SAAMGESTEL DEUR ENGELA DUVENAGE
Ivor Swartz, tans jeugleraar by die NG gemeente Pretoria-Oosterlig en voorheen verbonde aan St Paul’s United Church in Johannesburg, is deesdae ook ’n televisie-aanbieder. In die joernaalprogram “Kies die lewe” op die VIA-televisiekanaal gesels hy met bekende Suid-Afrikaners oor hul geloof- en gemoedstryd.
Die program word sedert 5 September weekliks uitgesaai, en die naam daarvan is ontleen aan die titel van sy nuwe boek: Kies die lewe – leer dans in depressie (Lux Verbi).
Dié boek, sê Ivor, het hy so eerlik moontlik probeer skryf. Hy reken dat baie mense verbaas sal wees as hulle van sy jare lange stryd teen depressie hoor. Dis omdat buitestanders hom “as laggend, as charismaties, as positief, as akkommoderend” beskou. As iemand wat “altyd reg is vir ’n koffie of ’n bier”.
LEES OOK: ‘Genade en nog genade ná my ma se selfdood’
Die boek begin met dié boodskap: “Hierdie een is vir elke depressievegter; vir jou wat voel jou stem word nie gehoor in die geraas van al die onkunde nie; vir jou wat voel daar is te veel op die spel as jy hardop sou erken: Ek leef met depressie. Jy is nie alleen nie.”
Ivor sê hy het dit ook geskryf omdat hy dit nodig gehad het om vas te stel hoe ver hy reeds op sy reis met depressie gevorder het. Hy wil ander mense aanmoedig om hul stories te vertel, en om gesond te word, juis omdat hulle die lewe gekies het.
Hier volg ’n uittreksel uit die boek, met vergunning van Lux Verbi (’n druknaam van NB Uitgewers):
“Ek is tot in my diepste wese dankbaar dat my selfdoodbrief
nooit lewe en daad gekry het nie. Dat dit slegs ’n brief gebly
het. Dit was vir seker deels danksy my lafhartigheid. Wat
natuurlik die spanning in my binneste vererger het.
Hoe kan ek nie meer wil lewe nie, maar ook nie wil
doodgaan nie?
Ek dink met koue rillings aan mense wat op die rand
van hul keuse tussen lewe en dood gestaan het. Ek glo nie
een oomblik dat hul keuse leweloos en liefdeloos was nie;
dat hulle nie gedink het aan hul familie, hul drome en die
pyn wat hulle sal agterlaat nie. Ek glo vir seker hulle het
hul naaste mense se liefde vir hulle, en hul liefde vir hul
naaste mense, styf in hul hart vasgehou. Maar ek dink ook
die pyn van die diskonneksie in hul brein gemeng met die
wanhoop en innerlike konflik het gemaak dat geen liefde
op daardie spesifieke oomblik vir hulle genoeg
rede sou gee om te bly leef nie.
“Die Sentrum vir Siektebeheer en -voorkoming in Amerika
sê in 2020 het omtrent 46 000 mense weens selfdood
gesterf. Dit is amper een sterfte elke 11 minute. Selfdood is
ook die tweede grootste oorsaak van sterftes onder mense
in die ouderdomsgroep 10 tot 14 en 25 tot 34.
Volgens SADAG staan dié syfer in Suid-Afrika op ’n
hartseer 23 sterftes per dag. Dit kom neer op ongeveer
8 000 selfdoodsterftes per jaar, waarvan daar kennis gedra
word. Hulle noem ook dat hulle tussen Januarie en
September 2021 minstens 75 000 oproepe ontvang het van
mense met selfdoodgedagtes.
Dit bly genade, en genade alleen, dat ek vandag sterk
redes het om te leef, en aan te hou lewe kies.
Laat ons asseblief geen mens oordeel vir wat hulle in
die donkerste oomblikke van hul lewe gekies het nie. Ons
het geen konteks van die gewig van die las, die gemoed, die
seer, die gedagtegang, die opbou van keuses wat daartoe lei
dat iemand besluit om hul storie te beëindig nie.
Daar was vir seker Goddelike ingryping in my lewe,
en dit is geweldig kontroversieel om dit te sê. Insinueer
ek dalk daarmee dat God nie wou ingryp in die lewe van
ander mense wat op die drumpel van selfdood gestaan het
nie? Nee, glad nie. Ek erken dat ek nie weet hoe God een
mens van die rand af red en ’n ander nie. Ek weet God bly
altyd lief vir die een wat teen selfdood kies én vir die een
wat selfdood as ’n laaste uitweg kies.
“Ek weet ook ek het die oggend nadat ek my selfdoodbrief
geskryf het, opgestaan, op my fiets geklim en Somerset
Mall toe gery, waar ek by Exclusive Books gewerk het.
Ek het doodgewoon aangegaan met die dag. Ek onthou
dat ek vir tannie Adri, ’n goeie vriend van my se ma, gebel
en vir haar gevra het om vir my te bid. Sy doen dit steeds.
Die dag toe Luther gebore is, het ek myself herinner dat
ek ’n paar jaar vroeër wou doodgaan. En nie een oomblik
het ek die storie wat ek vandag leef in gedagte gehou of
selfs gedroom nie. Dit is die gevaarlikste wat kan gebeur:
wanneer ons pyn erger en sterker klop as ons redes vir
lewe. Dit is dán dat jy verby die punt is waar ’n perfekte
sonsopkoms of ’n heerlike ete saam met vriende die blou
sal weghou. Dan het jy professionele hulp nodig. Dalk
moet jy jou inboek iewers, of ’n betroubare persoon kry
om elke paar uur, of selfs meer dikwels, by jou in te check,
om seker te maak jy voel nie alleen nie.
“Ek is bly ek het lewe gekies. Ek is bly ek het ons gekies.
Ek is bly ek het die dans tussen lig en swaar se musiek
harder gedraai, my oë toegemaak en gedans asof niemand
kyk nie. En selfs al kyk die mense, dans ek omdat ek leef!
Ek weet dat baie ander mense nie vandag hier is nie omdat
hulle ook so ’n brief geskryf het, en dit uitgevoer het.
Dit moet verskriklik pynlik wees vir die mense wat hulle
geken het. Daar is niks wat iemand kan sê wat hierdie soort
pyn minder ondraaglik of beter kan maak nie. Wêreldwyd
is daar jaarliks meer as 700 000 mense wat weens selfdood
sterf, sê die Wêreldgesondheidsorganisasie. Elke sterfte
is ’n naam en ’n storie wat oneindige pyn vir familie en
naasbestaandes gebring het. Daarom doen ek doelgerig my
bes om my oorblywende tyd hier op aarde – hoe lank dit
ook al mag wees – nie op vrugtelose strewes te vermors nie.
Daar moet ’n dieper rede wees waarvoor ek lewe gekies en
nié die brief tot ’n daad laat oorgaan het nie. Daar moet ’n
groter rede vir my bestaan wees. Ek het nie lewe gekies om
elke jaar uit te sien na die nuutste iPhone, of om te sien of
die Proteas uiteindelik die Krieketwêreldbeker gaan wen
nie, al hoop ek steeds op laasgenoemde.
“Ek stap al na 40 se kant toe, kan jy dit glo! En my storie,
my depressie, is so ver verwyderd van die gedagtes wat ek
oor myself en my lewe gekoester het terwyl ek dié brief
geskryf het. Tog voel ek baie dae steeds skuldig omdat ek
dit geskryf het. Dit is waarvoor niemand jou voorberei of
toerus om te verwerk nie: hoe om met jouself te leef as jy
jou selfdoodneigings of -pogings oorleef het. Niemand leer
jou oor life after survival en hoe om met die skuldgevoelens
vrede te maak nie.
Hoe kon ek dit oorweeg het om die mense vir wie ek
so lief is agter te laat? Ek weet ek was so vasgevang in die
leuen van eensaamheid dat ek nie gedink het aan die mense
wat ek sou agterlaat nie. Dit is moontlik om tegelyk skuldig
en dankbaar te voel. Dankbaar dat jy ja gesê het vir lewe,
en skuldig omdat jy op die rand van jou eie begrafnis gestaan
het.
“As jy nie beplan het om lank te leef nie en jy doen
dit wel, moet jy aan iets kan vashou wat lewe en dood
transendeer.
Om te weet Christus is my vrede, wanneer die
dae swaar voel en die redes vir lewe dun, het my gehelp.
Want die waarheid is: met depressie weet jy nooit wanneer
jy weer kan verdwaal in die gedagte dat jy te veel plek
opneem aan hierdie kant van die ewigheid nie. Dalk is
dit hoekom ek my brief nog het, en dit hou. Dit kan ook
wees dat ek voortdurend leef met die bewustheid dat daar
’n tyd was toe ek nie wou leef nie. En nou dat ek gekies
het om te leef, moet ek voluit lewe. Soos ’n tannie baie na
aan my hart vir my gesê het oor haar pad met depressie en
selfdoodgedagtes: “Ek is ’n tweede kans gegee, nou moet ek
my lewe werklik leef asof dit die enigste een is wat ek het.”
Ek dank God dat Hy op die regte tyd en die regte plek
mense in my lewe gegee het wat in daardie donker tyd die
saadjies in my kom plant het om uiteindelik lewe te kies,
om te glo hoop is nie ’n abstrakte idee nie, dat die lewe
beter kán raak.
“Ek onthou my jarelange vriend Treasure wat daardie
jaar se To Write Love On Her Arms-T-hemp gekoop het
vir Internasionale Selfdoodvoorkomingsdag. Op hierdie
T-hemp het gestaan: No one else can play your part. En
daardie hemp het my meer gedra as wat ek dit gedra het.
Ek het ’n maand of twee by Treasure op sy bank gebly. Hy
het geweet ek sukkel, maar hy het my nooit gedwing om
oop te maak of te praat nie. Hy was net altyd daar: stil,
rustig en reg om ’n rondte FIFA te speel of ’n gatsby te deel.
By hom het ek geleer: If we can’t show up for each other
in our darkest days, how do we deserve each other on our
brightest days?
“My redes vir lewe is vandag die dinge wat vir my die
grootste vreugde bring, en dit is vir seker baie sterker as
my redes vir doodgaan. Ek is ook nie naïef om te dink ek
is heeltemal vry van daardie gedagtes nie. Ek voel hulle
bekruip my soms, sonder om paniek te veroorsaak. Want
soms haat ek my gunstelingliedjies om geen rede nie, en
soms wens ek ek kon meer doen en minder dink. Soms is
ek bang vir môre, vir die toekoms, vir myself.
“Nie almal wat ’n selfdoodbrief skryf, kan jare later met
nuwe oë daarna kyk nie. Ek herken amper nie meer die
Ivor wat die brief geskryf het nie, en tog weet ek hy is nie
heeltemal weg nie. Ek weet hy gaan my lewe lank lewend
versteek in my hart en kop wees. Maar hy sal nie weer so
sterk met my praat nie. Dit is die verskil tussen ’n slagoffer
van depressie en ’n vegter téén depressie.
My gebed is dat jy wat dit oorweeg om jou laaste brief
te skryf nou sal hoor en glo en dit in jou hart sal vasmaak:
Nie een van ons weet of môre beter gaan lyk nie, maar dit
is die moeite werd om wakker te bly en te probeer.”
* Bestel Kies die lewe – leer dans in depressie hier:
* Ivor Swartz se eerste boek, Die verlore seun vannie Gaatjie (Lux Verbi, 2020) was ook biografies van aard. Daarin vertel hy van sy grootwordjare in Grabouw, en hoe hy as 15-jarige in die tronk beland het. Hoe hy die Here se genade gevind het. Vandag beskik hy oor ’n honneursgraad in teologie wat hy aan die Universiteit van Pretoria verwerf het. Ivor en sy vrou Nadine het ’n seun, Luther.
* Lees ’n onlangse onderhoud met Ivor Swartz in Kerkbode.