DEUR MARTHINÉ JANSE VAN RENSBURG
Ek onthou dit soos gister: die aand van 16 April 2022 toe ek ’n oomblik lank my bewussyn verloor het, ’n ligte epileptiese aanval gehad het, en my pa in die middel van die nag met my hospitaal toe gejaag het.
Daar was wel ’n aanloop tot dié traumatiese gebeure: Op 31 Maart het ek siek geword en die volgende dag is ek na my huisdokter toe. Ek het medikasie gekry, maar my simptome het vererger. Op 6 April is ek terug dokter toe; hy kon nie ’n diagnose maak nie.
Paasnaweek het ek by my ouers gaan kuier, en op 16 April het ek baie siek geword. My bloeddruk het die hoogte ingeskiet, en my sig en spraak is aangetas. My pa het my na die plaaslike hospitaal gehaas. Die dokter aan diens het my ondersoek en vasgestel dat daar ’n drukking op my brein is, en dat ek so gou moontlik spesialisbehandeling moes kry.
By ’n private hospitaal in Pretoria is vasgestel dat ek bloeding op die brein het. Ek is dadelik in die intensiewesorgeenheid opgeneem, en ek moes ’n operasie ondergaan om die bloeding te verwyder. Die dokter het al die gevare verbonde aan die operasie met ons bespreek. En onder meer gesê dat indien ek nié die operasie ondergaan nie, ek geen kans staan op oorlewing nie. As ek egter instem, is daar wel ’n 50%-kans.
Risiko’s en besluite
Daar was verdere risiko’s: Die deel met die bloeding was aan die visuele kant van my brein. Kom daar fout, is daar die gevaar dat ek my sig verloor.
Ek het nog nooit voor so ’n moeilike besluit te staan gekom nie. Maar ek het vasgehou aan die 50%-kans op oorlewing en tot die operasie ingestem. Ons, ek en my ouers én die verpleegpersoneel, het saam gebid voordat ek teater toe is.
Die operasie het goed afgeloop. Die eerste 72 uur daarna was egter van kritieke belang.
Daar was ongelukkig komplikasies, wat beteken het dat ek die volgende dag weer moes teater toe vir ’n tweede operasie. Dit was ’n groot sukses en ek het goed herstel. Ná sewe dae in die hospitaal, waarvan vyf in die intensiewesorgeenheid, is ek ontslaan.
Wonderwerk
By die huis het ek baie tyd met die Woord deurgebring en oor alles nagedink. Ek het besef dat die Here se beskermende hand oor my was. Hoe daar absoluut niks met my gebeur het in die tyd wat ek alleen gebly en elke dag my motor bestuur het nie. Ek glo dit was ’n bestiering dat ek by my ouers was daardie traumatiese aand. Hulle kon my help om betyds die regte mediese hulp te kry.
LEES OOK: ‘Ná 16 jaar gee God my lewe vir my terug’
’n Vriendin het ook in daardie tyd met my gesels. Sy het ’n vriend, ’n neurochirurg, van my vertel en hy het gesê dat my herstel ’n wonderwerk is. Hy het haar vertel dat bloeding op die brein en hoë bloeddruk ’n voorloper tot beroerte kan wees. Dat dit nie slegs my sig sou aantas nie, maar my ook verlam kon laat.
Toe ek dit hoor, het my oë vol trane geskiet. Ek is so dankbaar teenoor die Here vir sy beskerming! En dat ek geen nagevolge van die operasies oorgehou het nie.
‘Die Here het my aangeraak’
Daar was wel ’n nuwe probleem: Die wond het nie suksesvol geheg nie en ek het infeksie opgedoen. Op 25 Mei is ek weer in die hospitaal opgeneem en die volgende dag is ek weer geopereer. Dié keer om die wond skoon te maak en dit opnuut te heg. Dit was suksesvol. Ná twee dae in die intensiewesorgeenheid is ek na ’n gewone saal oorgeplaas.
Ek was dié keer ’n bietjie langer as twee weke in die hospitaal. Die dokters wou seker maak van die herstel en die nasorg en ek moes vir waarneming bly totdat alle gevaar verby was.
In die hospitaal het die Here baie met my gepraat. Ek het ook, met behulp van Martin van der Merwe se boek Hearing God: Numbers Dictionary. A prophetic understanding of numbers, die dieper betekenis agter datums begin naslaan – en dit het my asem weggeslaan.
Die Here het beslis my hart, my hele lewe, aangeraak. As ek nie dié moeilike pad gestap het nie, sou ek nie die geestelike betekenis daarvan ingesien het nie. Ek deel dit graag:
* Die eerste foto (onder), waarop my hare nog lank is, is op 17 Februarie 2022 geneem.
* My eerste breinoperasie is op 17 April 2022 uitgevoer.
* Die foto waarop my hare kort is (sien hooffoto), is sewe dae ná my laaste breinoperasie op 26 Mei 2022 geneem.
– Sewe beteken “perfection”
– Sewentien beteken “inheritance”
– Ses-en-twintig beteken “God my deliverer”
Alle eer en dank aan God omdat Hy my hierdeur gedra het en my bewaar het! Omdat Hy my geloof verdiep het. Omdat my lewe deur dit alles verryk is.
- Marthiné is ’n 26-jarige haarkapper van Zeerust in Noordwes.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.