Douwlien Fourie (60), ’n hoërskoolonderwyseres in Randburg, is een van daardie mense wat altyd glimlag. En wanneer sy oor haar oudste seun Louis (34) praat, is haar glimlag selfs groter. Want Louis, wat outisties is, is haar sonstraal-kind. En, sê sy, hy versinnebeeld Jesus vir haar.
“Ek is bevoorreg om ’n kind soos Louis te mag hê. Hy is my rots.”
Douwlien sê sy kan verstaan hoekom kinders met downsindroom “hemelkinders” genoem word. “Want Louis is wel outisties, maar vir my is hy ook ’n hemelkind.”
‘Hy was van kleins af gaande oor stoomtreine’
Douwlien het in Vanderbijlpark grootgeword en vir ’n B Sc-graad aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit (vandag die Universiteit van Johannesburg) gestudeer. Daar het sy Duncan Fourie ontmoet, ’n B Com-student. Hulle is in 1986 getroud.
LEES OOK: Ma van twee kinders met spesiale behoeftes: ‘Hulle is God se kinders’
Sy is tans ’n natuur- en fisiese wetenskap-onderwyser by die Hoërskool Randburg en Duncan ’n wiskunde-onderwyser by Roosevelt High. Duncan is ook ’n bekende in musiekkringe. Hy was jare lank Hoërskool Linden se koordirigent en is tans die dirigent van die Johannesburg Jeugkoor sowel as Roosevelt High se koor.
Dié egpaar se eersteling is in 1990 gebore. Hulle was bekommerd toe Louis twee jaar oud geword het en toe nog nie kon praat nie. Hy het ook nie op klank gereageer nie.
Douwlien vertel: “Duncan se pa was ’n polisieman en hy het altyd hard gepraat. Hy het ook gesê hy dink Louis is doof omdat Louis glad nie op sy harde stem gereageer het nie.
“Louis was ’n rustige, soet kind, van sy baba-dae af. Ons het altyd ’n vaste roetine gehandhaaf om hom standvastigheid te gee.”
Nadat hulle verskeie spesialiste geraadpleeg het, het die Fouries uiteindelik die antwoord op al hul vrae oor Louis gekry. Prof Roux Botha, ’n voormalige rektor aan die Randse Afrikaanse Universiteit, wat destyds dekaan in opvoedkunde was, het gesê Louis is outisties. Die professor se een seun is ook outisties.
Prof Roux en sy vrou Jorina het hulle goeie raad gegee. Hulle het riglyne rakende outisme verskaf en hulpmiddels soos spraakterapie aan die hand gedoen. Dit alles om Louis se fisieke en verstandelike vermoëns te ontwikkel.
Toe Louis ongeveer drie jaar oud was, het hulle begin besef dat Louis nie doof is nie. “Wanneer Louis die kenwysie van die animasie-reeks Thomas the Tank Engine op televisie gehoor het, het hy dadelik aangehardloop gekom. Hy was van kleins af gaande oor stoomtreine. Ons het hom elke jaar op die stoomtrein in Magaliesburg laat ry, en dan was hy in sy element. Hy is baie kreatief en lief vir teken, veral stoomtreine.”
‘Soos Moses se ma …’
Die egpaar het alle moontlike navorsing gedoen om vir Louis die beste moontlike sorg en opvoeding te kan bied. Dit het hulle uiteindelik na die UNICA-skool vir outisme in Pretoria gelei. UNICA bied gespesialiseerde opvoeding en onderrig aan kinders tussen 3 en 18 jaar oud wat hulle op die outisme-spektrum bevind.
UNICA het ook ’n kosskool, en ná lang oorweging het die Fouries, wat in Montgomerypark in Johannesburg woon, besluit om Louis daar in te skryf. Hulle het hom naweke en skoolvakansies in Pretoria gaan haal.
Louis was vier-en-’n-half jaar oud toe hy plek in UNICA gekry het. Sy ma vertel: “Toe ons Louis die dag na UNICA geneem het, het ek soos Moses se ma Jogebed gevoel toe sy Moses as baba in ’n mandjie tussen die riete naby die Nylrivier laat wegsteek het. Soos sy, het ons gehoop en gebid dat die Here sy bewarende hand oor ons kind sal hou.”
Louis het baie goed aangepas. Hy het mooi by die remediërende groepe ingeskakel.
Maar voordat hy UNICA toe is, het hy spraakterapie by Elsa Fuchs ontvang. “Hy het eers geleer om ‘na te praat’. Hy is mal oor Leon Schuster se rolprente en het soms Leon se sê-goed herhaal.”
Louis is ook baie lief vir musiek, ’n liefde wat hy sekerlik by sy pa geërf het. “Hy luister na ’n verskeidenheid musiek, onder andere dié van Vicki Leandros, Groep Twee, Laurika Rauch en Gé Korsten. En, natuurlik, Leon Schuster.”
Louis kyk ook graag televisie, veral Walt Disney-rolprente. Hy teken van kleins af met vetkryt, en buiten stoomtreine skets hy bekende stories uit die Bybel – Jesus se geboorte-krip, Jona en die groot vis, en Jesus wat die storm stil maak. Sy kleurryke werk het al baie kunsliefhebbers beïndruk.
Douwlien sê: “Anders as sommige outistiese kinders breek hy nie dinge nie; hy hou daarvan om te bou. Hy is gereeld besig om met Lego Bionicle-stelle te bou. Sy slaapkamer is vól daarvan.”
Louis kom baie goed klaar met diere en sy ouers neem hom gereeld na die Johannesburg-dieretuin toe sodat hy vir sy diere-vriende kan gaan kuier. “Hy ken ongeveer elke dier in elke hok. Wanneer hy by die lama kom, hardloop hy al langs die draad – en die lama hardloop saam met hom! Tot die ander besoekers se verbasing.”
Toe Louis agtien geword het, is hy na Cresset House oorgeplaas, ’n tehuis in Glen Austin in Midrand vir volwassenes met intellektuele gestremdheid. “Ons kind het ook baie goed in Cresset House aangepas. Ons gaan haal hom naweke en vakansies om te kom kuier.”
Het Douwlien raad vir ouers wat in dieselfde bootjie as hulle is?
“Moenie jou outistiese kind by die huis hou nie, want dit is vir sy/haar eie beswil om na ’n skool of sentrum te gaan waar sulke kinders op ’n professionele wyse gestimuleer word, en tussen ander is wat ook soos hulle is.”
‘Ek neem altyd al my probleme na die Here’
Dit verg groot aanpassings wanneer jou kind met outisme gediagnoseer word. Jy moet dit aanvaar, en jy moet weet dat sy situasie nie slegs die ouers raak nie maar ook ander familielede, en goeie vriende.
Douwlien vertel hoe hul beste vriende Louis onvoorwaardelik aanvaar het. “My susters Hanlie Botha en Annatjie Delport en my broer Johan Marnewick was altyd groot steunpilare. Asook my ouers, toe hulle nog geleef het. My ander kinders, Jacques (30) en Juanita (26), is baie lief vir Louis, hulle ondersteun hom en tree beskermend teenoor hom op.”
Hierdie ma het deur die jare op haar knieë gebly, juis wanneer groot besluite geneem moes word of as daar uitdagings opduik. “Ek neem altyd al my probleme na die Here,” sê sy.
Ma en seun het ’n baie spesiale band. “Ons is sielsgenote. Een van my hartswense is dat ek hom sal begrawe voordat ek sterf, sodat ek die berusting kan hê dat hy veilig in die Here se hande is.”
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.