
“Sy was ’n ewige optimis, onwrikbaar in haar oortuiging dat sy gesond sou word.”
‘Ek kan sluk! Ek kan sluk!’
In die soeke na ’n oplossing het hulle by die Donald Gordon-hospitaal in Johannesburg aangeklop. Hulle het gehoop dat die span spesialiste daar Annemarie sou kon help.
Tussen 2013 en 2014 het Annemarie altesaam 22 weke in hospitale deurgebring, verskeie toetse ondergaan en etlike prosedures deurgemaak.
In 2013, toe sy skaars 24 kilogram geweeg het, is sy in die Donald Gordon-hospitaal opgeneem. Daar is talle toetse uitgevoer, en die medici was genoodsaak om buisvoeding toe te dien aangesien sy glad nie kon sluk nie. Die buisvoeding het gehelp dat haar gewig toegeneem het.
Sy het in ’n stadium tot 36 kilogram geweeg. Die spesialiste sou ’n slukderm-oorplanting kon uitvoer sodra haar gewig na wense was.
In Oktober 2013 het professor Damon Bizos ’n stent in Annemarie se slukderm aangebring sodat hy kon vasstel of dit haar slukvermoë beduidend sou verbeter.
Nadat Annemarie uit die teater is, het sy ’n koppie tee gedrink – en dadelik nog drie koppies vol gevra!
Ellanor sê sy sal die vreugde in die twee bruin ogies altyd koester. En die uitbundige gejuig: “Ek kan sluk! Ek kan sluk!”
God stuur engele
By die huis het Annemarie steeds buisvoeding ontvang. Die toevoersak moes elke dertien uur vervang word. Sekere medikasie is óf saam met die buisvoeding toegedien óf dit moes mondelings geneem word.
Dit het die proses tydrowend gemaak. “Maar deur dit alles,” vertel haar ma, “het sy moedig gebly.
“Tog het sy soms gevra of sy ooit ten volle sal herstel.”
Dan het sy self geantwoord deur dadelik te verwys na die Bybelteks wat haar geanker het, Hebreërs 13:5-6. Daaruit het sy die versekering gekry dat God haar nooit sal verlaat nie.
Ellanor vertel: “In dié uitdagende tyd het God engele gestuur, in die vorm van aardse wesens, om ons las te verlig en om ons te ondersteun.”
Dié engele het ingesluit ’n mediese span, bestaande uit ’n dieetkundige, ’n sielkundige, ’n fisioterapeut en ’n longspesialis, onder leiding van die bekende orgaanoorplantingspesialis, dr Anna Sparaco. Laasgenoemde het gereken dat daar eendag ’n slukderm vir Annemarie oorgeplant kan word.
In Desember 2013 het Annemarie, gekoppel aan ’n voedingsbuis, gaan fliek. Sy het selfs Kersinkopies gedoen. “My kind se krag het toegeneem en haar gesondheid het verbeter,” onthou Ellanor.
“Wanneer ek moedeloos gevoel het, het sy my aangespoor om nie moed op te gee nie. Wanneer sy gebid het, het sy eers vir die ander pasiënte in die hospitaal gebid, en dan vir haarself.
“Sy het ’n rotsvaste geloof in die krag van gebed gehad.”
Alles eensklaps te veel
Op 4 Maart 2014 is Annemarie weer teater toe, en die dokters het ’n voedingsbuis in haar maag geplaas sodat sy gouer die teikengewig vir ’n moontlike slukderm-oorplanting kon bereik.
Die volgende oggend is sy na die X-straal-afdeling geneem, waar die dokters wou seker maak die voedingsbuis is in die korrekte posisie. Maar op die X-straaltafel het alles eensklaps te veel vir die tenger liggaam geword.
Twee longspesialiste en drie narkotiseurs het probeer om haar by te bring. Tevergeefs.
Ellanor onthou: “Dit was so skielik …”
En sy voeg by: “Ek kan nie die skok beskryf nie, ek het nie woorde daarvoor nie.”
’n Nalatenskap vir Annemarie
Ellanor het besluit dat daar iets positiefs uit haar hartseer moet voortkom. “Ná Annemarie se dood het ek en dr Sparaco die nood raakgesien van pasiënte wat op ’n orgaanoorplanting wag, en vir wie die wagtyd in ’n staatshospitaal uitmergelend word.”
Ter nagedagtenis aan Annemarie is ’n teekamer by die oorplantingseenheid in die Charlotte Maxeke-hospitaal ingerig en op 31 Januarie 2015 is dit amptelik ingewy.
Ellanor en dr Sparaco het ’n trust vir orgaanskenings gestig en geregistreer, wat etlike pasiënte en hul familielede van onder meer kospakkies voorsien.
“Die teekamer dien as ’n nalatenskap vir Annemarie, wat geglo het dat jy jou naaste moet dien en God daardeur verheerlik. Dit sluit aan by Jesus se gebed in Johannes 17:4: ‘Ek het U op aarde verheerlik deur die werk te volbring wat U My gegee het.’”
Ellanor sê: “Miskien is hierdie teks tekenend van my en Annemarie se lewe. Miskien is dit waarvoor God my op aarde geplaas het en waarom ek hierdie beproewing moet deurmaak.
“Ek hoop om die trust uit te bou om ander se nood te verlig. Om die teekamer te onderhou ter herinnering aan my kind se kortstondige lewe, waarin sy alles gegee het.
“Miskien sal dit vir my berusting en vrede bring ná my twee kinders se dood.”
‘Ek praat met my kinders’
Ellanor het reeds ná Tiaan se afsterwe besluit om verder te studeer. Sy het toe ’n MBA behaal. Onlangs het sy ’n TEFL-kursus voltooi om Engels aanlyn te doseer.
“Ek probeer om besig te bly. Aktief. Ek stap baie, ek doen pilates. Ek behoort aan ’n Bybelstudiegroep in ons gemeente.
“Ek het ’n galery foto’s van Tiaan en Annemarie by ’n trap in my huis aangebring. Ek praat met my kinders wanneer ek daar verbyloop.”
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.