Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

My stryd met drank sedert my studentedae: ‘Met die genade van Bo pak ek dit dag ná dag aan …’

Anne-Marie Coetzee het alkohol ontdek toe sy ’n eerstejaarstudent was. Dit het haar van al haar sorge laat vergeet. Sy was daarvan oortuig dat drank haar selfvertroue sou gee en haar angs onderdruk. Sy sou op ʼn harde manier die donker kant daarvan ontdek …

Anne-Marie Coetzee (nou 56) woon in Montagu in die Wes-Kaap. Sy het in Brandfort in die Vrystaat grootgeword as deel van ʼn hegte gesin. “Maar,” vertel sy vandag, “my kinderjare was eensaam, ten spyte van ons gesonde ouerhuis. Ek was 11 toe ek koshuis toe moes gaan. Hier was ek ’n ma-figuur vir my sussies en boetie. Ek het nooit regtig maatjies gehad nie en was toe reeds angstig.”

Ná skool het sy ’n sekretariële kwalifikasie sowel as een in residensiële kindersorg aan die Pretoria Technikon verwerf. Drank was volop en sy het gou ook voorskrifmedisyne begin misbruik.

“Ek het my behoefte aan drank en dwelms bevredig deur skuld te maak, keer op keer. In ʼn stadium het ek van my besittings begin verkoop. Wat ek nooit sal vergeet nie is die slag toe ek my kosbare klavier vir R300 verkoop het – drankgeld vir ʼn dag.”

LEES OOK: ‘Ek is ’n alkoholis, maar die Here het ’n saak met my,’ sê Jaaco Rademeyer

ʼn Deel van my onskuld het gesterf’

Sy onthou die donkerste oomblik in haar lewe: “Ek is jare gelede seksueel aangerand deur een van die mense by wie ek gewerk het. In daardie tyd het ek ʼn troetelvoëltjie gehad met die naam Toontjies. Dit was ʼn pragtige blou ringnek. My hele lewe het om Toontjies gedraai; ons was onafskeidbaar. Waar ek ook al gegaan het, het Toontjies saamgereis.

“Die man wat my misbruik het, is oorlede en ek het sy begrafnis bygewoon. Ek was vol woede en onbeantwoorde vrae. Ná die begrafnis is ek huis toe. Ek het onmiddellik begin om my sorge te verdrink. Toontjies het, oudergewoonte, om my voete rondgespeel. Ek was onder die invloed en het per ongeluk op hom getrap. Hy is in my hande dood.

“Kyk, alkoholverslawing ís moeilik. Want alkoholgebruik is sosiaal aanvaarbaar. Wanneer ek ’n drankie weier, sê mense baiekeer vir my: ‘Ag, man, enetjie sal nie ’n verskil maak nie.’ Of: ‘Net ’n alkoholis drink niks nie,’ vertel bekende sakeman Jaaco Rademeyer in sy #liggetuienis-video op LiG se YouTube-kanaal.

“Daardie dag het ʼn deel van my onskuld gesterf. My lewe was onuithoudbaar. Drie dae later sou ek probeer om myself om die lewe te bring.”

Iewers in 1998 het Anne-Marie se familie ingegryp. Haar eerste besoek aan ʼn rehabilitasiesentrum het gevolg. Dit was ’n paadjie wat sy daarna dikwels sou stap.

Deur die jare is sy in nie minder nie as agt rehabilitasiesentrums opgeneem, elke keer vir ʼn drie weke-behandelingstermyn.

Anne-Marie het, te midde van haar stryd teen verslawing, nog ʼn uitdagende kruin oorwin: In Maart 2018 het sy Everest  aangedurf, 5 364 meter bo seespieël. Foto verskaf

Vonkelwyn op Kilimanjaro

“Ek was ʼn jaar lank sober ná my eerste behandeling toe ek besluit het om Kilimanjaro uit te klim. Dis 5 895 meter bo seespieël. Ek het besluit dat as ek hierdie berg kon oorwin ek tot enigiets in staat is, selfs om weer te begin drink.

“Op 1 Januarie 2000, om 05:45 daardie oggend, het ek Uhuru-piek bereik. ʼn Amerikaner het my ʼn glasie vonkelwyn aangebied, wat ek toe uitgedrink het. En ek het weer besef hoe uitdagend, onvoorspelbaar en kragtig hierdie verslawingsiekte is.”

Anne-Marie was die volgende nege jaar in en uit rehabilitasiesentrums. Tydens haar laaste behandeling was sy drie maande lank ʼn pasiënt. Daarna is sy na ʼn halfweghuis, ʼn soort oorbrugging na die buitewêreld.

In dié tyd het die personeel haar eendag in die vroeë oggendure in die swembad aangetref waar sy byna verdrink het.

“Tydens hierdie rehabilitasie het ek ʼn spesiale oomblik beleef toe ek besef het dat die lewe God se geskenk aan my is. My geskenk aan Hom is wat ek daarmee doen. Die berader het ook hier vir my gesê dat die lewe my niks skuld nie.”

Dit was omdat sy nooit aan haarself erken het dat sy ʼn alkoholis is nie dat sy nie vroeër gerehabiliteer is nie. Dit, reken Anne-Marie, was destyds die keerpunt.

Hierna was sy 14 jaar lank sober. Maar, sê sy, sy het gemaklik geraak en vergeet hoe slu en gevaarlik die siekte is. In die tyd toe sy van niks afhanklik was nie het die woorde wat sy by Alkoholiste Anoniem (AA) geleer het haar bygebly: “Daar is geen belofte dat dit maklik sal wees nie.” Dié sober tyd was die beste jare van haar lewe.

Sowat ʼn jaar gelede het sy weer teruggeval omdat sy vergeet het hoe magtig verslawing is. Maar sy het weer opgestaan. Vandag is sy sober nadat sy haar by Optima@RustenVrede, ʼn psigiatriese kliniek, laat opneem het. Hier het sy ook nader aan God gekom. Sy is nou weer gesond.

Everest en ander kruine

Anne-Marie het, te midde van haar stryd teen verslawing, nog ʼn uitdagende kruin oorwin: In Maart 2018 het sy Everest  aangedurf, 5 364 meter bo seespieël.

“Die uitdagendste deel van die Everest-klimtog was ongetwyfeld die erge koue. Soms het ek getwyfel of ek dit sou baasraak wanneer ek die reddingshelikopters gehoor het. Tog was daar ook hoogtepunte, veral in die verskillende verhoudings wat ek met die ander spanlede gesmee het. Ook my ontmoeting met die Nepal-inwoners, wat in minderbevoorregte omstandighede leef, het my opnuut laat besef hoeveel jou vermoë om te gee vir ander kan beteken.”

Volgens Anne-Marie is die grootste geskenk van die reis met verslawing die ontwikkeling van ʼn kinderlike geloof dat niks onmoontlik is as jy werklik glo nie.

 “My liefde vir die natuur en my soeke na balans in die natuur is van die redes waarom ek droom – en dan nie bloot oor berge wat my simbolies uitdaag nie, maar inderdaad werklike berge.”

Anne-Marie vertel dat sy steeds ʼn stryd teen verslawing voer. “Maar met die genade van Bo pak ek dit dag ná dag aan.”

Jesus vul die leegheid

Haar raad aan ander verslaafdes is om nooit hoop te verloor nie. “Ek wil hê mense moet besef dat verslawing nie morele verval is nie, maar ʼn erkende siekte. Die stryd is nie tussen goed en kwaad nie, maar eerder tussen ʼn siek mens en een wat genesing wil hê.

“Almal moet weet dat daar hoop is, en dat dit moontlik is om verlore drome te laat herleef. Verslawing ken geen ouderdom nie en dit maak nie saak hoeveel van jou lewe daardeur beïnvloed is nie. Om vry te wees van verslawing bring jou die vryheid om weer jou drome te bewaarheid.

“My hoop is dat iemand met my storie sal identifiseer. Sal weet dat herstel en ʼn beter lewe om die draai is, en dat jy jou lewe sonder verslawing kan geniet. Jy het nie nodig om die leegheid in jou lewe te vul nie; Jesus is beskikbaar om daardie leegheid te vul.

“Ons kan ons verslawing erken, maar ook in Jesus se krag die strikke vermy. Ons kan ons kop lig en ons lewe met God se beloftes leef.

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Projek 108

Ons wil ‘n dringende beroep op medegelowiges doen om ons te help om die Evangelie te versprei – voordat dit te laat is. Jou donasie kan iemand se storie herskryf – nou en hierna…

Hulle Wag

Ons kan die rede wees dat iemand vir die eerste keer vir Jesus leer ken…

Kinderpret-leesreeks

Beleef ‘n avontuurlike leesreis met ons Kinderpret-leesreeks! Vir jong lesers, elke boekie vol pret en leersame avonture…

Kinders van die Lig

Gee geloof en hoop aan kinders deur geloofsboeke in kinders se hande te plaas…

Laat ‘n Ligspoor

Help ons om die boodskap van lig uit te dra en verander kinders se lewens deur die krag van stories…

BybelBouBlokke

Bou saam aan ‘n geestelike toekoms deur die geloof van kinders, gesinne, en lidmate te versterk…

KinderKersKous

Gee ’n geskenk van hoop aan kinders deur hulle lees-met-begrip-vermoë te bevorder en hul geestelike ontwikkeling te ondersteun…

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF