DEUR ELSIBE LOUBSER MCGUFFOG
Die lewe is nie altyd ’n lied nie; ons is in elk geval nie altyd daartoe in staat om saam te sing nie. Maar daar is hormone in jou lyf wat nie kan wag om jou te help nie. Span hulle gerus in!
Hoe maak jy jou hartjie (weer) bly?
Dis allereers nodig om te weet dat dit nie eintlik jou hart is wat bly word nie; dis jou (komplekse) senuweestelsel. Om presies te wees: Dis die monoamien neuro-oordragstowwe , dit wil sê die chemiese boodskapdraers in die liggaam, wat blydskap bring.
LEES OOK: ‘God wys vir my in ’n droom om vir kankerpasiënte, hongeres en bejaardes te begin sorg’
Ons moet dus eerder vra: Hoe maak ek my hormone bly?
Goeie daad ’n ‘goed voel’-inspuiting
Wendy Golding (54) van die Boland vertel dat sy haar nooit sou kon voorstel dat sy as vrywilliger in ’n tehuis vir bejaardes sou gaan werk nie. Maar toe haar pa se gesondheid begin verswak, het sy besef dat haar daaglikse hospitaalbesoeke hom opgekikker het – én vir haar.
Sy het met elke besoek haar pa se hondjie Mopsey saam met haar geneem. Net daar is ’n saadjie geplant. Drie jaar ná haar pa se dood is Wendy deur ’n medehondeliefhebber aangemoedig om haar eie hond Bailey die Kennel Union of Southern Africa (KUSA) se Canine Good Citizen-program te laat deurloop sodat hulle by Pets as Therapy (PAT) kon aansluit.
So gesê, so gedoen. Vrywillige werk is nou deel van Wendy (en Bailey) se weeklikse roetine. Wendy beskik oor ’n doktorsgraad in letterkunde en filosofie, sy werk in die filmbedryf en haar lewe is propvol. “Ek sal egter nooit my uur op ’n Vrydag by die ouetehuis prysgee nie,” vertel sy. “Ek leer sulke wonderlike mense ken; hulle vertel my die wonderlikste stories uit toeka se tyd. Van hierdie stories ontroer my só dat ek in trane daar wegry.
“Maar bowenal is dit ’n vreugde om te sien hoe my hond die bejaarde mense help om weer te lag.”
Wendy sal dit dalk nie agterkom nie, maar haar goeie daad op ’n Vrydag help haar liggaam om allerlei “goed voel”-hormone vry te stel. Byvoorbeeld:
oksitosien, ’n neuro-oordragstof wat vrygestel word wanneer ons vertrouensverhoudings bou, wanneer ons tuis voel en veilig voel in ’n groep;
serotonien, wat verband hou met ’n gevoel van respek of status. Dis immers nie alle honde-eienaars wat by die program mag aansluit nie;
dopamien, wat vrygestel word wanneer jy weet dat jy ’n doelwit kan bereik;
endorfien, wat vrygestel word wanneer jy lag of huil.
Gebruik jou hormone!
Sodra jy bewus word van die rol wat bogenoemde hormone in jou lewe speel, kan jy gerus begin om gesonde gewoontes aan te leer of te koester wat dit sal stimuleer:
Vir dopamien
– Sorg dat jou lysie daaglikse doelwitte realisties is;
– Pak ’n haalbare nuwe stokperdjie of kursus aan;
– Vind (volgens jou unieke verwagtinge) die ideale lewensmaat;
– Vind die regte aansporingsmaatreël, die een wat jy weet jou sal motiveer: roomys; winskopiejag; uiteet; ’n glas wyn; goeie koffie; alleentyd, leestyd. Kies altyd die beloning wat die minste negatiewe gevolge inhou.
– Sien die moontlike dopamienvrystelling raak en vier dit: die werkaansoek wat jy op die punt is om te stuur; die perfekte parkeerplek wat jy net buite die winkel vind; die laaste paar steke van jou hekelwerk.
Vir serotonien
– Reël ’n bring-en-braai met duidelike aanwysings wie wat moet bring en hoeveel. ’n Gevoel van oorvloed laat serotonien blom.
– Goeie maniere is ’n status-aanduiding en dit het eweneens ’n positiewe uitwerking op serotonienvrystelling. Staan jou sitplek aan ’n ouer persoon af, of jou plek in die lang ry.
– Vind ’n groep wat jou dalk as leier sal kies. Dit kan bloot jou kinders of gesin wees, of ’n groep by die kerk of in jou gemeenskap.
– Vertel ander van jou trots as jy iets goeds vermag het.
Vir oksitosien
– Koester die verhoudings wat jou veilig en tuis laat voel.
– Vind ’n ontvanklike persoon om te ondersteun of te beskerm.
– Geniet seks met jou maat vanweë die band wat dit smee. Deel drukkies uit. Hou hande vas.
– Woon ’n musiekkonsert of sportbyeenkoms by en wees geesdriftig deel van die skare.
– Doen gemeenskapswerk.
– Gee hand wanneer jy iemand groet.
– Geniet verlengde oogkontak met jou kinders.
– Kies ’n groep wat goed is vir jou selfwaarde en selfvertroue en wat jou kalm laat voel.
– Skryf ’n brief aan ’n familielid of ’n geliefde en sê hoeveel sy/hy vir jou beteken.
– Gee baie aandag aan jou troeteldier.
Vir endorfien
Endorfien word vrygestel om pyn tydelik te verdoesel sodat jy uit ’n bepaalde situasie kan “ontsnap”. Jy kan dit op die volgende maniere laat gebeur:
– Swem in die (koue) see of swembad. Of draai slegs die kouekraan oop as jy stort.
– Draf ’n ent verder, of rek die gimnasiumsessie langer uit, as waaraan jou liggaam gewoond is.
– Kyk ’n fliek wat jou uit jou maag laat lag, of wat jou hard laat huil.
– Eet sterk kos wat jou mond laat brand.
Nuwe weë – letterlik
Hormoonvrystelling vind vinnig plaas en is van korte duur. Daarom moet jy jou “paaie na geluk” stuk-stuk uitbrei sodat die chemiese boodskappe langs vele weë kan loop en nie bloot op enkele, bekende neuro-paaie staatmaak nie. Hoekom is dit so moeilik om nuwe gewoontes aan te leer?
Eenvoudig: Jou unieke gedragspatrone word deur die senuweestelsel geprogrammeer en vasgelê. Dis byna soos teerpaaie waarop jy vinnig en maklik kan ry.
Dis aansienlik moeiliker om nuwe voetpaaie deur ’n digte woud te probeer vind. Sulke nuwe paaie sal boonop vinnig toegroei indien jy dit nie gereeld gebruik nie. As jy egter 45 dae lank op ’n nuwe voetpad loop, het jy heel waarskynlik ’n nuwe gewoonte aangeleer.
Maak vrede met kortisol
Van alledaagse irritasies tot vreesaanjaende, lewensgevaarlike oomblikke – dit is wanneer jou liggaam kortisol afskei. Kortisol is belangrik omdat dit jou liggaam se alarmstelsel is, maar dis menslik om kortisol te wil vermy.
Jy reageer dalk te vinnig op die “doen iets!”-boodskap wat kortisol uitstuur, en so ontstaan ’n tipiese gryp na ’n kitsoplossing. En dit werk – jy voel dadelik beter – maar dit kan ook die begin van ’n bose kringloop wees. Byvoorbeeld: ooreet; drank-, dwelm- of seksverslawing; om “redder” te speel; om kwade gevoelens oor alles en almal te koester; om in TV-reekse te ontsnap, of wanneer sosiale media jou lewe oorheers.
Twee nare paaiboelies
Daar is veral twee redelik-algemene toestande wat jou geestesgesondheid onder ernstige druk plaas. Die korrekte ingrypings sal help om dit onder beheer te hou. En ook dit behels, onder meer, die vrystelling van die genoemde hormone.
Depressie
Indien jy aan depressie ly, gaan jy nie sommer aan jou gelukshormone aandag skenk nie. Kry eers raad vir die groter probleem. Die bekende dr Heinz Modler verduidelik: “Serotonien is altyd beskou as die oordragstof wat, as ons te min daarvan het, depressie tot gevolg het. Vandag weet ons dis maar een aspek van depressiebehandeling en glad nie die wonderkuur wat almal gedink het dit is nie.”
Volgens dr Modler behoort depressie nie bloot met ’n voorgeskrewe klomp pille behandel te word nie. Hy sê: “Ons weet deesdae dat ’n multidissiplinêre benadering beter is. Sielkundiges, psigoterapeute en ander kundiges moet geraadpleeg word. Familie en geliefdes moet bystand bied. Hoe erger die depressie, hoe meer mense moet betrek word.”
Chroniese stres
Om dit te voorkom, word ’n kombinasie van joga, pilates, meditasie, swem, gereelde masseerterapie, asemhalingsoefeninge, osoonterapie, en ’n voedingsprogram met bepaalde aanvullings aanbeveel.
Mediese navorsing dui daarop dat ’n sterk sogenaamde swerfsenuwee (oftewel vagussenuwee), wat jou dokter deur middel van ’n elektrokardiogram (EKG) kan toets, die liggaam help om maklik weer balans te vind ná ’n stres-episode. Dit lei daartoe dat oksitosien weer in die brein geabsorbeer kan word.
Sommige medici reken viserale manipulasie – dit is die manipulasie van spesifieke organe, onder meer die hart, longe, ingewande, bekkenorgane en hul peritoneale vliese en bindspiere – kan in dié opsig help. Hierdeur word die swerfsenuwee versterk.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.