Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

‘My tannie dra ’n handbyl vir beskerming,’ vertel ’n Oekraïnse vrou uit Klerksdorp

DEUR ILETTE COETZER

Olena Maree kom oorspronklik uit Oekraïne. Deesdae moet sy magteloos toekyk, derduisende kilometer ver, hoe haar familie probeer oorleef.

In Klerksdorp sit en luister sy na haar mense se boodskappe: hoe haar 50-jarige tannie deesdae ’n handbyl saam met haar dra om haar teen die Russiese soldate te beskerm. Brûe en hospitale in Mykolaiv en Voznesensk is opgeblaas, en dié dorpe is vol militêre voertuie.

Dis waar Olena se familie woon. Daar waar die lyke meer en meer word en in industriële yskaste gebêre word.

‘Wanneer gaan dié malligheid ophou?’

Mykolaiv is strategies geleë in die suidooste van die land, en vorm ’n korridor met Rusland se grens. Daar was reeds vele pogings om die gebied te beset, en missielaanvalle is byna daagliks geloods.

LEES OOK: ‘Dáárdie skade aan ’n kind is vir altyd’

Olena vertel hoe die inwoners nie toegelaat word om saans ligte aan te skakel nie, sodat die Russiese soldate nie kan sien waar daar mense bly nie. Elke huis se kelder is as ’n skuiling ingerig.

En elke dag hoor die inwoners hoe die koeëls om hulle fluit …

Die internet is intussen daar herstel, wat oproepe moontlik maak. “Ons leef in voortdurende vrees,” sê Olena. “Die oorlog het ons lewe oorgeneem. Ons oorleef van die een nuusberig tot die volgende. Ons huil saam ná elke aanval, en is bly oor elke klein oorwinning.

“Wanneer gaan dié malligheid ophou?”

‘Oupa het nooit kon dink …’

Olena vertel haar oupa is reeds 90 jaar oud. Haar familie is Russiessprekende Oekraïners, soos die meeste inwoners in die suidooste van die land.

Haar oupa het 70 jaar gelede Oekraïne toe geïmmigreer nadat daar destyds hongersnood in Rusland ontstaan het. Hy het die Tweede Wêreldoorlog oorleef – as ’n gevangene in ’n Nazi-konsentrasiekamp waar hy twee broers aan die dood afgestaan het.

“Oupa het nooit kon dink hy sou die dag beleef dat Russiese soldate Oekraïne onder die voorwendsel van ‘denazifikasie’ vernietig nie.”

Olena het jare lank in Dnipro gebly, voordat sy saam met haar man David Suid-Afrika toe is en hulle hulle in Klerksdorp in Noordwes kom vestig het.

LEES OOK: Die dood van ’n kind is nie ’n lewenslange vonnis nie’

Die meeste van haar familie het besluit om in Oekraïne agter te bly, ten spyte van die voortslepende geweld. Haar tannie is ’n haarkapper, dié se seun ’n tegnologie-spesialis.

Olena se bejaarde oupa het nie kans gesien om, soos soveel ander, te vlug nie. Olena kon egter daarin slaag om haar ma Suid-Afrika toe te bring. Hier ondersteun hulle mekaar en kommunikeer daagliks met haar ma se suster. Al is dit bloot om te bevestig dat hulle nog veilig is.

’n Soort ‘normale’ bestaan

Tans is kommunikasiekanale stabiel en kos is geredelik beskikbaar. Daar is ook sentrums opgerig waar voedsel, warm klere, medikasie en komberse aan haweloses versprei word. Boere en klein ondernemings voorsien voorraad aan sopkombuise om etes aan inwoners te verskaf wat nie meer na hulleself kan omsien nie. Gewone mense deel dit wat hulle het met ander mense.

Tussendeur probeer almal terugkeer na ’n soort “normale” bestaan. Inwoners probeer hul sakeondernemings se deure oophou en met hul daaglikse werksaamhede voortgaan.

Maar dis nie maklik nie. Daar is feitlik nie meer ’n ekonomie om van te praat nie. Die boere se landerye is met landmyne besaai, en elke dag word ontploffings gehoor soos die landmyne deur kundiges skadeloos gestel word. Boere doen alles in hul vermoë om hul landerye weer te bewerk, maar die landwye voedseltekorte duur voort.

Hoewel Russiese troepe in sommige dorpe teruggedryf is, gaan die missielaanvalle voort. Administrasiegeboue, hospitale, winkelsentrums, woonstelblokke en militêre basisse is in onlangse aanvalle in Mykolaiv vernietig.

Olena is dankbaar dat haar familie tot dusver die aanvalle oorleef het, maar sy vertel dat baie van haar vriende nie so gelukkig was nie.

‘Vrees is ’n konstante metgesel’

“Ek kan nie beskryf wat dit emosioneel aan my en aan ons gesin doen nie,” sê sy. Vrees is ’n konstante metgesel. “Ons vrees vir ons geliefdes se lewe. Ek is bitter as ek sien hoeveel onskuldige mense in hierdie sinnelose oorlog ly.” Massagrafte is nie ’n ongewone gesig nie.

Olena het twee peuters, onderskeidelik twee en vier jaar oud. Sy sê sy kan haar nie indink hoe ’n ma die ellende in die beleërde dorpe hanteer nie. Daar is geen toegang tot basiese noodsaaklikhede nie.

Baie sien nie kans vir die voortslepende geweld nie en het na naburige lande gevlug. “Alles is oornag van hulle weggeneem. Ouers skryf die name en kontaknommers van die naaste familielede op hul kinders se lyf om hulle ’n kans op ’n beter lewe te gee indien iets met hulle (die ouers) gebeur.”

Olena weet nie of hul huis in Dnipro steeds staan nie; hulle kan nie kontak maak met hul bure nie.

Daar is ook ’n oorkoepelende bekommernis. “Ons vrees vir die voortbestaan van Oekraïne as ’n soewereine land,” sê sy. “Ons het so ’n lang en moeilike pad geloop om ’n demokratiese nasie te word. Nou moet ons weer vir ons voortbestaan en vryheid veg, en weer met menselewens daarvoor betaal.”

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF