“Ek was ’n twee weke oue baba toe my ma my in ’n plaashuis buite Kaapstad los en verdwyn,” vertel Charmaine Botha uit Brits in die Noordwes-provinsie.
“My ouma moes my noodgedwonge inneem, al was sy skaam en kwaad oor hierdie buite-egtelike baba in haar lewe. En ek is onder die dekmantel van dissipline aan die verskriklikste mishandeling blootgestel.
“My oupa, met sy sagter geaardheid, was my held en veilige hawe. Maar vanweë sy werk was hy net elke tweede naweek tuis. Dit was heeltemal te min en te kort om al die mishandeling te voorkom. Om die vroetelende hande van besoekende mans en ’n familielid van my af te hou.”
Charmaine was ’n kleuter toe polio tot gevolg gehad het dat haar linkerbeen swak ontwikkel. Sy moes met ’n kruk leer loop – eers ’n houtkruk, later darem ’n aluminiumkruk. “Reeds op vier moes ek byname soos ‘Hoppies’ en ‘Hop-a-long-Cassidy’ aanhoor.
“Ek wou graag in die regte studeer, maar daar was nie geld nie. In matriek wou ek wegloop van my ouma af en my ma probeer opspoor. Ek het ’n predikant in my vertroue geneem. Maar die predikant se pogings en mý probeerslae om ’n verhouding met my ma te bou, het alles rampspoedig geëindig.”
LEES OOK: ‘Ek wil nie anders wees nie; die Here het my so gemaak’
’n Goeie huwelik, wat my heelgemaak het
Charmaine was nog jonk toe sy haar eerste man ontmoet het. “Hy was Frank Craig, ’n Namibiër, en hy was 22 jaar ouer as ek. Ons het ’n goeie huwelik gehad. Hy het my aangemoedig om voluit te lewe.”
Musiek was ’n gedeelde liefde. Frank het sy eie orkes in Outjo gehad, en Charmaine bespeel verskeie instrumente en sy sing graag. “Frank se linkerbeen was ook verswak weens polio, maar hy kon baie lekker dans!” onthou sy.
“Netcare, die weermag, werk by versekeringsmaatskappye – oral waar ek aangestel is, het ek my uitgeleef. Dalk het ek ékstra hard gewerk weens my gestremdheid; niemand moes ooit dink dat ek iets nié kan doen nie!
“My huwelik met Frank het my heelgemaak. Ek kon welsynsprojekte aanpak, en het selfs toekennings vir sommige projekte ontvang. Ek het begin verstaan dat my ouma se pogings om my aan te rand uit haar eie seerkry-tye gespruit het. Daarom het ek doelbewus besluit om vrede te maak met al die onreg in my kinderjare.
“Ja, dit het letsels gelaat, maar ek kon vergewe. Ek het gekies dat dit my eerder sterker maak. Dit help nie om met griewe te leef nie.”
Charmaine het twee gesonde babas in die lewe gebring, en daarna die trauma van ’n stilgeboorte beleef. Sy vertel: “Ek kan steeds nie ’n datum daaraan koppel nie; ek skuif dit met alle mag uit my gedagtes.”
Nadat Frank in 2003 ’n kolonkankerdiagnose moes aanhoor, het hy sy dieet en leefwyse radikaal aangepas. “Hy was ’n baie gelowige mens en het vas geglo in God se wonderwerke. Intussen het ek by nog twee plekke gaan werk om te verseker dat ons goeie mediese behandeling vir hom kon bekostig.”
Aanvanklik het die dokters gesê Frank sou net drie maande ná die diagnose leef. Hy het vyf jaar later gesterf, in Maart 2008, op Charmaine se verjaardag. Hulle was 22 jaar lank getroud.
Sy het hom die laaste drie maande voluit versorg. “Op sy laaste dag het hy gevra dat ek vir hom sing. Toe sing ek en ons dogter vir hom, ure lank.”
Tree vir tree
“Frank het my aangemoedig om nooit by die dooies stil te staan nie; om eerder weer te trou. Dis nou mits ek ’n goeie man vind, het hy gesê. Én as so ’n man ons jong pleegseun Theoron as sy eie sal liefhê.”
Dis presies wat gebeur het. Charmaine het Roebel Botha ontmoet. Hy was ’n gewese polisieman, wie se liggaamlike en emosionele gesondheid afgetakel was ná ’n besering terwyl hy aan diens was. Daar was ook ’n egskeiding.
Tree vir tree het hulle saam aan hul huwelik gebou. Met Charmaine se ondersteuning is Roebel binne ’n jaar verlos van sy verslawing aan medikasie. Hy het sekuriteitskursusse voltooi, ’n openbarevervoerlisensie verkry en by ’n nuwe werk ingestap. En hy het begin houtwerk doen.
Charmaine vertel: “Roebel het ontwikkel van ’n mens met min selfvertroue tot ’n sorgsame gesinsman, ’n steunpilaar vir my en my kinders.
“Ek het begin om Roebel met sy uitbetaling-eise te help. Hy is in 1998 beseer, maar die vergoedingskommissie het toe steeds niks uitbetaal nie.”
Charmaine het ook 128 ander mense met onafgehandelde eise onder haar vlerk geneem en hulle met raad en daad bygestaan. Haar pogings het selfs die Sondagkoerante gehaal.
Romeo en Juliet
Maar goeie gesondheid het hulle bly ontwyk. Charmaine het ernstige skouerprobleme ná ’n vroeëre motorongeluk oorgehou en sy moes ’n mobiliteitkarretjie deel van haar lewe maak.
Ná Roebel se vyftigste verjaardag het hy ’n hele reeks operasies ondergaan, onder meer aan sy prostaat. Daarna was dit weens kolonkanker, en ongelukkig ook vanweë sepsis en gangreen wat ingetree het.
Dit alles het sy beweeglikheid ál meer ingeperk. Hy moes ook ’n karretjie kry, soos sy vrou.
Charmaine vertel: “Toe sien Brits se mense ons as die egpaar wat, elk in ons eie skoeter, in die straat teen mekaar resies jaag. Ons laai kinders op ons twee karretjies en ry hulle rond in ’n winkelsentrum.
“Maar Roebel kon nooit bid nie. Hy het altyd gevra dat ek vir hom moet bid. Die baie operasies én die talle komplikasies in die laaste tien jaar van sy lewe het sy menswaardigheid en sy moed gesteel. Ek het hom ondersteun. Die hospitaalpersoneel het na ons verwys as Romeo en Juliet.”
Charmaine het Roebel die laaste klompie maande tuis versorg. “Tot aan die einde wou Roebie weet of ek oukei sal wees. Hy het my deurentyd aangemoedig om voort te veg vir die polisie se uitbetalings aan hom en daardie 128 mense. Sommige van dié eise is reeds dertig jaar oud.
“Toe Roebel op 30 Desember sterf, was ek en Theoron besig om vir hom geestelike liedere te sing.
“Ons het hom sewe dae later begrawe. Ons was byna 16 jaar getroud.
“Ek lees daardie Voetspore-boekmerkie gereeld. Ek kry antwoorde op my ‘waarom ék?’-vrae. Ek glo die Here het my deur my moeilike kinderjare bewaar om my sterk te maak vir die taak om twee mans met kolonkanker te kon versorg.
“Op 62 beleef ek hoe Filippense 4:13 elke dag vir my waar word: “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.”
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.