In ’n stadium toe dit baie sleg met ons huwelik gegaan het, het ek gedroom hoe ek en my man Jaco vir ’n soldaat wegkruip. Maar die soldaat het op ons afgekom en iets soos ’n bom in my hande gedruk. Toe ek afkyk, was dit ’n boompie. Dadelik het ek besef dis God se boodskap aan ons: Maak elke bom ’n boom. Min het ek geweet hoe tydig dit was …
Hierna het ons twee jaar lank gesukkel om swanger te raak. Maar kort nadat ek die fertiliteitsmedikasie laat staan het, het ek swanger geraak – met ’n seuntjie wat downsindroom het, en gate in sy hart.
’n Aborsie was nie ’n opsie nie. Hierdie bom sou ’n boompie word.
Al die welwillendheid
Ons het ons swangerskapreis in 2020 in Keetmanshoop, Namibië, begin. Dit was pandemietyd. Toe ons baba te stadig groei, het weeklikse en later daaglikse sonars nodig geword. Op 35 weke is Kabous met ’n noodkeisersnee in die wêreld gebring. Hy het ’n trotse 1,9 kg geweeg.
Kabous het ’n volle 35 dae in die neonatale-intensiewesorgeenheid in Windhoek deurgebring. Hy is met behulp van neusbuisvoedings versorg, en hy was van ekstra suurstof afhanklik. Strydig met die destydse aandklokreël het Jaco snags hospitaal toe gery met my 20 ml-borsmelk in ’n houertjie.
LEES OOK: Ma van tweekampatleet met Downsindroom: ‘Sy deelname is ’n getuienis van hoe goed God vir ons is’
Al die welwillendheid het ons verstom: Daar was hulp met verblyf; verminderde mediese rekenings; mense het gehelp om ons gedagtes positief te hou. En in Keetmanshoop het personeellede my kantoor en my ouers ons huis aan die gang gehou.
My ma het ’n suurstofmasjien en ’n saturasiemeter uit Amerika bestel en daarmee het ons die dokter oortuig om Kabous te ontslaan. Ons het Oukersaand 2020 in die hospitaal deurgebring omdat ons moes leer om Kabous tuis te versorg.
Kersdag was Kabous se eerste dag in die sonlig – wat ’n fees!
My ma het bedags, tussen haar werkverpligtings deur, vir Kabous gesorg. Snags het ek en Jaco beurte gemaak met die tweeuurlikse buisvoedings. Kabous het begin mens word.
Omdat die suurstofmasjien slegs met krag werk, het Jaco dit aan ’n motorbattery gekoppel. Ons het alles op my ouma se hout-inkopietrollie gelaai en in Windhoek rondgesleep. Regte “village idiots”!
Kabous was drie maande oud toe ons ’n pediatriese kardioloog ontmoet wat uit Kaapstad gekom het.
Ons het elke oomblik gekoester
Die kardioloog wou binne twee weke ’n hartoperasie op Kabous uitvoer. In Kaapstad. Dit het soos ’n berg voor my gelê.
Die dag toe ons moes vertrek, was ons Covid-19-uitslae laat. Ons het daardie middag grens toe gejaag en deurentyd gebid dat die toetse negatief sou wees. En dat die Namibiese grens oop sou wees, en die Suid-Afrikaanse grenspos ons sou deurlaat. Uiteindelik het alles seepglad verloop, ons is by die Suid-Afrikaanse grens deurgelaat en sterkte toegewens.
Kabous het toe slegs 3,4 kg geweeg en hy was so swak dat ek stilweg van hom afskeid geneem het. In Kaapstad het ons van ’n alternatiewe operasie verneem wat Kabous ekstra tyd sou gun om gewig op te tel en sterker te word. Dié goeie nuus het vir ons absolute vrede gebring.
Ná ’n drie uur lange operasie, en 25 dae in die pediatriese intensiewesorgeenheid (ISE), is Kabous van die ekstra suurstof gespeen. Vir die eerste keer ooit kon ons hom ronddra.
Later, in die algemene saal, het ek die dokter oortuig om Kabous te ontslaan, neusbuis en al. Ek was immers toe reeds drie maande lank die een wat sy neusbuis elke week moes vervang.
Tuis het Kabous gewig opgetel en hy het leer bottel drink. Hy het vir ons geglimlag en my broer se troue bygewoon. Ons het elke oomblik gekoester.
Die een krisis ná die ander
Maar met die opvolgbesoek het die kardioloog skokkende nuus gehad: Dit het geblyk dat daar groot probleme ná die operasie ontwikkel het en Kabous moes spoedig ’n tweede operasie ondergaan.
Was hy sterk genoeg? het ons bly wonder. Sou ook dié bom ’n boom word?
Die operasie het nege ure geduur. Ons het asem opgehou, maar Kabous het deurgedruk.
Uiteindelik het ons besef waarom ons juis toe in ’n Kaapstadse ISE moes wees: Die Covid-19-laksman het Keetmanshoop hárd getref.
Daar het krisisse by my werk én Jaco s’n opgeduik. En Kabous se herstel het langer geduur as wat ons verblyfpermitte ons in Suid-Afrika toegelaat het. Drie keer het ons aansoek om ’n verlenging gedoen. Ek het voor ’n binnelandse sake-amptenaar gehuil, wat nie kon verstaan waarom Kabous nie persoonlik voor haar verskyn het nie. Die aansoeke het weggeraak; toe was die aansoeke foutief. Dit sou maande duur om oorweeg te word, en oplaas het ons besef ons permitte gaan nie betyds verleng word nie.
Kabous is ná ses weke direk uit die ISE ontslaan. Ons het ernstig oor die permit-situasie gebid en haastig-haastig vertrek. Jaco het die Suid-Afrikaanse grenspos gebel en ons permit-probleme verduidelik. Die volgende dag het ons, klippe in die maag, by die grens gestop en weer die hele situasie verduidelik. Die beampte het ons paspoorte gestempel en gesê: “You are not undesirable, you may go.”
Prys die Here!
Elke maand was die manna daar
Tuis is Kabous van sy voedingsbuis gespeen en hy het begin eet. Hy skaterlag, hy sit regop, hy sê “Mamma”. Hy word gedoop, hy word een jaar oud.
Dit alles sou onmoontlik gewees het sonder die hartoperasie. Ons het gejubel.
In Desember 2021 het X-strale ’n groot breuk in sy diafragma uitgewys. Sy derms het teen sy regterlong gedruk en vasgegroei. Daar was nog ’n operasie in Kaapstad en nog twee weke in die ISE. Kabous moes van voor af leer sit en leer eet.
Toe het honderdduisende rand se skuld op ons gewag. Die chirurg het ons van sommige rekenings vrygeskeld, en die hospitaal het ingestem tot rentevrye afbetalings. Daardie afbetalings was steeds hoër as ’n huispaaiement …
Maar God is getrou. En elke maand was die manna daar. Binne twee jaar was alles afbetaal.
Boonop het ons ’n ondersteunende au pair opgespoor. Sy en my skoonsuster, ’n fisioterapeut, het gehelp dat Kabous sy mylpale bereik. Hy het meer woorde begin sê en sy tweede en later derde verjaardag gevier. En uiteindelik kon hy die horde hartmedikasie los.
Kabous het ’n gewone seuntjie geword, een wat in modder speel en, kruip-kruip, honde en beeste op sy oupa se plaas “verjaag”.
Verlede jaar het ons ons tweede seuntjie verwelkom, Harm. Ons au pair en haar familie sorg bedags vir die seuns. Nog ’n gebed is verhoor.
’n Splinternuwe Tafelberg voor ons
In Desember 2024 het Kabous begin loop. Hy was vier jaar oud. Maar ons het ook agtergekom dat hy eensklaps moeër as gewoonlik word.
Januarie het ’n volgende skok gebring: Kabous het nierversaking. ’n Eerste nier-biopsie was onmoontlik, want sy organe is in die pad. By ’n pediatriese nefroloog in Walvisbaai is ’n nier-biopsie onder narkose drie keer uitgestel omdat geen narkotiseur vir dié prosedure kans gesien het nie. Uiteindelik het die diagnose gekom: Kabous se enigste werkende nier funksioneer teen slegs 24%. Ons hoor van dialise, van ’n nieroorplanting. Dat daar geen orgaanskenkerlys in Namibië is nie. En dat ’n familielid, wat aan sekere kriteria voldoen, ’n skenker kan wees.
Kabous is vermoedelik met die nierdefek gebore, maar sy hartmedikasie, die talle operasies en die lang tye wat hy ekstra suurstof moes gebruik, het sy niere aangetas.
Ek en my ma het in die hospitaalkamer gesit, verslae. Hoe kon hierdie defek tot nou toe misgekyk gewees het? Maar eensklaps het ek besef: As die dokters bewus was van Kabous se nierprobleme sou hy nooit hartmedikasie ontvang en operasies ondergaan het nie. Hy sou nooit vier jaar oud geword het nie.
Ons ly steeds aan bomskok. ’n Namibiese organisasie wat families ondersteun wat ’n orgaanoorplanting oorweeg, help ons. En ons glo vas: Al weet ons nie hoe nie, Kabous sal gesond word. Ons bonsaiboompie sál aanhou groei.
God beveel my om sterk te wees, om moed te hou, om nie ontsteld te raak nie. Hy is by my waar ons ook al gaan. En al lê ’n splinternuwe Tafelberg voor ons.
* Marina Verdoes is ’n prokureur in Keetmanshoop, Namibië, en haar man Jaco de Klerk is ’n redakteur. Hulle was sewe jaar getroud voordat hul eersteling, Kabous, gebore is. Hulle beskryf hul lewenspad ná dié spesiale kindjie se geboorte as een waarop hulle geestelik verdiep en nader aan hul hemelse Vader gegroei het. Ná ’n tweede seuntjie se geboorte is Kabous (nou 4 jaar oud) ook ’n ouboet.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.