Aan die begin van 2022 het dit goed gegaan met my en my gesin. Die kinders was gelukkig by die skool en het mooi presteer, ons huwelik het gefloreer, ons was finansieel goed daaraan toe. Ons het in alle opsigte ’n voorspoedige lewe gelei.
Daar was wel een minder goeie ding: My verhouding met die Here was nie so wonderlik soos die res van my lewe nie. Om die waarheid te sê, al het ek in God geglo, was daar geen sprake van ’n verhouding met Hom nie.
Toe, eensklaps, word my teerpad ’n growwe grondpad: Ek is met borskanker gediagnoseer. Ek was 37 jaar oud. Nou het niks meer sin gemaak nie, my lewe het as ’t ware aan skerwe gelê.
En ek was rasend bekommerd: Wat sal van my twee pragtige kindertjies word? Hulle kan tog nie sonder ’n mamma grootword nie …
LEES OOK: ‘My droom is Mev Botha op my doodsertifikaat,’ sê kankerlyer voor troudag
Ek was bang, báie bang
Ek onthou die dag toe ek die nuus ontvang het soos gister. Ek het by die venster uitgestaar. Die blink toekoms wat ek net die vorige dag nog so helder kon sien, het in ’n oogwink verander. Ek het my vasgestaar teen ’n berg bekommernisse.
Die gewas was groot. Op die skanderings van my bors het dit kompleet gelyk soos ’n suikerpot wat op die grond geval het, met duisende “korrels” wat oral uitgestort het.
Ek was bang, báie bang. Die pad wat voorgelê het, was vol onsekerhede. Talle doktersafsprake het voorgelê, verskillende soorte toetse. Ek het mediese terme aangeleer waarvan ek voorheen niks geweet het nie.
My dae is met trane gevul, en met baie gebede.
En dit was daar, tussen die stof en die klippe op my grondpad, dat ek God ontmoet het. Ek het sy hart gehoor, en dit begin verstaan. En ek het sy bonatuurlike vrede beleef.
Ek sou in die loop van die volgende ses maande altesaam 20 chemoterapie-sessies moes deurmaak. Die dokters waarsku jou vooraf dat dié soort behandeling etlike newe-effekte inhou. Hulle vertel jou wat alles verkeerd kan loop en hoe siek jy gaan voel.
Maar by my was dit toe heel anders. Die Here het my deur elke chemoterapie-sessie gedra; die newe-effekte was minimaal.
Die krag van geloof
Die Here het my in hierdie tyd na verskillende plekke en verskillende mense gelei, ook vreemdelinge. Hier het ek telkens die boodskap ontvang dat ek volkome genees sal word.
En dit was asof God se Woord eensklaps vir my “lewe” gekry het. Asof Hy self sekere Bybelse begrippe vir my kom oopbreek het.
Hy het, onder meer, vir my uitgelig hoe sterk die krag van geloof is. Hy het my na Petrus gewys, wat op die water kon loop terwyl hy geglo het; die oomblik toe hy begin twyfel, het hy gesink. En na die vrou wat aan bloedvloeiing gely het, wat deur haar geloof genees is. En na Jaïrus se dogtertjie, wat as gevolg van sy geloof uit die dood opgewek is.
Bogenoemde is maar enkele voorbeelde uit baie.
Gewapen met die beloftes uit God se Woord het ek en my ouers, familie en vriende saam gebid vir volkome genesing. En geglo dat die Here dit sou bewerkstellig.
Ná slegs vier chemoterapie-sessies was daar geen teken van die gewas nie; al die “suikerkorrels” was opgelos. Dít is net genade.
Ek moes wel steeds die oorblywende chemoterapie-sessies voltooi, en daarna ook ’n mastektomie ondergaan. Tydens die operasie het die dokter ’n stukkie weefsel vir die aanwesigheid van kankerselle getoets om te bepaal hoeveel van die weefsel verwyder moes word.
Die toets was positief en daar is gevolglik besluit om ook my limfkliere te verwyder.
Ek was platgeslaan toe ek ná die operasie wakker word en hoor dat daar wel kankerselle gevind is. Die dokter het egter verduidelik dat alles wat verwyder is weer na ’n laboratorium gestuur sou word.
’n Bonatuurlike soort vrede
Toe het ek eenvoudig alles aan die Here oorgegee. Ek was moeg en moedeloos. Ek het nie kans gesien vir verdere behandeling nie. Ek het ook vir my man gesê dat ek nie sal glo wat die dokters vir my sê nie; ek sal eerder vashou aan God se belofte dat ek volkome genees is.
Daarop het ek ’n bonatuurlike soort vrede ervaar en my nie verder bekommer nie.
Ongeveer ’n week later het ek ’n oproep van die dokter ontvang. Hy het die wonderwerk bevestig: Al die weefsel wat na die laboratorium gestuur is, was kankervry.
Dit was vir my weer ’n bewys van die krag van geloof, van God se onbeskrylike genade. En van die feit dat wonderwerke steeds gebeur.
Ek kan vandag, twee jaar later, getuig dat ek deur God se genade en deur die geloof in Jesus Christus ten volle genees is.
- Landie Saaiman is ’n prokureur van Pretoria. Sy is getroud met Gerhard (42) en hulle het twee seuns Eben (11) en Tristan (7).
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.